Skip to content Skip to sidebar Skip to footer

Die gemeenskap van die heiliges

Wat is die doop? So word die vraag kort en saaklik gevra in die Handleiding vir die erediens se formulier vir die bediening van die doop aan die kinders van gelowiges. Die formulier beantwoord dan hierdie vraag met ‘n verskeidenheid verklarings oor wat die doop in die Naam van die drie-enige God, Vader, Seun en Heilige Gees beteken en verkondig. Een van hierdie verklarings lui as volg:

“… dat die doop ‘n seël is van die inlywing in die kerk van Jesus Christus en ons verplig om as lewende lidmate te leef.” (Clasen, Bartlett, Carstens & Schoeman (reds.), 2010:64)

Ek en my gesin het die realiteit van hierdie verklaring op ‘n baie besondere en diep persoonlike manier beleef in die afgelope twee weke. Ek verwoord graag my ervaring as doop-ouer, lidmaat en liturg van ‘n gemeente. Hier volg ‘n refleksie oor die teologiese begrip, die gemeenskap van die heiliges, gegrond op ‘n onlangse persoonlike ervaring.

Ek en my man is geseënd met twee pragtige dogtertjies. Die oudste is vyf jaar en die jongste is nege maande oud. Hulle het ons behoorlik laat sweet die afgelope twee weke. Die jongste het Woensdag 24 Augustus 2022 tekens begin wys van een of ander kiem wat sy onder lede het; braking, laegraadse koors en pyn. Donderdag 25 Augustus word sy gehospitaliseer met akute mangelontsteking en teen Vrydag toets sy positief vir die Rotavirus. Ons huisdokter noem die Rotavirus ‘n maagvirus, op “steroids”. Die Rotavirus is ‘n hoogs-aansteeklike virus, veral vir kinders, en daarom was ons jongste eintlik onder kwarantyn in die hospitaal.

Dit was vir ons gesin voorwaar ‘n moeilike tyd. Een ouer was noodgedwonge saam ingeboek in die hospitaal en die ander een moes ousus by die huis versorg. Ek en my man reël toe dat ek Saterdagaand by die huis slaap, sodat ek ‘n beter nagrus kon geniet voor die Sondagoggend-erediens. Hy sal dan die aand in die hospitaal deurbring om na babasus om te sien. Ek het skaars my wekker Sondagmôre doodgedruk, toe ousus soortgelyke simptome toon as ons babatjie. Op daardie oomblik het ek geweet hier is moeilikheid, want pappa is by babasus in die hospitaal. Die plan was natuurlik om ousus saam met my na die erediens te neem, met ‘n rugsakkie vol speelgoed en ‘n eetdingetjie. Sy sou dan rustig haarself besig hou neffens Mamma op die preekstoel. Helaas, het Rotavirus anders besluit. Ousus kon onder geen omstandighede nou saamgaan nie.

Dit laat my en my man toe met ‘n groot krisis, rakende die versorging van beide ons siek kinders. Vanweë ons beperkte ondersteuningsnetwerk (daar is geen oumas, oupas of familie woonagtig in ons dorp nie) moes ons noodgedwonge vir babasus alleen in die hospitaal laat. Ek moes daardie Sondagoggend my nege maande oue babadogtertjie vir enkele ure toevertrou aan ‘n wildvreemde verpleegster, sodat Pappa kon huis toe kom om na ousus by die huis om te sien. Nodeloos om te sê, my hart was daardie Sondagoggend op drie plekke gelyktydig – in die erediens, by die huis en by die hospitaal.

Soos dit die gebruik in die gemeente is, het ek die lief en leed van die week met die gemeente gedeel en ek het toe ook my twee kinders genoem. Ná die erediens is ek terug hospitaal toe om na babatjie om te sien totdat sy Maandagaand ontslaan is. Sedert die gemeente bewus geword het van ons gesin se krisis met die twee kindertjies, het ons die onderlinge sorg en omgee in die gemeente op ‘n baie besondere manier beleef. Talle boodskappe van onderskraging is ontvang, die heerlikste etes is by die huis afgelewer, mense wat aangebied het om na babasus in die hospitaal om te sien en natuurlik gebede. Dit het ons kop bo water laat hou in hierdie tyd.

Hierdie eie ervaring die afgelope twee weke het my laat nadink oor die frase wat ons so gemaklik prewel in die erediens, wanneer ons ons geloof bely met die woorde van die Apostoliese Geloofsbelydenis. 

1. Ek glo in God die Vader, die Almagtige, die Skepper van die hemel en die aarde.

2. En in Jesus Christus, sy eniggebore Seun, ons Here;

3. wat ontvang is van die Heilige Gees, gebore is uit die maagd Maria;

4. wat gely het onder Pontius Pilatus, gekruisig is, gesterf het en begrawe is en ter helle neergedaal het;

5. wat op die derde dag weer opgestaan het uit die dode;

6. wat opgevaar het na die hemel en sit aan die regterhand van God, die almagtige Vader,

7. van waar Hy sal kom om te oordeel die wat nog lewe en die wat reeds gesterf het.

8. Ek glo in die Heilige Gees.

9. Ek glo aan ʼn heilige, algemene Christelike kerk, die gemeenskap van die heiliges;

10. die vergewing van sondes;

11. die opstanding van die vlees

12. en ʼn ewige lewe.

Wat presies bely ek? En wat beteken dit vir my as gelowige om deel uit te maak van die gemeenskap van die heiliges?

So onthou ek die doopformulier van die Algemene Sinode wat die gemeente konkreet betrek by die doop, met die volgende belofte:

Liturg:

Beloof julle om die hande te wees wat hierdie kindjie/kinders op God se pad lei?

Beloof julle om die stemme te wees wat vir hierdie kindjie/kinders God se storie vertel?

Beloof julle om die ore te wees wat luister na die vreugdes en drome, maar ook die seer en twyfel van hierdie kindjie/kinders?

Beloof julle om die arms van Christus te wees wat hierdie kindjie/kinders en sy/haar familie met God se onwaardelike liefde vashou?

Gemeente:

Ons belowe.

Deur die sakrament van die doop word ons lede van die liggaam van Christus, die gemeenskap van die heiliges. Ons ontvang die seën van God se ewige liefde en genade en ons seën die gemeente met ons unieke gawes en ons teenwoordigheid. Ná hierdie kosbare ervaring as gedoopte, doopouer, lidmaat en liturg van ‘n gemeente besef ek net weer dat die eeue-oue woorde in die Apostoliese Geloofsbelydenis, nie maar net woorde is wat ons weekliks prewel nie.

Ons kinders is in ‘n geestelike sin ook die gemeente se kinders.

Ons verantwoordelikheid as ouers is ook in oordragtelike sin die gemeente se verantwoordelikheid.

So ondervang die doop die nood en behoefte van ons gemeentekinders.

Op die wyse word die gemeente – die gemeenskap van heiliges – die draer van die genade en die liefde van die Here Jesus.

Die doop is dus nie slegs ‘n persoonlike of gesinstandpunt nie. Dit is ‘n geloofshandeling waarby die gemeente betrek word en nie slegs vir die getuienisaspek van die ouers se doopbelofte nie. Die doop word die geloof-in-aksie sakrament vir beide ouers en lidmate.