Skip to content Skip to sidebar Skip to footer

Die Ring van Bloemfontein-Noord

Deur Mariëtte Odendaal

’n Baken van hoop vir armes en middelafhanklikes

“Die NG Kerk De Bloem is ’n semi-middestadgemeente met baie beperkte hulpbronne, maar vele bedieningsmoontlikhede. Uit die aard van die gemeente se samestelling poog ons voortdurend om die gemeente se werksaamhede uit te brei; iets waarmee die sinodale ondersteuning van R30 000 ons finansiële las baie help verlig.”

Ds Jannie Smith
Ringskriba: Ring van Bloemfontein-Noord

Die NG Kerk Vrystaat het in die 2023/24-boekjaar ‘n bedrag van R30 000 aan elkeen van die 15 Vrystaatse ringe beskikbaar gestel om gesamentlike ringsprojekte te ondersteun. Die versoek was dat diens in samewerking met ‘n sinodale bediening gelewer moes word. 

“’n Wyse persoon het eendag gesê: Moenie iets begin waarmee jy nie kan volhou nie. Wat die Ring van Bloemfontein-Noord betref, is daar verlede jaar by die sinodale bediening Diens van Barmhartigheid ingeskakel; iets waarop ons sedertdien voortbou,” vertel ds Jannie Smith, skriba van die Ring van Bloemfontein-Noord en predikant van die NG Kerk De Bloem. Ons het meer gaan uitvind.

Jannie, vertel vir ons meer van die barmhartigheidsdienste wat deur die De Bloem-gemeente aan jul gemeenskap gelewer word.

“Die NG Kerk De Bloem is ’n semi-middestadgemeente met baie beperkte hulpbronne, maar vele bedieningsmoontlikhede. Uit die aard van die gemeente se samestelling poog ons voortdurend om die gemeente se werksaamhede uit te brei; iets waarmee die sinodale ondersteuning van R30 000 ons finansiële las baie help verlig het.

“Tans lewer ons op ’n weeklikse grondslag dienste soos die verskaffing van kospakkies aan ongeveer 35 gesinne en 150 verstandelik-beperkte lidmate wat in losieshuise in ons omgewing woon. Die kospakkie-uitgawe beloop sowat R35 000 per maand.”

“Naas hierdie gesinne is daar ook skuilings (shelters) vir hawelose mense binne ons gemeentegrense.  Daar is gereeld berigte in die media oor die nood in Bloemfontein wat juis hier sy oorsprong het.”

“Ons loods ook voortdurend uitreike om dwelm- en alkoholmisbruik te probeer bekamp in ’n poging om  die omgewing misdaadvry te probeer kry. Dit word onder andere gedoen deur opruim-aksies wat terselfdertyd ook ekologies deel uitmaak van ons roeping.”

Ontwikkel jul gemeente dan nie op hierdie manier ’n kultuur van mense wat net hande uithou en ontvang nie? Hoe dra julle by tot die ontwikkeling van behoeftige mense se menswaardigheid?

“Dis ’n goeie vraag en ’n mens kan maklik die situasie verkeerd hanteer. Die gemeente se ‘beloningstelsel’ vir die uitreik van kospakkies berus op persone wat help met die skoonmaak van die kerk en die kerkterrein. Hulle ontvang dus hul kospakkies op grond van dienste wat gelewer word en dit werk uitstekend.”

“Die voordeel hiervan is dat mense buite die gemeente ook blootstelling kry aan die gemeente se werksaamhede en sodoende deur die evangelie bereik word. Die stelsel bevorder ook almal se menswaardigheid omdat die gee van ’n kospakkie nou nie meer net die uitdeel van ’n ‘aalmoes’ is nie. “

“Danksy hierdie sisteem is daar talle lidmate wat deel geword het van die gemeente se werksaamhede en woon hulle nou ook gereeld eredienste by. Die afgelope jare was daar ongeveer 35% meer persone in die eredienste as voorheen.”

Met watter uitdagings het julle te kampe?

“De Bloem brei ook voortdurend uit deur ’n multi-kulturele bediening onder alle mense van die omgewing te vestig waar almal in ons gemeente welkom is.”

“Dit is ’n baie moeisame, tydrowende proses omdat baie skeidsmure afgebreek moet word ten einde nuwe lidmate te help integreer.“

Waaroor is julle baie dankbaar?

“Ons het alreeds so ver gevorder dat swart- en kleurlinggesinne ingeskakel is by al die werksaamhede van ons gemeente.”

“Dit gebeur dikwels dat dit juis hiérdie gesinne is wat aan arm blanke lidmate etekaartjies vir geleenthede skenk. Daar is ook kleurlinglidmate wat tans in die kerkraad dien en uitstekende werk in die gemeenskap doen.”

“De Bloem is ook deurgaans besig om haarself te vestig as ’n sentrum vir die totale gemeenskap van die Navalsig- en Hilton-woonbuurte. Die gemeente se fasiliteite word byvoorbeeld beskikbaar gestel vir SASSA-pensioenaansoeke,  gemeenskapspolisiëring-vergaderings en -konferensies, geestesgesondheidswerkswinkels, sosiale funksies en talle meer.”

Kontak

Vir meer inligting kan ds Jannie Smith by jsmith@debloem.org.za gekontak word.

116 | Maatskaplike NOODLYN