Skip to content Skip to sidebar Skip to footer

“…maar, verlos ons van die Bose.”

Afgelope Sondag hoor ek vir die eerste keer die Estoniaanse komponis, Arvo Pärt (1935), se brose toonsetting van die gebed wat Jesus ons geleer het, “Vater unser”. Gesing deur ‘n vyftienjarige Hanna von Marle, op klavier begelei deur Anneke Lamont. Eenvoud. Verlange. ‘n Roep. Afwagting. Dit klink intens uit elke noot, elke woord uit op. En dan die aangrypende einde van die gebed, soos Jesus ons trouens geleer het: “Sondern erlöse uns von dem Bösen.” Pärt se toonsetting keer vir hierdie slotwoorde terug na die openingsintervalle; gedrae, vertrouend, moedig, dog broos. ‘n Laaste diep basnoot…

Wat glo ons oor die Bose?

Ons drie credo’s uit die vroeë Christelike Kerk – Nicea, die Apostolicum, die Geloofsbelydenis van Athanasius – swyg in alle tale oor die Bose. “Ons glo nie in die duiwel nie, maar téén die duiwel”, het die Duitse teoloog, Otto Weber in 1959 geskryf. Geloof het met Gód te doen. Van oudsher is gelowiges deur profete en apostels opgeroep om hul oog gerig te hou op Christus en in die ligkring van sý teenwoordigheid en oorwinning te leef, die “Lig uit Lig”. Oor Hóm gaan dit in ons oudste geloofsbelydenisse, nié oor die duisternis. JA Heyns in sy Dogmatiek (1978) skryf tereg dat die Skrifte “uiters sober” is oor die identiteit, herkoms of wese van die Bose. Boonop is daar ‘n “duidelike ontwikkeling” in die Bybelse sieninge rakende Satan “tussen Job en Jesus”, dit wil sê vanuit die Ou- na die Nuwe Testament en van vóór tot ná die Ballingskap (A König, Fokus op die 300 Geloofsvrae wat mense die meeste vra, 2001). Wat ons veral in die Nuwe Testamentiese briewe teëkom is dringende waarskuwings teen die werkinge van die Bose in ons alledaagse lewe en onderlinge verhoudinge. Want daar ís ‘n “teenspraak en weerstand teen God se heerskappy”; Karl Barth noem dit “das Nichtige” – die “nee” wat uitgeroep word téénoor God se “ja” in sy goeie Skepping, in Christus en in sy verlossing en herskepping van mense (aangehaal by JJF Durand, Die Sonde, 1978:64-94).

Sê ons gereformeerde belydenisskrifte méér?

