Deur dr Nina Müller van Velden, dosent in Nuwe Testament (UV)
en as leraar gekoppel aan die NG Gemeente Hugenoot, Bloemfontein
Vrouemaand het ’n manier om ’n mens bewus te maak van dinge waaraan jy die res van die jaar dalk te maklik gewoond raak.
In die vorige uitgawe het ons in hierdie ruimte nagedink oor die tale wat ons praat – oor die manier waarop woorde nie bloot beskryf wat rondom ons gebeur nie, maar ook iets verklap van hoe ons dink, wie ons raaksien en wie ons soms, sonder dat ons dit bedoel, miskyk – juis ook in die kerk.
Dalk is dit tyd om vanjaar doelbewus weer ’n bietjie te luister. Nie noodwendig na die groot uitsprake nie. Nie na beleidsdokumente, verklarings of besluite nie.
Sommer net na ’n gewone kerkraadsvergadering.
“Broers, kom ons begin.”
“Broers, wat dink julle?”
“Broers, ons moet vandag ’n besluit neem.”
En rondom die tafel sit daar dalk ’n vroue-predikant. ’n Paar vroue-ouderlinge. Diakens. ’n Skriba. ’n Voorsitter van ’n kommissie. Vroue wat geroep is. Vroue wat verkies is. Vroue wat verantwoordelikheid dra. Vroue wat saam onderskei, bid, dink en besluit.
Maar steeds: “Broers …”
Of dink vir ‘n oomblik oor die “Broederkringe” – die ontmoeting van die ringsleraars toe daar nog net “broers” was. Ten spyte daarvan dat vrouekollegas intussen ook aangesluit het by die predikantekorps, is dit dikwels steeds die benaming …
Dit gebeur waarskynlik meestal sonder enige kwade bedoeling. Dit is ʼn gewoonte. Kerklike taal wat oor dekades heen vasgelê is. Vir baie mense beteken “broers” in so ’n konteks eenvoudig: almal hier teenwoordig.
Maar taal het ’n geheue. “Broers” kom uit ’n tyd toe daar inderdaad meestal net broers rondom die tafel was. Toe die kansel, kerkraad, ring en sinode hoofsaaklik manlike ruimtes was. Toe vroue wel die gemeente se basaar gereël, kinders geleer, siekes besoek, kos gemaak, geld ingesamel, gebid en gedien het – maar nie noodwendig saam aan die tafel gesit het waar besluite geneem is nie.
Die tafel het egter intussen verander. Die taal soms nog nie.
Meer as ’n stoel rondom die tafel
Die NG Kerk het ’n belangrike pad gestap. Vroue kan reeds sedert 1990 as predikante dien. Die eerste vroue-predikant is in die Vrystaat bevestig: dr. Gretha Heymans, in die studentegemeente van die Universiteit van die Vrystaat. Vroue dien as ouderlinge en diakens, teoloë, dosente, navorsers, gemeenteleiers en in talle ander verantwoordelikhede binne die kerk. Daarvoor behoort ons dankbaar te wees. Dit is rede tot viering in ‘n wêreld waar vroue in talle kerkverbande nie toegelaat word om hierdie manier aan hul roeping uiting te gee nie – ja, ook in die geledere van ons susterskerke.
Maar daar is ’n verskil tussen toegelaat word om in die vertrek te wees en om te beleef: Ek behoort hier.
Erkenning gebeur nie net wanneer iemand tot ’n amp verkies word of ’n titel voor haar naam kry nie. Dit gebeur ook (veral?) in honderde klein oomblikke.
Wanneer haar naam korrek gebruik word. Wanneer sy nie outomaties gevra word om die notule te neem omdat sy die enigste vrou in die vertrek is nie. Wanneer ’n vroue-predikant nie telkens hoef te verduidelik dat sý die dominee is (en nie die dominee se vrou) nie. Wanneer haar standpunt nie eers gewig kry nadat ’n man dieselfde gedagte ’n paar minute later herhaal het nie. Wanneer grappies oor vroue nie as “ag, ons terg maar net” afgemaak word nie. Wanneer sy nie eers een van “die manne” hoef te word voordat sy werklik deel van die gesprek mag wees nie.
