Skip to content Skip to sidebar Skip to footer

“I love boobies” borskankerbewusmakings-veldtog

Dis veertien dae voor die basaar. Dis chaos.

Die gebruiklike basaar-organiseerder het vir haar nuwe kleinkind in Ierland gaan kuier, die skriba se kleinkinders kom kuier en sy neem drie dae verlof. Ek en die koster het elk ʼn afnaweek wat lank gelede reeds beplan is, en die vier dae voor die basaar, sit ek in vergaderings!

Hier kom die vrouediens-voorsitter so ewe: My man sê ons moet ʼn fietstrap en stapwedloop doen saam met die basaar. Verbeel jou net! Maar dis reg, gaan voort, doen jy dit, sê net hoe ons kan help. 

Ek sien die roetekaart: Dwarsdeur die middestad, rondom die mall – en dit op ʼn Saterdagoggend. Dit sal nooit gebeur nie! Maar dit gebeur. Tien dae later is al die handtekeninge op papier – munisipaliteit, verkeersafdeling, polisie, sekuriteitspersoneel en marshalls. Almal aan boord. En KANSA. Want hierdie is nie ʼn gewone projek nie.

Dis ʼn I love boobies borskankerbewusmakings-veldtog.

In SA kry een uit elke 28 vroue borskanker – ons ma’s, oumas, vrouens, susters en dogters. In ʼn gemiddelde gemeente van 500-600 mense, gaan 10 vroue borskanker kry. Alhoewel dit die algemeenste oorsaak van kankerdood by vroue is, kan vroegtydige sifting en diagnose van die siekte vroue se kanse op oorlewing dramaties verbeter en dit verminder die behoefte van aggressiewe en indringende behandeling.

Elke vrou het die potensiaal om borskanker te ontwikkel. Sekere faktore sal hulle egter in ’n hoër risikokategorie plaas, insluitend:

  • Ouderdom: Die risiko om borskanker te ontwikkel verhoog met ouderdom, maar 1 uit 8 indringende borskankers word by vroue jonger as 45 gediagnoseer.
  • Familiegeskiedenis: Borskankerrisiko is hoër onder vroue wie se nabye bloedfamilielede met die siekte gediagnoseer is. Een eerstegraadse familielid (ouer, broer, suster, kind of ouma) verdubbel ‘n vrou se risiko om borskanker te ontwikkel. Met twee eerstegraadse familielede verhoog haar risiko ongeveer drievoudig.
  • Persoonlike geskiedenis: ’n Vrou met kanker in een bors het ’n 3-4 keer verhoogde risiko om ook kanker in die ander bors te ontwikkel, of in ’n ander deel van dieselfde bors. Dit verskil van ’n herhaling (terugkeer) van die eerste kanker.
  • Digte borsweefsel: Vroue met digte borsweefsel (soos geïdentifiseer op ’n mammogram) het meer klierweefsel en minder vetweefsel, en dus ’n hoër risiko vir borskanker. Ongelukkig maak digte borsweefsel dit ook moeiliker vir dokters om probleme op mammogramme te sien, wat gereelde selfondersoek en sifting nog belangriker maak.
  • Oorgewig vroue of vroue met vetsug: Navorsing het in die verlede getoon dat vetsug die risiko van bors- en ander kankers verhoog. Meer onlangs het ’n groter studie daarop gedui dat oorgewig en vetsugtige vroue wat gediagnoseer word met vroeë stadium hormoon-reseptor-positiewe borskanker, ’n hoër risiko het dat hul kanker sal terugkom (herhaal) en hulle het ’n kleiner kans om die siekte te oorleef. Gesonde eetgewoontes en gewigsbestuur is dus veral belangrik.
  • Leefstylfaktore: Die oormatige gebruik van alkohol, geen fisiese aktiwiteit, rook en diëte hoog in versadigde vette verhoog die risiko van borskanker.

Mans:

Vir elke 100 vroulike pasiënte is daar een man met borskanker. Die slegte nuus is dat ongeveer een derde van hulle nie die siekte gaan oorleef nie!

  • Mans is oortuig van die mite dat borskanker nie bestaan nie, daarom stel hulle nie ondersoek in nie en sterf dus aan die siekte sonder om hulp daarvoor te kry.
  • Mans is bang dit maak hulle minder manlik om te erken dat hulle borskanker het.
  • Mans is dikwels sku vir dokters. Daarom word hulle kankers dikwels eers in ʼn laat stadium ontdek en is dus moeiliker om te behandel.
  • Mans het ook minder borsweefsel as vroue, wat veroorsaak dat selfs klein tumors maklik in die omliggende weefsels uitsaai.
  • Mans is dikwels ouer wanneer hulle met die siekte gediagnoseer word – 63 jaar teenoor 59 jaar by vroue.

Vir meer inligting oor kanker, besoek gerus www.cansa.org.za

Met vanjaar se 150 inskrywings en die goeie samewerking van alle rolspelers, het ons ʼn goeie basis gelê. Die breë gemeenskap het betrokke geraak.

Volgende keer gaan ons nog groter.

Foto’s verskaf:  NG Gemeente Welkom-Suid hou basaar – dis ʼn “I love boobies” borskankerbewusmakings-veldtog.
116 | Maatskaplike NOODLYN