Die Nederlandse Geloofsbelydenis (NGB, 1561) open in Artikel 1 met ‘n belydenis oor “’n enige en enkelvoudige geestelike Wese wat ons God noem” – Hý, en slegs Hy, is “ewig, onbegryplik, onsienlik, onveranderlik, oneindig, almagtig, volkome wys, regverdig, goed en die alleroorvloedigste fontein van alles wat goed is.” Téénoor of buiten Hóm is daar niks of niemand van dieselfde wesensaard of mag nie. In Artikel 12 gaan dit oor die skepping van alle dinge, alle skepsels, ook engele, elk met ‘n eie wese, gestalte, voorkoms en taak. Dán word vermeld dat “sommige engele” in verdorwenheid verval het – “die duiwels en bose geeste” – en wat “ontaard het (tot) vyande van God sowel as van alles wat goed is”. Meervoud. “Soos moordenaars loer hul op die kerk”; op hulle wag “die ewige verdoemenis”. Dit is ‘n dwaling, waarsku die NGB, om te ontken dat daar “geeste en engele” is; dit is óók ‘n dwaling om te beweer dat “die duiwels hulle oorsprong uit hulleself het”, dit wil sê asof uit ‘n eie skeppingsorde en met ‘n outonome bestaan. Dit word duideliker in Artikel 13, oor die voorsienigheid van God: God wil die goeie en gee niemand of niks oor aan toeval of ongeluk nie; niks gebeur sonder sy beskikking nie – “selfs al handel die duiwels en goddelose mense” onregverdig; tewens, God “hou die duiwels en al ons vyande in toom”. Meervoud, telkens. Maar ingeperk. Waar kom die sonde vandaan? Die mens wat geval het, “deur na die woord van die duiwel te luister” (Artikel 14). Enkelvoud. In die artikels wat handel oor wat ons van Christus glo (18 tot 21) is daar geen verwysing na die Bose nie, maar wél na menslike sonde en verlorenheid – “hierdie verdorwenheid (wat) opborrel soos ‘n giftige fontein” – en daarom die sug na verlossing en versoening ons in Christus aangebied. Ons lees eers weer in Artikel 34 – oor die doop (!) – ‘n verwysing na “die duiwel” raak, in ‘n heel metaforiese sin: Die doop is ‘n geestelike besprinkeling met die bloed van Christus, “ons Rooi See waardeur ons moet trek om aan die slawerny van Farao, dit wil sê die duiwel, te ontkom en die geestelike land Kanaän in te gaan.” In Artikel 36, waar oor die doel en roeping van die burgerlike owerheid gehandel word, is ‘n verwysing na “die ryk van die Antichris” wat vernietig moet word, teenpool van die koninkryk van Jesus Christus. En sluit die NGB in Artikel 37 af – oor die laaste oordeel en ewige lewe – met ‘n aanhaling van Matteus 25:41 oor die “ewige vuur wat vir die duiwel en sy engele voorberei is”. Méér as dít bely die NGB nie; geen dogma word oor die Bose of demone uitgewerk en geleer nie – die werklikheid daarvan is ‘n gegewe en word in die verbygaan na verwys. Véél eerder wou die NGB “’n klinkende en oortuigde verkondiging van die bevrydende waarheid van die heil” wees (WD Jonker, Bevrydende Waarheid, 1994:89). Dít is waartoe ons uitgenooi word om te glo, niks meer, niks minder.

Twee jaar later – uit 1563 – open die Heidelbergse Kategismus (HK) in Vraag en Antwoord 1 op Sondag 1, met ‘n vermelding dat ek “uit alle heerskappy van die duiwel verlos” is, en verwys na tekste soos Hebreërs 2:14 en 1 Johannes 3:8; oor die feit dat “die duiwel kragteloos gemaak is”; “vernietig is” deur Christus. Dáárin lê ons troos: Ons behoort aan Christus en in dié enigheid vind ons rus en saligheid. Wat dadelik opval, is die verskil én ooreenkoms met die NGB ten opsigte van die Bose: Anders as die NGB praat die Kategismus deurgaans in die enkelvoud van “die duiwel”; maar nét soos die NGB gee die HK nie ‘n uitgewerkte demonologie of leerstuk oor die Bose nie. Verder, op een belangrike uitsondering na, verwys die HK slegs na “die duiwel” in terme van “sy werke” wanneer daar eintlik oor die verlossingswerk en heerskappy van Christus gehandel word: Die mens het homself onder “aanhitsing van die duiwel en deur moedswillige ongehoorsaamheid” in ellende gestort (Vr. & Antw. 9); dat ek as Christen geroep is om “teen die sonde en die duiwel (te) stry” (Vr. & Antw. 32); dat Christus as Here ons “uit alle heerskappy van die duiwel verlos het” (Vr. & Antw. 34); dat ek daarom ook “alle vorme van lieg en bedrieg as die duiwel se werke moet vermy” (Vr. & Antw. 112) en dat ons ook moet bid – soos in die Gebed – dat God se koninkryk moet kom, ‘n bede wat vra dat “die werke van die duiwel vernietig” sal word (Vr. & Antw. 123). Geen dogma oor die oorsprong, aard of bestaan van die Bose of bose geeste nie. Opmerklik ook niks oor die Bose wanneer die HK oor die voorsienigheid van God handel nie; ons lewens lê in sy Vaderhand; geen skepsel kan ons van sy liefde skei nie (Sondag 10). Máár, twee van die teksverwysings lei die leser direk na die gesprekke tussen God en satan oor die lewe van Job (1:12 en 2:6)! Dieselfde gebeur op Sondag 34 wanneer die eerste gebod uitgelê word – dat ek “ter wille van my sieleheil en saligheid alle afgodery… en aanroeping van heiliges of ander skepsels (moet) vermy… (en) die enige ware God reg leer ken, vertrou en liefhê” (Vr. & Antw. 94) – en niks oor die Bose gesê word nie, maar as Skrifbewys gewoon na Jesus se voorbeeld in Matteus 4:10 verwys word; daardie woestyngesprek tussen Hom en Satan! Die één uitsondering in die HK oor die Bose, is wanneer die sesde bede van die Onse Vader-gebed uitgelê word: “Verlos ons van die Bose” (Vr. & Antw. 127). Drie “doodsvyande hou nie op om ons aan te val nie; die duiwel, die wêreld en ons eie sondige natuur”, lui die Kategismus oor die drieluik van boosheid, gestaaf deur ‘n handvol tekste waaronder Efesiërs 6:12 se vermelding van ons stryd teen “owerhede, magte, wêreldheersers van hierdie duisternis, teen die bose geeste in die hemelruim”. Duideliker kon dit nie gesê word nie; niks minder, maar ook niks meer nie. Ons glo in God en ons troos lê in Christus en die krag van sy Gees – gaan die Kategismus dan spontaan oor in gebed en ‘n doksologie (Sondag 52)! Dít is belydenistaal! 

