Deur dr Leon M Foot,
Uitvoerende Amptenaar van Bedieningsbegeleiding en Skriba van die Moderamen
“U luister na my stem in die môre, Here, in die môre terwyl ek voor U verskyn en op U wag.”
Psalm 5:4 AFR83
Hoe begin jou dag? Hoe word jy wakker?
Sommige mense word wakker, ander skrik wakker. Sekere mense word self wakker en ander het ‘n wekker nodig. Sommige het koffie nodig!
Ek het vriende wat vieruur in die oggend al opstaan – ek weet, want dan stuur hulle vir my WhatsApp-boodskappe! En ek ken mense wat nie voor agt gepla moet word nie. En ek ken mense wat ‘n hele dag lank kan slaap!
Dawid skryf in Psalm 5 vers 4 oor sy opstaanroetine: Hy praat met God. U luister na my stem in die môre, Here, in die môre terwyl ek voor U verskyn en op U wag.
Ek aanvaar die son was sy wekker – of sy niere as dié hom vermaan in die nag. Maar wanneer hy opstaan, begin hy sy dag met God. Wat hulle gepraat het, weet ons nie. Dalk het hy soos Moses gevra: Versadig ons in die oggend met u troue liefde, sodat ons al die dae van ons lewe kan juig en bly wees (Ps 90:14). Dalk is dit die belydenis en versugting wat hy later in Psalm 143 uitspreek: Laat my elke môre u liefde ondervind, want in u stel ek my vertroue. Wys my die pad wat ek moet loop, want my hoop is op U gevestig.
Mag jy môre opstaan met ‘n lied in die hart. Dalk die lied van Psalm 5 soos TT Cloete dit berym:
Gee, Here, aan my woorde aandag
Sodat U my versugting hoor;
Ek lê dit biddend aan U voor.
U antwoord bly ek soggens afwag,
God, in my onmag.
| verskaf: Dr Leon M Foot, Uitvoerende Amptenaar van Bedieningsbegeleiding en Skriba van die Moderamen