Deur Mariëtte Odendaal
“Gelowiges is bedelaars wat weet waar om b(B)rood te vind. Mag ons so leef en dien.”
Ds Barnard Steyn oor sy droom vir die kerk
“Hy’s regverdig. Hy’s uniek geveerd. Hy weet hoe om ongemaklike oomblikke te hanteer; hy weet hoe om na randfigure uit te reik. Hy het groen vingers en is baie lief vir die natuur. Hy’s belangstellend; hy daag situasies uit. Hy bring rustigheid en kalmte. Hy’s veelkleurig; hy’s ’n enabler, innoverend. Hy glo in mense. Hy neem inisiatief en is kreatief. Hy dink en doen nuut.”
So getuig kollegas in die wandelgange van die sinodale kantoor van die NG Kerk Vrystaat oor ds Barnard Steyn wat binnekort vertrek om by die sinodale kantoor van die NG Kerk Wes-Kaapland in Bellville, Kaapstad in te val.
Barnard was sedert 2014 die uitvoerende amptenaar van Bedieningsbegeleiding, een van die vyf sinodale bedieninge van die NG Kerk Vrystaat; ’n pos wat hy die afgelope dekade met groot entoesiasme en toewyding tot aan die einde van April vanjaar beklee het.
Vanaf 1 Mei sal hy as Predikant in Sinodale Diens (PSD) vir die Diensgroep vir Barmhartigheid aan die NG Kerk Wes-Kaapland dien, ’n pos wat hom aangebied is nadat dr Nioma Venter wat voorheen hierdie pos beklee het onlangs as algemene sekretaris van die NG Kerk aangestel is.
Voordat hy nou heeltemal uit die Vrystaat verdwyn en hom in die Boland gaan vestig, wou ons darem eers virtueel saam met hom ’n koppie goeie koffie onder ’n groot koelteboom gaan drink en gesels.
Barnard, vertel ons meer van jou wortels; jou grootword- en vormingsjare.
“Ek is as die oudste van vier in Pretoria gebore waarna ons gesin vir ’n kort rukkie op Ventersdorp gaan woon het.
“Van my vroegste kinderherinneringe was ’n oomblik van vrees op die dorp met Pa Jurie wat my in sy veilige arms opgetel het. Dit het so gebeur: Pa was ’n diaken en het my saamgeneem tydens huisbesoeke om dankoffers in te samel.
“Die eerste wykslede se hond het my bestorm en Pa moes red. Om my skok te oorkom, het die tannie vir my melk en ’n koekie aangebied. Met die instap by al die opeenvolgende besoekpunte was my bestelling blykbaar: ‘Melk en ’n koekie, asseblief!’
“Ek het baie gelukkige voorskoolse kinderjare beleef wat hoofsaaklik op die proefplaas, Henderson naby Harare in Zimbabwe was. Tydens my eerste drie skooljare was ons terug in Pretoria en daarna was ons in Klerksdorp waar ek gematrikuleer het.”
Wat het jou laat besluit om predikant te word?
“Die eerste gewaarwording van ’n roeping as predikant was al so vroeg as in my laat-laerskooldae.
“Êrens gedurende my hoërskooljare het ek dit oorweeg om as ’n sielkundige te kwalifiseer, maar die oortuiging om eerder ’n predikant te word, het telkens teruggekom en toe gebly.
“Die Christelike lewenswandel van Ma Isabel en Pa Jurie het my gevorm en as aanmoediging tot predikantsbediening gedien.”
“Ek het my tersiêre opleiding aan die Universiteit van die Vrystaat verwerf en my vrou, Esté (gebore Wahl), in Bloemfontein ontmoet. Ons is aan die einde van ons studentejare in 1990 getroud en vier vanjaar ons 34ste huweliksherdenking. Ons is geseënd met twee kinders, Barnard en Isabella.”
Waar het jy toe oral as predikant gewerk en wat was in hierdie tyd die hoogtepunte en uitdagings in jou bediening?
