Deur Juan du Toit
26 Augustus 2026 | PredikanteSAAMkoms, Goudini
Vandag is die tweede dag van die PredikanteSAAMkoms 2026 – en as daar een ding is wat al hoe duideliker word, is dit dat hierdie SAAMkoms soveel meer as net ’n byeenkoms is. Dit is ’n plek waar mense weer asemhaal, waar grense vervaag en waar harte opnuut aan mekaar verbind word.
Ek sien hoe die SAAMkoms elke predikant hier beïnvloed. Byna elke persoon met wie ek gesels, dra iets van dieselfde lig: ’n glimlag, nuwe energie en, dalk die mooiste van alles, ’n hernude lus vir die lewe.
Predikante meng met mekaar. Grense word oorgesteek. Streke kuier oor streeksgrense heen, en stories word uitgeruil asof almal mekaar al jare ken. Ringe meng met ringe. Jonger en ouer generasies vind mekaar. En skielik is daar nie meer ’n onderskeid tussen “ons” en “hulle” nie.
Daar is net ons.
En is dit nie presies hoe dit moet wees nie?
Ons werk almal vir dieselfde Here en met dieselfde groot doel voor oë: om Hom te loof en sy Woord te verkondig. Hier word nuwe vriendskappe gebou, nuwe gesprekke begin en nuwe bande gesmee.
Ek weet, want ek het self al ’n paar nuwe mense in my lewe leer ken.
Ek het byvoorbeeld aan ’n tafel beland waar ek aanvanklik niemand geken het nie. Tog het hulle my sonder huiwering genooi om saam te sit. Ons het begin gesels oor die gewone dinge van die lewe – die soort gesprekke wat sommer vanself vloei.
Ek sal erken: aanvanklik was ek ’n bietjie geïntimideer. Hier sit ek immers tussen ’n klomp dominees!
Maar toe besef ek iets eenvoudig: agter elke preek, elke amp en elke titel is daar eerstens net ’n mens.
En mense praat.
Ek het begin ontspan, ontdooi en sommer net aangehou gesels. Want dit is dalk een van die mooiste dinge van die SAAMkoms: die ruimte om mekaar nie net as predikante te sien nie, maar as mense
Wanneer die voete rus, praat die musiek
Ná ’n opwindende dag vol sessies het ek besluit my voete verdien ook ’n bietjie genade. Ek het dus in die Grootsaal gaan sit waar ons almal bymekaarkom om saam te sing.
Toevallig was dit presies die oomblik toe die musiekgroep besig was om te repeteer.
Ek het daar gesit, gekyk en geluister. Terwyl die note deur die saal beweeg het, het ek besef hoe maklik ’n mens die mense agter die klanke miskyk.
Die atmosfeer wat ons almal hier beleef, gebeur nie vanself nie.
Agter elke lied, elke woord en elke oomblik van aanbidding staan daar mense wat sorg dat alles wat gehoor moet word, gehoor kan word.
Daarom wil ek sommer net vir die klankspan sê: welgedaan!
Julle werk dalk agter die skerms, maar julle bydrae word beslis voor in die harte van mense gehoor.
Vroue wat roepstem dra
Een foto. ’n Hele klomp glimlagte. En agter elke glimlag ’n unieke roeping, ’n verhaal en ’n hart wat gekies het om God se kerk te dien.
Die vroue predikante van die NG Kerk herinner ons daaraan dat roeping nie deur grense bepaal word nie. Hulle staan op kansels, langs siekes, tussen trane en lag, in vergaderings en in gemeentes – oral waar mense God se teenwoordigheid nodig het.
Hierdie foto is meer as net ’n mooi oomblik by die PredikanteSAAMkoms 2026. Dit is ’n herinnering aan die verskeidenheid van gawes waarmee God sy kerk bedien. Vroue wat preek, luister, lei, bemoedig en saam met ander die pad stap.
Een foto. Baie stories. Een roeping: om Christus se kerk met liefde en geloof te dien.
‘n Saal vol stemme
Later die aand het ons weer bymekaargekom om die Here te aanbid. Die aand van 26 Augustus 2026 was besonders.
Die lofliedere en boodskap het my diep geraak. Daar was iets besonders daaraan om in ’n saal te sit waar honderde stemme saam een lied sing.
Een oomblik staan jy nog alleen met jou eie gedagtes, en die volgende oomblik dra die stemme om jou jou saam.
Die woorde van die lied oor die houtkruis het deur die Grootsaal weergalm. En daar is eenvoudig iets aan die klank van honderde dominees wat saam sing wat ’n mens nie maklik in woorde kan vasvang nie.
Dit is groter as net musiek.
Dit is mense wat saam onthou.
Mense wat saam glo.
Mense wat saam aanbid.
Vir die mense wat gewoonlik vir almal bid
Maar miskien was die hart van die aand juis die doel daarvan: om vir die predikante van Suid-Afrika te bid.
Dit het my laat dink.
Hoeveel keer staan ’n dominee voor die gemeente en bid vir mense? Hoeveel keer dra ’n predikant die nood, vreugdes, bekommernisse en stories van gemeentelede saam met hom of haar?
En hoe gereeld bid ons as lidmate weer vir die mense wat so dikwels vir ons bid?
Besef ons altyd hoeveel hierdie mense self deurgaan?
By die SAAMkoms gebeur daar iets besonders: die mense wat gewoonlik voor staan om te bedien, kry kans om terug te sit. Die mense wat gewoonlik bid, word nou vir gebid. Die mense wat gewoonlik ander se laste help dra, kry vir ’n oomblik die geleentheid om hulle eie laste neer te sit.
Vir ’n paar dae kan die predikante van Suid-Afrika eenvoudig net mense wees.
Mense wat saam kuier.
Mense wat saam lag.
Mense wat saam sing.
Mense wat saam bid.
En mense wat herinner word:
Julle is nie alleen nie.
Dalk is dit wat die PredikanteSAAMkoms uiteindelik beteken – nie net om saam te kom nie, maar om weer te ontdek dat ons werklik SAAM is.
SAAM in roeping.
SAAM in geloof.
SAAM in aanbidding.
SAAM in die dra van mekaar.
Want wanneer grense verdwyn en harte saamklop, besef ons weer:
Ons is nie alleen op hierdie pad nie. Ons stap dit SAAM.
Bly ingeskakel vir die nuutste nuus, stories en gebeurtenisse vanuit die PredikanteSAAMkoms 2026.
| Foto’s is deur Juan du Toit en Phillip Kotze van NG Elarduspark verskaf.





