Deur dr Enrico Casaleggio, Vennote in Getuienis
Mohammed het beweer dat hy ‘n profeet van dieselfde God as die Christene en die Jode is. Om hierdie bewering te staaf, het hy hom op twee maniere op die Bybel beroep. Eerstens het hy gesê dat Jode en Christene kan weet dat hy ‘n ware profeet is, omdat die Koran die leer van die Bybel bevestig: “O julle mense van die Boek! Glo in wat Ons geopenbaar het [die Koran], en bevestig wat met jou is [die Bybel]” (Koran 4:47).
Moslems hou graag die Koran voor as God se finale openbaring. Daar is dan volgens hulle drie testamente, naamlik die Ou Testament, die Nuwe Testament en die Koran (as die derde en finale testament). Die probleem is egter onder andere dat die Koran nie die leer van die Bybel bevestig nie, selfs nie eers in die mees algemene sin van die woord nie. Samuel Green[1] beeld dit treffend skematies as volg aan:
Dit skep ‘n probleem vir Islamitiese leiers: Waarom bevestig die Koran nie die Bybel soos dit beweer om te doen nie?
Die tweede manier waarop Mohammed hom op die Bybel beroep het, was deur te sê dat die Bybel sy koms voorspel het. In die Koran, Sura 7:157 staan daar: “Diegene wat die boodskapper [Mohammed] volg, volg die profeet wat in die Torah en die Evangelie genoem word”. Die Bybel voorspel egter nie Mohammed se koms as ‘n ware profeet nie. Weereens, dit is ‘n probleem vir Islamitiese leiers.
Hulle oplossing vir hierdie twee probleme is om Christene en Jode te blameer vir die verandering van hul Skrif. Eerder as om die moontlikheid te oorweeg dat Mohammed verkeerd kan wees, blameer hulle eerder die ander – Christene en Jode. Dit is die fundamentele rede waarom die Islamitiese wêreld die Bybel aanval eerder as om dit te ondersteun en te verdedig soos die Koran hulle opdrag gee om te doen.
Volgende keer kyk ons hoe ons op hierdie besware van die Moslems reageer. Daar is egter nog heelwat ander besware wat hulle teen die Bybel het, wat ons gaan ondersoek.
[1] Green, S. 15 Februarie 2024. Understanding and Answering Islamic Criticisms of the Bible, in The Gospel Coalition, Australia Edition
Hierdie reeks Islam-artikels het ’n eiesoortige aanslag. Dit kom uit ’n apologetiese hoek en die reeks sal uiteindelik uitkom by ’n antwoord op verskillende vrae wat Moslems vra, byvoorbeeld oor die Godheid van Jesus. Hier is nog ’n artikel in die reeks oor apologetiese gesprekke met Islam. Dit is ’n voortsetting van die vorige artikel se tema, naamlik dat Moslems beweer dat die Bybel gekorrupteer is.
Kontak dr Enrico Casaleggio vir meer inligting by enrico.casaleggio@absamail.co.za