Skip to content Skip to sidebar Skip to footer

Belydenisklasse van NG Kerk Fichardtpark en RCA kuier oor en weer

Op Saterdag 29 April 2023 het die belydenisklas van die NG Gemeente Fichardtpark, Bloemfontein en die Jeuggroep van die RCA Gemeente Immanuel in Durban saam gekuier.

Die Bloemfonteiners het vir hulle belydenisklaskamp na Durban gegaan en het as deel daarvan die Durbaniete genooi vir aandete. Dit is die vrug van ‘n verhouding wat oor ‘n paar jaar tussen hierdie twee gemeentes opgebou is. Die afgelope paar jaar het die belydenisklas van Fichardtpark ‘n erediens by die RCA Immanuel bygewoon en is dan daar getrakteer met ‘n egte Indiese middagete en gasvryheid. Hierdie jaar het die ontmoeting weer op die Saterdagaand begin, nadat die ontmoetings gereël is deur die onderskeie leraars, ds Wessel Cronje van die RCA en dr Enrico Casaleggio van die NG Kerk. Ds Gerhard Meyer van die NG Gemeente Langenhovenpark het ook die toer meegemaak en was in die ontmoeting tussen die groepe goud werd.

Die volwassenes was verstom om te sien hoe die katkisante van albei groepe spontaan met mekaar begin kuier en vriendskappe gebou het. Die idee was om eers ‘n ysbreker te hê, sodat die kinders mekaar kon leer ken. Die ysbreker was toe nie nodig nie, aangesien die katkisante mekaar onmiddelik gevind het en selfs ten spyte van taalverskille hartlik saam gekuier het. Die katkisante was verbaas om te vind dat hulle as tieners almal dieselfde uitdagings en “issues” het.

Behalwe dat die Vrystaters die geleentheid gekry het om die Durbaniete aan die Afrikaanse kos en kultuur bloot te stel, het hulle ook in klein groepies Bybelstudie gedoen uit Romeine 3. Die katkisante, wat op daardie dag juis ‘n moskee, ‘n Hindoetempel, ‘n Hare Krisjnatempel en Rama Krishnatempel besoek het, het diep onder die indruk gekom van God se redding, uit genade alleen.

Die volgende dag het die twee groepe weer saam gekuier tydens die erediens en ete by Immanuelgemeente. Die saak wat die leraars veral bybly, is die spontaneїteit wat tussen die kinders geheers het en dat die besoek op ‘n natuurlike manier ‘n slag geslaan het vir kerkeenheid op voetsoolvlak.

‘n Belangrike deel van die belydenisklas se uitreik na Durban is, behalwe om bogenoemde tempels te besoek, ook aktief sendingwerk onder Moslems te doen. Hulle ontvang deeglike opleiding daarvoor en hulle kom almal terug na die gemeente met die getuienis dat hulle verhouding met die Here verinnig het – iets wat ook ‘n sneeubal-effek in die gemeente het.

Gemeentes wat belangstel om hulle belydenisklasse (of ander groepe) ook op so ‘n uireik te stuur en inligting daarvoor nodig het, is welkom om dr. Casaleggio per e-pos te kontak by enrico.casaleggio@absamail.co.za

116 | Maatskaplike NOODLYN