Deur dr Leon M Foot, Skriba van die Moderamen van die NG Kerk Vrystaat
Hoekom sukkel motoriste so met ligte? Hoe moeilik kan dit wees? As dit donker word, of as die sig swak raak, sit jy jou motor se ligte aan. Iewers het ek geleer jou ligte moet ’n halfuur voor sononder aangeskakel word tot ’n halfuur ná sonop. En as dit reën, of as dit mistig is. Maar ons kry dit nie reg nie.
Almal wat baie rondry, het dit al gesien: dit reën katte en honde, jy kan skaars jou motor se enjinkap sien, maar rondom jou ry mense sonder ligte. Onsigbaar in die reën. Sommige wend ’n vergeefse poging aan. Hulle sit hulle parkeerliggies aan. Maar mense, die naam sê dit tog duidelik. Dis “parkeer”-ligte. Vir wanneer jy geparkeer is, nie vir wanneer jy teen 120 kilometer per uur op die snelweg ry nie!
Die argument is dikwels: “Ek kan mos sien”. Ja, dalk, maar kan jy gesien word? Dit is ’n belangriker vraag. Jy sit nie net jou ligte aan om te kan sien nie, maar veral om jou sigbaar te maak vir die ander motoriste.
Dalk is die Here net so moedeloos met ons, sy kinders. Ons het ook die opdrag om ons ligte te laat skyn in ’n donker wêreld. Ons behoort nie meer aan die ryk van die duisternis nie, maar aan die ryk van die lig. En daarom moet ons lig bring na die duisternis.
Soms lyk dit of ons ook maar net ons parkeerligte aan het, so asof ons nie krag het om te skyn nie. In Efesiërs 1:19, 20 skryf Paulus dat God dieselfde krag waarmee Hy Jesus uit die dood opgewek het, in ons laat werk. Ons het meer krag as wat ons dink. Ons kan helderder skyn as wat ons dink. Om lig te bring in ’n donker wêreld, sodat die wêreld “julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemel is, verheerlik”. (Matteus 5:16)
(Nou moet ek ook erken: ek ry nou die dag en vervies my vir almal rondom my wat sonder ligte in die skemer ry. Net om op ’n stadium agter te kom ek is ook een van hulle! Ek het ook vergeet om my lig te laat skyn. Gelukkig word ons vergewe en kan ons ons fout regmaak).
Sit jou “brights” aan!