Miskien het Arvo Pärt ons dít in sy toonsetting van die Onse Vader laat hoor? Uit God en deur God en tot God is álles?

Nog minder sou die Dordtse Leerreëls (DL, 1619) ‘n leerstuk oor die Bose aanbied of wou afdwing. In vier stellinge en in twee dwalinge wat afgewys word, is daar wél verwysings na die Bose. Die eerste stelling – in die hoofstuk oor menslike verdorwenheid en die oorsprong van sonde – gaan oor wat met die mens gebeur het: Geskape na die beeld van God en toegerus met ware en heilsame kennis, het hy hom nogtans “deur die ingewing van die duiwel en uit eie vrye wil van God losgeskeur” (3.1). Die ander drie stellinge kom almal in die vyfde hoofstuk, wat oor die volharding van die heiliges handel: Dat “die aanvalle van die wêreld en die satan” ons bly teister en bedreig (5.3); dat hul waaksaam moet bly teen verleiding “deur hulle sondige natuur, die wêreld en Satan” (5.4) en dat ons “sondige natuur nie hierdie leer (van die volharding) verstaan nie, die Satan haat dit, die wêreld bespot dit en dwaalgeeste bestry dit” (5.15) – drie stellinge wat woordeliks by die HK se uitleg van die sesde bede aansluit! Dís die geloofswerklikheid waarin ons ons bevind en in moet volhard. Die eerste dwaling wat deur die Dordtse Sinode verwerp is en waarin na “die duiwel” verwys is (1.7), gaan oor twyfel en onsekerheid wat deur Dordt as “aanvalle van die duiwel” bestempel word, sy aanklagte teen “die uitverkorenes van God” (Romeine 8:33). Dit is asof jy Luther hoor! Die ander dwaling wat verwerp word – dat ons net ‘n “aansporing tot bekering nodig het” – misken volgens Dordt weer die “sataniese werking” in ons; ons het ‘n radikale ingrype van God nodig; ‘n hartsvernuwing en bekering wat deur die Gees bewerk word, véél meer oortuigend as wat “die Satan” ons enigiets sou kon belowe (4.7).

Wat moet ons dan van hierdie dinge sê?

