Deur Mariëtte Odendaal
Trou is nie perde koop nie. Dit weet ons ou-getroudes maar alte goed. Die romantiese hofmakery en eerste opwindende fase van getroud-wees maak gou-gou plek vir realistiese konfrontasies oor onbenulligheidjies soos wie die kos moet maak en wie die skottelgoed moet was. Dis nou voordat die swaargewig-konflikte inskuif.
Maar waarom word sommige huwelike deur die jare sterker, terwyl ander begin verbrokkel?
Op 1 September het prof Wentzel Coetzer, professor aan die Noordwes-Universiteit se Fakulteit Teologie en Departement Praktiese Teologie, pastorale konsultant en skrywer, ’n Zoom-kursus aangebied oor “Sewe beginsels wat die Hhuwelik laat werk”.
Sy vertrekpunt was die baanbrekerswerk van dr John Gottman, wie se navorsing oor huwelike waardevolle insigte bied oor wat verhoudings versterk – maar ook oor die gedragspatrone wat ’n huwelik kan laat ontspoor.
Die sewe boustene van ’n sterk huwelik
Gottman beskryf die huwelik as ’n huis wat op die stewige fondasie van ’n diep liefdes- en vriendskapsverhouding gebou word. Die sewe beginsels vorm as’t ware die verskillende verdiepings van dié huwelikshuis.
- Ken jou maat se wêreld
’n Liefdeskaart is die kennis wat jy oor jou maat se lewe het: wat hom of haar gelukkig maak, wat spanning veroorsaak, waarvan hy of sy droom en wat hy of sy vrees.
Omdat mense voortdurend verander, moet ons mekaar se wêreld bly ontdek. ’n Eenvoudige vraag soos “Hoe gaan dit regtig met jou?” kan soms meer vir ’n verhouding beteken as ’n groot romantiese gebaar.
- Vertroetel liefde en waardering
Fokus doelbewus op jou maat se goeie eienskappe en sterk punte, selfs wanneer julle met mekaar se tekortkominge worstel.
Sê dit wanneer jy iets waardeer, byvoorbeeld “Dankie vir die koffie”. Erken die moeite wat jou maat doen. Sê “Ek is lief vir jou”. Sulke klein gebare bou ’n reservoir van goedgesindheid waarop ’n paartjie in moeilike tye kan staatmaak.
- Draai na mekaar toe
Ons rig voortdurend klein uitreike na mekaar vir aandag, liefde en konneksie. Gottman noem hierdie uitreike bids.
Wanneer jou maat iets met jou wil deel, kyk op van jou foon. Wanneer hy of sy jou roep, reageer. Maak tyd vir ’n gesprek aan die einde van die dag.
Dit klink eenvoudig, maar juis hierdie klein oomblikke sê: “Jy is belangrik vir my.”
- Laat jou maat toe om jou te beïnvloed
Hierdie beginsel vra dat huweliksmaats bereid is om mag, gesag en besluitneming met mekaar te deel.
Dit beteken nie dat jy jou identiteit moet prysgee nie, maar dat jy jou maat se opinie en gevoelens ernstig opneem. ’n Sterk huwelik gaan nie daaroor om altyd jou sin te kry nie, maar om saam ’n pad te vind.
- Los die oplosbare probleme op
Nie elke huwelikskonflik kan opgelos word nie, maar baie alledaagse probleme kan beter gehanteer word.
Gottman se praktiese raad sluit onder meer in:
- Begin moeilike gesprekke sag, eerder as met kritiek of beskuldigings.
- Neem ’n pouse wanneer emosies handuit ruk, en keer later terug na die gesprek.
- Wees bereid om kompromieë aan te gaan.
- Leer om, wanneer ’n gesprek begin ontspoor, weer daaroor te probeer praat en die verhouding te herstel.
- As julle vasval, moenie bang wees om hulp te vra nie.
- Breek deur ’n dooiepunt
Sommige argumente word oor en oor gevoer omdat dit oor meer as die onmiddellike probleem gaan. Daar kan dieper behoeftes, waardes of onvervulde drome agter skuil.
Die uitdaging is daarom nie altyd om die probleem dadelik op te los nie, maar om nuuskierig te raak oor wat vir jou maat daaragter lê. Word ’n “droom-speurder” en probeer verstaan wat werklik vir die ander persoon belangrik is.
- Skep ’n gedeelde betekenis
Die hoogste vlak van die huwelikshuis gaan oor die lewe wat ’n paartjie saam bou.
