Deur Mariëtte Odendaal
“Hulle sal Hom aanskou vir wie hulle deurboor het.”
Johannes 19:37
Die kruis as simbool van die Christendom leer ons dat jy wen deur te verloor – deur jouself te ‘verloor’ wen jy ’n heel nuwe, opgestane lewe in Christus.
Wat het Jesus nou eintlik gedoen wat so verskriklik was dat hy uiteindelik aan die kruis vasgespyker is?
As ons in hierdie Lydenstyd by die gebeure van Jesus Christus se kruisiging stilstaan, sal dit dalk goed wees om ’n slag aandag te gee aan die historiese redes waarom Hy daar beland het.
As ons die geskiedenis wat oor dié gebeure opgeteken is, nagaan, dan lees ons van ’n liefdevolle mens wat binne-in sy eie godsdiensgroep hernuwing wou bring – wat die idee van ’n straffende, kontraktuele God wou omkeer na ’n liefdevolle en genadige God. Hy het die liefde, vergifnis en barmhartigheid van God kom beklemtoon en dit veral aan die randfigure van die samelewing kom bewys deur sy respek en agting vir hulle – iets wat baie mense vrygemaak het sodat hul lewens drasties verander het. Ons lees talle voorbeelde daarvan in die vier Evangelies.
Waarom sou hierdie goedhartigheid van Jesus en sy erkenning van alle mense as ewe geliefd en waardevol in die oë van God, die godsdienstige leiers van sy tyd dan so kwaad gemaak het? Waarom sou hulle Jesus se optrede so veragtelik en bedreigend gevind het dat hulle Hom spoedig as vyand beskou het?
Was dit vir hulle dan net een te veel dat Jesus almal, ook alle rasse en selfs vroue, as gelykes behandel het, mense hul oortredinge vergewe het en aan hulle die boodskap gebring het dat almal in liefde deur God aanvaar word?
Waarom kon hulle nie hoor of sien wat Jesus bedoel nie? Was dit hulle magsug en sogenaamd bedreigde leiersposisies? Was hulle bang dat hulle dit dalk sou verloor? Was hulle dalk bang dat hulle nie meer die massas sou kon beheer deur hul veroordelende en liefdelose, skeef geïnterpreteerde wette nie?
Jesus se drie jaar van lering aan sy volgelinge oor God se vergewensgesindheid, onvoorwaardelike liefde en riglyne oor hoe om ’n betekenisvolle lewe te lei, het geen impak op hulle gemaak nie. Dit was asof hulle blind en doof was vir hierdie Goeie Nuus. Inteendeel, dis asof Sy insigte en lering olie op die vuur was.
Dit bereik ’n krisis teen Paasfees as die Joodse godsdiensleiers Jesus aankla en hy deur die hoogste gesag, die Sanhedrin, skuldig bevind word. Uiteindelik dring hulle daarop aan dat Barabbas in sy plek vrygelaat word, sodat Jesus deur sy eie mense se toedoen gemartel en aan die kruis gespyker word. Hy word ook deur sy eie binnekring verloën en verraai.
As ons dus vanjaar na Jesus aan die kruis kyk, moet ons dalk eerder vra: Waar is ek aandadig aan die gebrek om op te staan vir dit wat reg en regverdig is? Waar word ek op sleeptou geneem saam met die stroom van populistiese denke rondom vleisbraaivure? Waar laat ek my meesleur deur die mening van die massas, terwyl onreg die hele tyd rondom my seëvier? Waar is my insette om dit wat liefdevol, eerbiedig en helend is te bevorder om só van die hele wêreld ’n beter plek vir almal te help maak?
Kyk jy egter in die oë van Jesus aan die kruis, onthou jy hoe Hy kort voor sy dood aan die kruis die mense wat hom hierdie gruwelike lyding aangedoen het, vergewe. In daardie oomblikke sal jy ook ’n diep ervaring beleef van hoe Christus jou pyn, onvergewensgesindheid, tragedies en eensaamheid heelmaak.
Om Jesus aan die kruis te volg, sal noodwendig ook jou eie kruise beteken. Ons sien dit oral in ons eie moderne geskiedenis, hoe mense wat opstaan vir dit wat reg en regverdig is, deur hul eie mense uitgeskuif en verwerp word, maar dat dit betekenis aan duisende ander mense se lewens gee. Jou kruise lei jou ook na opstanding, na ’n nuwe lewe in Christus, na nuwe en betekenisvolle menswees.
Mag hierdie Lydenstyd ons opnuut in Christus laat transformeer. Die kruis as simbool van die Christendom leer ons dat jy wen deur te verloor – deur jouself te ‘verloor’ wen jy ’n heel nuwe, opgestane lewe in Christus. Jy kyk met ’n heel nuwe bril na die wêreld om jou en word ’n seën vir almal om jou.