In 2011 het daar ‘n verslag voor die Algemene Sinode van die NG Kerk gedien oor ‘n “Bediening van Bevryding”, ‘n lesenswaardige oorsig van Skrifgegewens oor die Bose en die sieninge van teoloë uit die geskiedenis van die Christelike Kerk tot in die 20ste eeu.[1] Dit was ‘n ondersoek na aanleiding van vrae uit gemeentes oor praktyke om “demone en bose geeste uit mense te dryf”; praktyke waaroor daar ook kommer by pastorale terapeute bestaan het. Hierdie verslag het slegs één verwysing na ons gereformeerde belydenisskrifte in gehad: Sondag 1 van die HK oor ons enigste troos in Jesus Christus. In ‘n hersiening daarvan (2015) is wel ingegaan op NGB Artikel 12 oor die bestaan van die Bose en demoniese magte. En word dan ‘n belangrike hermenutiese perspektief gestel:

“… die teks van die NGB kan nie as rasionele bewys (in wetenskaplike sin van die woord) dien vir die bestaan van allerhande geestelike en hemelse wesens nie. Dit is ook nie die bedoeling van die teks om dit te doen nie. Die bedoeling van die teks is om geloof in die werklikheid en destruktiewe aard van die boosheid op aarde sonder twyfel te bely…”[2]

Die Bose, ‘n werklikheid en destruktief, oppas!

In ons eie taal en literatuurskat, staan die gedig van NP van Wyk Louw uit 1940 – ja, juis dáárdie jaar toe ons planeet in duisternis gedompel is – uit: “Ballade van die bose”…

“Ken jy my nou?

       Het jy die spieël gesien

       en ken jy jou?

 

       Wanneer jy wil vlug

       uit die stad wat brand,

       dan vlug ek saam

       soos ‘n vrou aan jou hand.

 

       Die veles meen

       hulle ken my gesig,

       maar ek skuil te glansryk,

       te na aan die lig,

       en as hul wil waarsku

       en wysheid gee,

       dan praat ek reeds

       in die woordklank mee; …

 

       Ek is ín jou

       gevleg, gerank…

       Ek is in jou wese

       se ondergrond

       en ek trap in jou spoor

       soos ‘n goeie hond. …

 

       Ek was die skaduwee

       van Gods gang:

       ál wat Hy verlaat het,

       het ek gevang;

       en nou dat jy groei

       om die baasskap te hê,

       is ek die rooi naelstring

       waaraan jy lê. …”

 

Was dit profetiese woorde wat ons tóe juis in ons kerke móes hoor – dié “Ken jy jou?” Wáák teen die immerdreigende verslawing van die self en die slawerny van ander?

Wees versigtig, draai na die lig, bly bid: “Vater unser, erlöse uns…”

Gaan luister self: Een van die heel beste opnames op YouTube is uit 2012, van die jong Heldur Harry Põlda, begelei deur die komponis self, Arvo Pärt. Die gebed eindig net oop, ‘n kinderlike oorgawe in die hand van Hom wat ons lei, ons beskerm, ons verlos. Van onsself. En óók van die Bose, ja. Deur die donkerste van tye. Die laaste akkoord wat draal is in majeur…

Want kyk, dit het weer Advent geword. Só wag en waak die Kerk, die vrou beklee met die son en haar kroon van twaalf sterre en haar nageslag in die visioen van Openbaring 12, veilig en versorg deur Hom wat is en wat was en wat kom, die enigste Almagtige. Die oorwinning ís behaal; die duisternis kon die lig nie uitdoof nie (Johannes 1:5). Al staan die draak daar, al sóu dan ook uit die see en aarde die dier van hierdie bedeling en die dood bly verrys. Juis daarom bly ons bid: “Verlos ons van die Bose”. En dit is genoeg.

Jan Lubbe | NG Kerk Berg-en-Dal | Advent, 2022

116 | Maatskaplike NOODLYN