“Na afloop van my teologiese studies het ek vir drie jaar, vanaf 1991 tot 1993, as gemeenskapsontwikkelaar vir die Landelike Stigting in Dewetsdorp gewerk. Daarna het ek vir ’n jaar, in 1994, vir die Vredesdirektoraat in Bethlehem gewerk.
“In 1995 het ek ’n proponentspos in Grahamstad beklee en daarna vir drie maande ’n evangelisasiepos by die NG Gemeente De Hoop tussen Calitzdorp en Oudtshoorn.
“Die Karoo-dorpie, Pearston, was my eerste standplaas as leraar waar ek vanaf 1995 tot 2003 gedien het. Daarna was ek vanaf 2004 tot 2013 predikant op Joubertina.
“Een van die hoogtepunte van my plattelandse bediening was beslis die opregte konneksie met die omgewing en sy mense voor die aangesig van God. ’n Aanhaling uit Eve Palmer se The Plains of the Camdeboo verwoord my ervaring baie raak: The Karoo breeds few atheists. Perhaps this is an accident and its plant and animal world, so bizarre and yet so methodical, play no part in this at all. Or, perhaps, unguessed by its people the pressure of a great plan is about them.”
Jy was sedert 2014 die uitvoerende amptenaar van die NG Kerk Vrystaat se Bedieningsbegeleiding. Wat het hierdie pos alles behels?
“In hierdie pos was ek saam met die seminariumbestuurder, dr Johan Nel, verantwoordelik vir ons sinode se teologiese opleiding.
“Ek was ook verantwoordelik vir die Gemeente Ondersteuning en Uitbreiding Fonds (GOUF), en dertien sinodale netwerke, naamlik dié van Digitale Bediening, Ekologie, Erediens, Gerontologie, JONK Vrystaat, Klein Gemeentes, Leierskap, Navorsing, Predikante, Retreats, Spiritualiteit en Voortgesette Bedieningsontwikkeling en Versoening.”
Dis ’n besondere wye area van bediening, Barnard. Wat sou jy sê was die mylpale waaroor jy die dankbaarste voel in hierdie tyd?
“Sjoe, oor mylpale kan daar baie uitgebrei word. Ek gee ’n opgesomde lysie van enkele mylpale: Die vestiging van sinodale netwerke, die oprigting van die Teologiese Seminarium, die Sentrum vir Predikantebegeleiding, die stigting van die Hoopfonds, die nuwe werkswyse vir die Beurskomitee, ons groei in die rol van die vyf sinodale bedieninge, ons kantoorhoofde vir koördinering van die sinodale kantoor, ons ringsprojekte wat vanjaar R75 000 per ring beloop, deelname aan die breër kerkverband (veral die VBO Taakspan en die Gemeentedienste Netwerk), besoeke aan prof John de Gruchy te Volmoed, retraites en al die vriendskappe op die weg. Kortom; te veel om alles op te noem.”
Wat beskou jy as die grootste uitdagings in hierdie tyd?
“Dit is vir my moeiliker om uitdagings te verwoord. Uitdagings bied eerder telkens geleenthede. Ek is ’n ewige optimis wat daarvan bewus is dat alle prosesse draaie loop. Miskien kan ’n helder N (Intuïsie) in die MBTI-persoonlikheidstoets hiervoor ‘geblameer’ word. Ek sukkel om struikelblokke te sien en neig na die groter prentjie met moontlikhede.
“In die kerk sal brandpunte, of uitdagings, altyd met ons wees. Ons kan dit nie ontken nie, maar karakter kom juis te midde van hierdie knelpunte na vore en word danksy uitdagings gebou en ontwikkel.”
’n Laaste woord van jou kant af, Barnard?
“Dr Nioma Venter het, so verneem ek, ’n stewige lêer riglyne op my lessenaar geplaas ter inisiasie daar.
“Tans groet ek Bloemfontein en sal DV eersdaags in Bellville land.”
En aan die Bolanders wil ons van die Vrystaat se kant af net sê: “Onthou daardie melk en koekies!”
| verskaf: V.l.n.r.: Barnard, Isabella, Esté en Barnard (jnr) Steyn