Skip to content Skip to sidebar Skip to footer

Wie God is, is altyd belangriker as wat God gee

Pinkster is die viering van God se teenwoordigheid by elke gelowige deur die Heilige Gees. Dit is die geboorte van die kerk. God wil hê dat ons Hom sal ken. Daarom is die manier waarop Johannes Jesus bekendstel aangrypend. Johannes kies om nie ’n “volledige verslag” te gee, soos die ander evangeliste, aangaande Jesus se optrede op aarde nie. Hy stel Jesus aan ons bekend deur sewe “Ek is”-uitsprake. Dit sou natuurlik die Jode onmiddellik herinner aan God wat Homself aan Moses bekendstel as “Ek is Wie Ek is” (Eksodus 3:14).

Wie is God vir my en jou? Dit is ’n belangrike vraag, want dit dwing ons om ons verhouding met en verbintenis aan Jesus te beoordeel, nie op grond van wat ons van God ontvang nie, maar op grond van hoe ons identiteit bepaal en gevorm word deur God se identiteit. Wie God is, is altyd belangriker as wat God gee.

Jesus maak Homself bekend:

  • “Ek is die brood van die lewe” (Johannes 6:48)
  • “Ek is die Lig vir die wêreld” (Johannes 8:12)
  • “Ek is die deur vir die skape” (Johannes 10:7)
  • “Ek is die goeie Herder” (Johannes 10:11)
  • “Ek is die opstanding en die lewe” (Johannes 11:25)
  • “Ek is die weg en die waarheid en die lewe” (Johannes 14:6)
  • “Ek is die egte druiwestok” (Johannes 15:1)

Dit lyk asof die hoogtepunt van hierdie bekendstelling waarskynlik Johannes 14:6 is.  “Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie.” Wie is Jesus? Hy is die weg na God. Wie kan óns wees? “Mense van die weg”. So is die gelowiges genoem tydens die eerste eeu na Christus. God se “Ek is” het ’n direkte implikasie vir wie “ek en jy is”. “Kurios” en “Kuriake”. Die weg … en die mense wat hierdie weg bewandel.

Hoe leef ons dan as “mense van die weg”? Ons sou baie daaroor kon sê. Vir my het die gebeure ná God se eerste bekendstelling van Homself aan Moses betekenis. In die verhaal van die verlossing uit Egipte is God sigbaar teenwoordig in die wolk bedags en vuur snags (Eksodus 40:38). God se teenwoordigheid bepaal die volk se beweging.  “… wanneer die wolk van die tabernakel af voor die Israeliete uit wegtrek, het hulle agter die wolk aan versit. As die wolk nie weggetrek het nie, het hulle daar gebly totdat dit wel weggetrek het.” (Eksodus 40:36 en 37) God se teenwoordigheid is nou deur die Heilige Gees, ín ons en déúr ons.

Ons leef in Sy teenwoordigheid. Mag Hy elke dag ook ons identiteit, keuses, optredes, woorde en gedagtes bepaal. Mag ons beweeg wanneer Hy beweeg, en wag wanneer dit nodig is om op Hom te wag.

Deur ds Dries Cronjé, leraar van NG Gemeente Viljoenskroon

116 | Maatskaplike NOODLYN