En ja, selfs wanneer iemand rondom ’n vergadertafel betyds onthou: daar sit nie net broers hier nie.
“Maar almal weet mos wat ons bedoel.”
Die vrou wat by “Broers, kom ons bid” haar oë toemaak, weet heel moontlik dat sy ook bedoel word. Maar dalk is die belangriker vraag nie of sy weet sy word bedoel nie. Dalk is die vraag waarom sy dit telkens moet vertaal om haarself ingesluit te hoor.
Ons sou vreemd opkyk as ’n voorsitter ’n gemengde vergadering open met: “Susters, baie welkom,” en dan verduidelik: “Ag, julle mans weet mos julle is ook ingesluit.” Juis daarom is hierdie klein taalgewoontes die moeite werd om raak te sien. Nie omdat elke uitsluitende woord ’n krisis is nie. Nie omdat ons mekaar met ’n vergrootglas moet dophou en wag dat iemand ’n fout maak nie. Maar omdat taal iets vertel van wat vir ons normaal geword het. En soms moet ons normale, vanselfsprekende dinge weer ondersoek.
Jesus en die vroeë kerk se tafel was groter
Die evangelie gee vir ons ’n merkwaardige prentjie van Jesus se omgang met vroue.
Hy praat met vroue wat ander mense vermy. Hy luister na hulle. Hy ontvang hulle getuienis. Hy laat hulle vrae toe. Hy verdedig hulle waardigheid. Hy leer hulle. Hulle volg Hom. Hulle ondersteun sy bediening. En wanneer die opstandingsverhaal begin, is dit vroue wat die leë graf ontdek en die nuus moet gaan vertel. Paulus se briewe getuig van vroue-medewerkers wat ‘n onmisbare rol in die vestiging van die eerste gemeentes gespeel het. Die “vanselfsprekende” skeidslyne van die samelewing word in die eerste paar dekades na Christus uitgevee in die koninkryk-familie se geboortestories.
Dit behoort iets aan die kerk van vandag se verbeelding te doen.
Want die kerk is nie bloot ’n organisasie wat besluit het dat vroue “weens sosiale druk” ook maar mag deelneem nie. Ons is ’n geloofsgemeenskap wat bely dat mense – vrou en man – na die beeld van God geskep is; dat God enigeen kan roep en gawes gee; dat die Gees nie volgens ons historiese magslyne werk nie.
Daarom behoort ons taal uiteindelik ook hierdie geloof te verklap.
Dalk begin verandering baie klein.
Ons hoef waarskynlik nie nóg ’n veldtog te begin nie. Dalk kan ons bloot begin luister. Luister volgende keer wanneer ons ’n kerkraadsvergadering, ringsitting, kommissievergadering of sinodale byeenkoms open.
- Wie word aangespreek?
- Wie word vanselfsprekend raakgesien?
- Wie moet hulleself telkens by die taal invoeg?
- Wie praat die meeste?
- Wie word onderbreek?
- Na wie se mening word eerste gevra?
- Wie se voorstel word onthou?
- Wie word as “sterk leier” beskryf – en wie, met presies dieselfde eienskappe, as “moeilik”?
Dit gaan uiteindelik oor veel meer as die woord broers. Dit gaan oor behoort. Ons kan die regte besluite op papier hê en steeds ou gewoontes rondom die tafel dra. Ons kan sê dat vroue volledig deel van die bediening en leierskap van die kerk is, terwyl ons taal onbewustelik steeds vertel van ’n tyd toe hulle nie was nie.
En miskien is dit een van Vrouemaand se geskenke aan die kerk:
Nie net dat ons vir ’n maand lank oor vroue praat nie, maar dat ons leer om die hele jaar lank met vroue, saam met vroue en ook anders oor vroue te kan praat.
Dalk begin dit volgende keer wanneer die voorsitter sy keel skoonmaak, oor die vergadering kyk en amper sê:
“Broers …”
… en dan die vroue rondom die tafel raaksien.
“Kollegas, welkom.”
Dis ’n klein verandering. Net één woord, maar soms verklap een woord dat die tafel inderdaad groter geword het.

