Tydens die retreat op Volmoed [sien artikel elders] het ons as besoekers die geleentheid gehad om die vasgestelde gebedsure van die Benediktynse broeders in die kapel by te woon en te luister na die gesange (chants) wat hulle reeds eeue lank sing. Ons het diep onder die indruk gekom van die onderlinge verbondenheid van hierdie broeders en die toegewyde ritme van hulle bestaan.
Pas ná die Volmoed-ontmoeting het ek ’n buitengewone natuur-ervaring gehad wat my weer aan die broeders laat terugdink het.
Ek was in die distrik Wakkerstroom in Mpumalanga op die Forellenhof-gasteplaas waar tussen 100 en 150 bloukraanvoëls (onder hulle ook ’n mahem- en lelkraanvoël-paar) elke winter in ’n dam met hulle bene in die water(!) kom oornag (in die somer versprei hulle in pare om te broei). Soos wat ons op Volmoed in die donker voor 06:00 stil opgestap het na die kapel om die vroeë gebedsdiens te beleef en na die gesange van die Benediktyne te luister, het ons op Forellenhof voor dagbreek in stilte afgestap na die water en op ’n afstand gestaan en kyk hoe die voëls wakker word, ’n bietjie heen en weer stap, vlerke klap, in die lug hop … en dan, wanneer dit rooi word op die horison, saam opvlieg in ’n koor van bloukraanvoël-roepe en op ’n streep koers kies na hul weiplek vir die dag.
Die ooreenkoms tussen die twee verskillende vroegoggend-ekskursies was vir my treffend: Sou die bloukraanvoëls ’n simbool kon wees van ’n intensionele gemeenskap? Die natuur hou boodskappe in as ’n mens oplet.
| Magdaleen du Toit: Bloukraanvoëls vroegdag op pad na hul weiplek.
| Anne Hart: Koor van bloukraanvoëls.