Skip to content Skip to sidebar Skip to footer

As Philippolis Stillepolis word – ’n Paasfees-retraite

Deur Mariëtte Odendaal

“My hoop is nie dat mense met groot ‘geestelike hoogtes’ huis toe sal gaan nie, maar dat hulle met ’n eenvoudiger, dieper vertroue terugkeer; dat God se teenwoordigheid genoeg is – selfs in die stilte – en dat nuwe lewe nie deur meer doen kom nie, maar deur rus in Hom.”

Ds Louwrens Scheepers
Aanbieder: Paasfees-retraite

Paasfees is die hoogtepunt op die Christelike kalender; die herdenking van wat Jesus se lewe en dit waarvoor Hy gestaan het, naamlik vergifnis, heling en vrede, opnuut vir ons as sy navolgers betekenis kry.

As jy dan nog so bevoorreg is om dit tydens ’n Paasfees-retraite te kan ervaar, kry dit soveel meer betekenis. Ds Louwrens Scheepers van Philippolis het vanjaar so ’n retraite daar aangebied.    

Hy vertel: “Philippolis, die oudste nedersetting in die Vrystaat, is ’n klein, rustige dorpie met ’n ryk en soms pynlike geskiedenis. Hier dra die grond en die ou geboue steeds die stories van Boesmans, Griekwas, sendelinge, boere, Engelse soldate, oorlog, ontworteling en oorlewing. Die verlede voel nie ver nie – dit bly naby; amper tasbaar in die wind, die oop vlaktes en die diep stilte wat oor die dorp lê.

“Philippolis bied iets besonders wat ’n mens selde op ander plekke vind: ’n ruimte waar stilte kan heel en waar geskiedenis soms nuwe woorde kry. Tussen die witgekalkte mure, onder die helder Vrystaatse lug en te midde van die stadige ritme van plattelandse lewe, ontstaan daar ’n heilige soort tyd — ’n tyd wat uitnooi om tot stilstand te kom. 

“En met so ’n retraite word Philippolis, Stillepolis …”

Ons het met hom gaan gesels om meer uit te vind.

Louwrens, vertel ons eers meer van jouself.

“Ek is gebore in Nelspruit, het skoolgegaan in Polokwane, Vryheid en Bloemfontein en het my teologie-opleiding in 1991 aan die Universiteit van die Vrystaat voltooi.

 

“In 1992 was ek dienspligkapelaan in die Lugmag waarna ek predikant was by die NG Kerk Risiville, Vereeniging. Vanaf 1995 was ek betrokke by die Petra Instituut by Witrivier en vanaf 2002 was ek predikant van ’n internasionale gemeente in die stad Fes in Marokko.

 

“Nadat ek vanaf 2010 vir twee jaar ’n kontrakpos by die NG Kerk Hugenoot in Bloemfontein gehad het, het ek vir die volgende twee jaar ’n Christelike boekwinkel in Bloemfontein se middestad bestuur.

 

“Vanaf 2014 was ek personeellid by All Nations in Noordhoek/Vishoek in die Kaap en het ek sporadies ook in vlugtelingkampe in Libanon met Siriese vlugtelinge gewerk.

 

“Vanaf 2017 was ons vir twee jaar huisouers van 31 sokkerseuns van die Ubuntu Sokkerakademie en het ook in dié tyd in Suid-Soedannese vlugtelingkampe gewerk. Daarna was ek brugpredikant van die NG Kerkgemeentes Drakenstein in die Paarl en Witrivier. Ek beklee sedert 2025 ’n kontrakpos as predikant by die NG Kerk Philippolis.” 

 

Wat het jou laat besluit om ’n Paasfees-retraite aan te bied?

“Die besluit om ’n spesifieke Paasfees-retraite aan te bied het ontwikkel uit wat ek oor die afgelope paar jaar by predikante en ander gelowiges waargeneem het. Baie mense is diep moeg; nie net liggaamlik nie, maar ook geestelik en emosioneel. Ons leef in ’n tyd waar die druk om aan te gaan, produktief te wees en ‘beskikbaar’ te wees, nooit regtig ophou nie. Baie voel soos slawe – nie van Farao nie, maar van ’n gejaagde kultuur, verwagtings van die kerk, sosiale media en eie innerlike drywers. Ons is moeg gedryf, uitgebrand en sukkel om nog met vreugde en vryheid te bedien of te leef.

