Skip to content Skip to sidebar Skip to footer

Hemelvaart

Deur dr Johan Nel,
seminariumbestuurder, NG Kerk Vrystaat

11 “Galileërs, waarom staan julle so na die hemel en kyk? Hierdie Jesus wat van julle af na die hemel toe opgeneem is, sal net so terugkom soos julle Hom na die hemel toe sien opgaan het.”

HANDELINGE 1:11 AFR83

Preek

Hemelvaartdag is die weeskind onder die Christelike feesdae. Vergelyk dit byvoorbeeld met Kersfees: Maande vóór Kersfees kondig die winkelvensters reeds die koms van Kersfees (Krismis!) aan. Die hele wêreld kom in rep en roer, want dis geskenke koop en koek bak van vroeg tot laat, om van die kersversierings nie te praat nie. Die wêreld met sy geldsug het onder andere deur sentimentaliteit die geleentheid van Kersfees aangegryp. Dit het kommersieel geraak.

Volg ons die vloei van die Kerkjaar, dan kom Lydenstyd, wat – so voel dit vir my – meer en meer aandag kry, dieper betekenis, en wonderlik dat dit so is. Wat my tref, is hoe Paasnaweek as’t ware ontwikkel het sedert my kinderdae, toe dit eintlik bloot ‘n lekker langnaweek was, na die dieptepunt, simboliek en nuanses en kleure wat dit nou bereik het. Lidmate besoek deesdae oor kerk- en gemeentegrense gemeentes waar moeite gedoen word met die Groot Lydensweek, en die swart van Goeie Vrydag, wat op Opstandingsondag oopbars in ‘n crescendo van jubeling en fees, want die Here het opgestaan!   

Hemelvaart bied egter moeilik aan die handel van die wêreld of aan die sentiment van die mens ’n geleentheid om daarvan ’n fanfare te maak. Hemelvaart is eintlik net die Christene se fees. Die wêreld trek geen voordeel uit Hemelvaart nie.

Daarom moet ons iets van Hemelvaart maak. In Advent wag ons op die koms van die Messias, met Kersfees herdenk ons die koms van Christus. Met Hemelvaart herdenk ons die vertrek. En weet Hy sal weer kom, nes Hy weggegaan het met die wolke.

Hemelvaart is dus ‘n afskeidsfees. Die einde van ’n tydperk het aangebreek. So word die Hemelvaart van Christus deur Lukas aan die einde van sy Evangelie beskryf …

Maar Hemelvaart is ook ‘n begin. ‘n Nuwe tydperk breek aan. Jesus verlaat die aarde, en nou, tot Hy weer kom, moet iets gebeur! Begin van ’n tydperk.

Hemelvaart is afskeid én begin.

Afskeid …

En nou staan Jesus met sy dissipels op die Olyfberg, en dink dalk (wie sal weet wat Hy gedink het?) aan Betlehem, met die eng’lestemme oor die velde: “… vrede op aarde, in die mense ’n welbehae.” Hier van bo sien Jesus onder aan die voet van die Olyfberg, die spruitjie Kedron, Swartspruit. En Hy onthou dalk die aandskemering toe Hy en sy dissipels deur die Kedron gestap het … Toe Judas soos ’n bloedhond op sy spoor was. Hy moes Getsémane van hier af raakgesien het.  Ironies hoe naby dié twee plekke aan mekaar lê. Hoeveel het nie dáár gebeur nie – en daarna … Jesus hoor dalk nog ’n skare wat skree: “Nie vir Hom nie maar Barabbas.” Golgota … En dan die nuwe graf in die tuin van Arimatea. Daarna die opstanding. En nou staan die elf hier by Hom. Hierdie keer gaan hulle wél sien … en getuie wees … van sy Hemelvaart …. Want hoe anders sal Hy sy Hemelvaart aan die kerk betuig!

Die hemel sal ons eers ken en verstaan as ons daar is. Die Hemelvaart sal ons eers ken en verstaan wanneer ons self opvaar na die hemel. Ons weet maar net dat ’n wolk Hom voor hulle oë weggeneem het, en dat sy dissipels verbaas gestaar het en gewonder het: Maar hoe op aarde …?

Die belangrike vir ons is: Dié hemele, wat eens op die heilige nag oopgegaan het om singende engele deur te laat, is weer op ’n skrefie met ’n wolk daarvoor, geopen en ’n onsigbare hand het Jesus van die aarde weggeneem.