Dit sluit gedeelde waardes, doelwitte, tradisies, geloof en ’n visie vir die gesin in. Wanneer twee mense weet waarvoor hulle saam leef en wat vir hulle belangrik is, gee dit groter betekenis aan hulle verhouding.
Vir Christene kan geloof juis deel van hierdie gedeelde betekenis wees – om saam te groei, saam te bid en mekaar te ondersteun in die uitleef van God se roeping.
Wanneer begin die rooi ligte flikker?
Gottman beklemtoon dat dit nie bloot die feit is dat egpare argumenteer wat ’n huwelik bedreig nie, maar veral die manier waarop hulle konflik hanteer.
Hy identifiseer onder meer ses gevaartekens:
’n Harde aanvang: Wanneer ’n gesprek met kritiek, sarkasme of beskuldigings begin.
Die vier perderuiters: Kritiek, veragting, verdediging en emosionele onttrekking.
Emosionele oorweldiging: Wanneer konflik so intens raak dat ’n mens fisiek en emosioneel oorweldig voel en nie meer behoorlik kan luister of dink nie.
Fisieke stresreaksies: Die liggaam se veg-of-vlug-reaksie kan dit moeilik maak om kalm en konstruktief te kommunikeer.
Mislukte herstelpogings: Wanneer pogings om ’n argument te ontlont of weer verbinding te skep, nie meer deurdring nie.
Slegte herinneringe: Wanneer ’n paartjie se herinneringe aan hulle verhouding toenemend deur ’n negatiewe bril gekleur word.
Die goeie nuus is dat hierdie rooi ligte nie beteken dat ’n huwelik noodwendig verby is nie. Dit is eerder waarskuwingstekens dat iets aandag nodig het.
’n Huwelik word in die klein dinge gebou
Wat is dan, in eenvoudige alledaagse terme, ’n gesonde huwelik?
Wentzel beskryf dit as ’n verhouding waarin daar ’n diep en aktiewe vriendskap is; waar huweliksmaats op hoogte is van mekaar se lewens, daaglikse konneksie behou, konflik met deernis en begrip hanteer en mekaar met opregte vergifnis tegemoetkom.
Die terugvoer ná die Zoom-aanbieding wys hoe prakties hierdie beginsels kan wees.
Estelle Olivier het gesê: “Hierdie voel soos ’n huweliksverrykingskursus! Uitstekend gedoen. Ek hou van die persoonlike voorbeelde.”
Marietjie Nel het vertel: “Ek het byvoorbeeld dadelik vir my man ’n drukkie gegee en gesoen toe hy by my kom inloer het tydens die Zoom-aanbieding. Ek het ook toe vir hom gesê dat ek hom liefhet en waardeer.”
Dalk is dit juis die kern van die hele aanbieding: verandering begin soms met iets baie klein. ’n Kykie. ’n Sagte antwoord. ’n Drukkie. ’n “Dankie”. ’n “Ek is lief vir jou”.
Annalie Taute het die praktiese waarde van die aanbieding só opgesom: “Baie dankie vir ’n briljante aanbieding. Dit wat vir my die meeste sinvol was, was die praktiese aanslag, vraelyste, voorbeelde uit die praktyk asook wetenskaplike navorsing oor die onderwerp.”
Wentzel beklemtoon ook die belangrikheid daarvan dat leraars en beraders toegerus moet wees om met huweliksprobleme te werk, omdat hulle gereeld by huwelike en gesinne betrokke is.
Begin vandag met iets kleins
As daar een boodskap uit hierdie aanbieding is wat elke huwelikspaartjie kan saamneem, is dit dalk dat ’n goeie huwelik nie vanself gebeur nie. Dit word oor jare heen gebou – deur die klein, doelbewuste keuses wat twee mense elke dag maak.
Ons kan nie altyd ons maat verander nie. Ons kan wel onsself afvra: Hoe draai ek vandag na my maat toe? Waarvoor kan ek vandag dankie sê? Waar kan ek sagter praat? Waar moet ek luister voordat ek antwoord?
En wanneer ons agterkom dat ons nie meer alleen deur ’n moeilike tyd kan werk nie, is dit nie ’n teken van mislukking om hulp te vra nie. Dit kan juis ’n doelbewuste keuse wees om weer na mekaar toe te draai.
’n Huwelik word immers nie net in die groot oomblikke gevorm nie, maar in die duisende klein oomblikke tussen-in.
Vir meer inligting kan prof Wentzel Coetzer gekontak word by wentzelc@gmail.com