 

“In hierdie konteks het die Paasfeesboodskap nog nooit vir my so relevant gevoel nie. Paasfees is nie net ’n fees van die opstanding nie – dit behels ’n diep ritme van dood en nuwe lewe. Dit volg die pad van Goeie Vrydag (tot stilstand kom, lyding, stroping), Stille Saterdag (die stilte, die wag, die ongemak van die graf) en dan die wonder van Paassondag (nuwe lewe, hoop, opstanding).

 

“Met ons retraites skep ons ’n veilige, eenvoudige ruimte waar mense vir ’n naweek kan ophou jaag en die Paasritme letterlik kan deurleef; tot stilstand kom op Vrydag, die ongemak van stilte op Saterdag verdra en dan die verrassing van nuwe lewe op Sondag ontvang.

 

“Deuteronomium 5 herinner ons daaraan dat die Sabbat (en rus) nie net ’n luukse is nie, maar ’n daad van verlossing. God sê: ‘Onthou dat jy ’n slaaf in Egipte was … daarom gee Ek jou die Sabbat.’ Baie van ons het weer slawe geword – van prestasie, mense se verwagtings en eie innerlike dryf. Die Paasfees-retraite is ’n praktiese uitnodiging om uit daardie slawerny te tree en die rus van die opgestane Christus binne te gaan.

 

“My hoop is nie dat mense met groot ‘geestelike hoogtes’ huis toe sal gaan nie, maar dat hulle met ’n eenvoudiger, dieper vertroue terugkeer; dat God se teenwoordigheid genoeg is – selfs in die stilte – en dat nuwe lewe nie deur meer doen kom nie, maar deur rus in Hom.”

 

Hoe het jy die retraite aangebied, Louwrens, met ander woorde wat was die formaat en inhoud daarvan?

“Die meeste van ons retraites vind in die dorp self plaas; in en om die pastorie en die ou geboue. Deelnemers kan kies om in die stilte te bly, of om die dorp en omgewing te verken. Daar is mooi staproetes in en buite die dorp en vir die fietsryers is daar grond- en plaaspaaie rondom Philippolis. 

 

“Ons retraites is gebou rondom drie ritmes van stilte elke dag. Om agtuur verkeer ons vir twintig minute saam in stilte, om twaalfuur luister ons vir ongeveer 45 minute na Taizé-musiek uit Frankryk en dan word die dag om sesuur afgesluit met twintig minute saam in stilte.”

 

Wat gebeur in die tyd saam in stilte?

“Dit is bloot ’n tyd van stilte waarin ons God se inherente teenwoordigheid ervaar. Deur doelbewus tyd en ruimte te skep waar ons ons gedagtes, emosies, planne, herinneringe en bekommernisse sagkens aan God oorgee, word ons harte en gedagtes vernuwe (Romeine 12:2). In kontemplatiewe gebed soek ons nie om iets spesifieks van God te vra of ons probleme op te los nie, maar om met ons hele wese (kop, hart en liggaam) eenvoudig teenwoordig te wees by God. Dit is ’n intieme manier om God se teenwoordigheid direk te ervaar.”

 

Wat gebeur in die tye tussen die gestruktureerde stiltes?

“Deelnemers kan hierdie ruimtes vul soos hulle dit self verkies. Hulle kan stap of fietsry in die dorp of op die paaie buite die dorp, die Jobhuis besoek waar daar ’n permanente uitstalling van 25 skilderye uit die boek Job besigtig kan word, of persoonlike tyd in die pastorie se sitkamer, stoep of tuin deurbring.

 

“Daar is ook as opsie spirituele begeleiding beskikbaar, of ’n liturgie van lament (’n begeleide refleksie deur die klaagpsalms). Daar kan ook geluister word na ’n orreluitvoering deur ons orrelis, Nicolene Gibbons; musiek wat gepaard gaan met stilte en refleksie.