Só was dié afskeid – sonder ’n traan … Inteendeel: Die dissipels het na Jerusalem teruggegaan met groot blydskap.

Begin …

Hemelvaart is afskeid met blydskap omdat dit ‘n begin is. 

Blydskap omdat Jesus ’n afskeidsboodskap deur twee engele tot sy dissipels laat bring om hulle te herinner dat hulle aan die begin van ’n tydperk staan, ’n tydperk waarin gedoen moet word.

Hemelvaart is einde en begin.

Só beskryf Lukas dit aan die einde van sy Evangelie, maar ook herhaal hy dit as die begin van die Handelinge.

Hemelvaart is méér ’n begin as ’n einde.

Kyk na Jesus daar op die Olyfberg as Hy opvaar: “Hy het sy hande opgehef en hulle geseën. En terwyl Hy hulle seën, het Hy van hulle af weggegaan en is in die hemel opgeneem” (Lukas 24:50,51).

Dat Jesus die dissipels seën verseker hulle dat al gaan Jesus weg, hou Hy nie op om hulle te seën nie.

Die Hemelvaart is die begin van die tydperk van geseënde kerkwees – die tydperk wat daar is tussen Hemelvaart en wederkoms; ’n tydperk wat genoem kan word ’n tydperk van God se geduld (Van Niftrik).

Omdat God die wêreld só liefgehad het, dat Hy sy eniggebore Seun gestuur het, sodat elkeen wat in Hom glo nie verlore sou gaan nie maar die ewige lewe kon hê (Johannes 3:16). God het die wêreld lief.

Hemelvaart is die begin van God se oorwinningstog deur die wêreld. Die kerk moet met die blye boodskap deur die wêreld trek.

Hy roep vir Hom dienaars, apostels, mense, ek en jy, die kerk om die hele wêreld in te gaan en by almal te dring om in te kom en aan te sit aan die bruilofsmaal.

Hemelvaart is ‘n majesteitlike slot-akkoord; Hemelvaart is tegelyk ook die inleidingsnote van die nuwe begin.

Waarvan moet jy afstand doen, afskeid neem? Wat staan in jou pad? Wat verhinder jou geestelike groeiproses?

Ja, saam met die dissipels staan ons in verwondering oor hoe Hy opvaar, maar die engel vra ook vir ons: Waarom staan julle so na die hemel en kyk? Die implikasie: Kyk nou af, rondom, kyk oral. Dis die wêreld in sy verlorenheid, hooploosheid én hopeloosheid. Dit is nou ons taak, en ons opdrag. Raak betrokke by hierdie wêreld. Sit voort wat Hy begin het, saai, plant, verkondig, maak mense dissipels. Bring hoop. Hy kom weer! Maar tot dan moet ons besig bly, trouens, wanneer Hy kom, moet Hy ons besig vind met Sy dinge!

Dit getuig en bely ons wanneer ons VONKK-lied 484 sing:

 

In ‘n wêreld vol gebrokenheid, ‘n wêreld sonder hoop,

sluit die wete dat U ryk sal kom die toekoms vir ons oop.

Ons vertrou nie op ‘n mens nie; ons vertrou op geen sisteem,

maar vertrou ons vir die toekoms op U Heer, alleen.

Refrein

Laat U lig nou deur die donker breek, kom wees U self ons son,

soos ons bid, o Here, dat U Ryk, U koninkryk mag kom.  

Tot U Ryk, U heerskappy, o Heer, vir ewig deur kan breek

sal u kinders vol van dankbaarheid die hoop weer aan kom steek;

tot geen boosheid langer heers nie en geen siekte lyding bring

En ons ewig saam ons loflied tot U, o Heer mag sing.

Refrein

Laat U lig nou deur die donker breek, kom wees U self ons son,

soos ons bid, o Here, dat U Ryk, U koninkryk mag kom.

Maar tot daardie laaste môre breek, die nuwe era kom,

sal U kerk U Naam besing, o Heer, ons loflied nooit verstom.

Hoor ons sing, oor al U grootheid en U goedheid eindeloos.

Hoor die lied oor U versorging, U liefde wat vertroos.

Refrein

Hoor ons stemme in ‘n massakoor wat oor u ryk bly sing,

Soos ons oor die hele aarde, Heer, U lof laat wyer kring. 

 | deur Tertius Botha:  Dr Johan Nel

 

116 | Maatskaplike NOODLYN