Dit was aanvanklik vir my en ander sinodegangers ‘n skok om by die onlangse sinodesitting te verneem dat daar nuut gedink moet word oor die verhouding tussen die NG Kerk en Engo sowel as gemeentelike Diens van Barmhartigheid. Dit het vrae na vore gebring soos: Hoe sal Vrystaat gemeentes se Diens van Barmhartigheid lyk wanneer instansies soos Engo nie meer daar is nie? Wat sal val, wat sal staan? Wat sal oorbly? Hoe dink gemeentes oor Diens van Barmhartigheid en wat is ons hoof-motivering om by die nood van ons gemeente, gemeenskap en wêreld betrokke te raak?
Tydens die sinodesitting is daar dan juis ‘n raad saamgestel wat die verhouding met instansies soos Engo en die vertrekpunte van gemeentes se Diens van Barmhartigheid ondersoek. Wat aanvanklik ‘n vreesaanjaende en onsekere opdrag was, blyk nou ‘n bedekte seën te wees. Dit lyk tog asof ons lanklaas behoorlik besin het oor wat Diens van Barmhartigheid regtig is. In ‘n sekere mate sou ons kon sê dat die gemeentes op verskeie maniere die gawes vir Diens van Barmhartigheid stelselmatig oorhandig het aan organisasies. Dit het nie sommer net gebeur nie. Met streng wetgewing en regulasies uit die regering se pen, is gemeentes se eie betrokkenheid in ons gemeenskappe met verskeie regulasies uitgedaag. Die skuif het soos ‘n dief in die nag gekom en noudat ons weer nuut daarna kyk, besef ons dat daar baie te leer is uit die verlede.
So, wat nou? Die Raad van Diens van Barmhartigheid bestaan uit ringsverteenwoordigers, ʼn verteenwoordiger uit elkeen van die ander bedieninge, die predikant[DLR1] van Torings van Hoop en ʼn verteenwoordiger van die Reformed Initiative for Community Development. Die Raad is tans besig met ‘n paar belangrike take:
Eerstens is om nuut te dink oor die teologie van Diens van Barmhartigheid.
- Is Diens van Barmhartigheid die kerk se werk en indien wel, waarom is dit belangrik?
- Is Diens van Barmhartigheid ‘n bediening van gemeentes, ringe en sinodes, of is dit ‘n integrale deel van gemeente-wees?
- Is Diens van Barmhartigheid net vir lidmate van die plaaslike gemeente, of is dit ook vir die ander mense in die gemeenskap?
Daarmee saam wil die taakspan kyk, reflekteer en evaluerend omgaan met instansies waarmee gemeentes, ringe en die sinode vennootskappe en samewerkingsooreenkomste het.
- Watter ooreenkomste en kontrakte bestaan daar tans en is dit effektief?
- Watter “diensverskaffers” is daar in die gemeenskap waarmee ons kan saamwerk?
- Wat is die rol en die posisie van hierdie vennootskappe?
Terwyl die Raad na nuwe ooreenkomste kyk en besin oor diens van barmhartig binne die gemeentes, ringe en die Vrystaat[DLR2] Sinode is daar geen veranderinge waaroor gemeentes hoef te bekommer nie. Die Raad het besluit om gereeld aan verskeie partye te kommunikeer soos ons vordering maak.