 

“Jy kan ook begeleidingstukke met Bybelse gedeeltes deurwerk. Vir hierdie Paasfees-retraite het deelnemers ’n Visio Divina beoefen met ’n skildery van Jesus se kruisiging saam met die lees van Bybeltekste.

 

“Aandetes vind om sewe-uur plaas waar almal dan saam eet en daar tyd gegee word om oor die dag se belewenis te reflekteer. Sommige deelnemers verkies egter totale stilte en eet dan alleen.”

 

Wat van die aanbieding het jou diep geraak?

“Met elke retraite word ek verras deur wat gebeur as ’n mens ruimtes skep waarbinne mense kan rus, veilig voel en weer in kontak met hulleself, God en die natuur kan kom. 

 

“Aan die begin kan ek sien hoe daar met die stilte ‘gewerk’ word; hoe daar hard probeer word om stil te word. En dan gebeur daar iewers die wonder – die Stilte vind jou …”  

  

Hoe het dit die mense wat dit bygewoon het, geraak?

“Elrika Senekal-Van der Berg van Bybelgenootskap Bloemfontein vertel: ‘Ek sou normaalweg die laaste mens wees wat myself as materiaal sou beskryf vir ’n stil retraite. Die afgelope twee jaar van my lewe het egter gewys dat ek toenemend hierdie geleenthede nodig het en daarby baat vind. Stillepolis was ’n belewenis van herlaai, oordenking, gesprek, vriendskappe smee, verdieping, verwondering, groei en nog meer. Ek het reeds vir mense hiervan vertel en dit aanbeveel. Die dorpie leen hom tot hierdie belewenis en in my geval was die balans tussen alleenwees en aandkontak met kollegas perfek. Die daaglikse drie geleenthede om in die kerk te kon stilte beoefen, was heerlik en die feit dat dorpsmense welkom was, het my verbly. Die aand wat ons die seremonie van Lament beleef het, het my ook diep geraak. Ek hoop dat hierdie inisiatief sommer nog baie mense sal raak.’

 

“Sandra van der Vyver van Vereeniging beskryf haar ervaring van die retraite as volg: ‘Dit voel of ek swanger is … van afwagting … vir die res van my lewe. Ek kan nie wag vir die ontwikkeling van my eie siel nie. Ek kan nie wag om te hoor en te voel en te ‘belong’ nie. Julle het my geleer om stil te word. Julle het my die tools gegee om te gaan sit en stil word wat ek nie regtig voorheen kon beleef nie. Toe ons Sondagoggend moes opstaan en uitstap, het ek gevoel ek wil nog ’n bietjie sit. Die drie dae was amper net te min …’

 

“Don MacRae van Robertson laat weet: ‘The biggest impact for me was the focused times of silence in the church. It was easier to press into God’s presence in that focused time than maintaining constant silence through the day. I once again discovered how vast and majestic God is, and how He exists outside of my small ‘window’ through which I see Him, including His presence in the town and in people’s lives over the generations.’”

 

Louwrens, wanneer bied jy weer ’n retraite aan en wat sal dit behels?

“Die volgende aanbieding is ons Winter-retraite wat sal plaasvind vanaf 14 tot 17 Junie. Op die eerste dag van die retraite word daar 22 kilometer in stilte gestap. Daar word op ’n gasteplaas vir twee nagte geslaap. Die retraite is vir diegene wat totale stilte wil beleef, ook weg van selfoonseine.

 

“En dan is daar ons Lente-retraite wat sal plaasvind vanaf 20 tot 25 September. Dit is ’n vyfdag-retraite in Philippolis. Om deel van die retraite te wees, moet jy ten minste enige twee nagte in die week oorslaap. Jy hoef dus nie vir die volle vyf dae te kom nie. Hierdie retraite volg ons normale ritmes van stilte; drie maal per dag. Tussen die drie gestruktureerde stiltes het deelnemers dan opsies om hulle eie stilte in te rig.”

 | Foto’s is deur ds Louwrens Scheepers, verskaf.

Meer inligting

Kontak ds Louwrens Scheepers by louwrens@integernetwork.com of WhatsApp hom by 072 115 0057.

Lees meer oor hul retraites op hul webwerf of Facebook.