Deur prof Laetus OK Lategan, tentmakerleraar verbonde aan NG Gemeente Bloemheuwel
Almal kan seker saamstem met diè stelling: “Wie nie gely het nie, het nie geleef nie.”
Lyding is ‘n algemeen-menslike ervaring. Mense ly oor siekte, verbreekte verhoudings, omstandighede buite hulle beheer en nog baie meer. Enige lyding bly ‘n persoonlike ervaring. Niemand kan namens my óf vir my ly nie.
Lyding vertel van ons onmeetbare weerloosheid. Van die aangrypendste verse oor lyding, lees ons in Psalm 22:12-16 waar die psalmdigter opmerkings maak soos “Ek is soos uitgestorte water” of “Ek is so min werd soos ‘n potskerf”. Hierdie ellende metafore verwoord die smartlike ervaring van hoe ‘n mens se lewe kan wees. Veel anders as wat die bedoeling seker was/is.
In die Christelike geloofstradisie vra ons waar is God in krisistye, swaarkrytye? Hoekom bly Hy so ver as ons roep (Ps 22:3)? Die wonder oor waar God is, word verwoord deur die bekende “My God, my God, waarom het U my verlaat en bly U ver as ek om hulp roep?” (Psalm 22:2). Lyding word gekoppel aan God wat op ‘n afstand is. Óf ‘n God buite hoorafstand. Óf ‘n God wat nie wil hoor óf antwoord nie. Eie aan die menslike aard, is antwoorde belangrik. Ons soek bewyse vir wat gebeur het. Is dit dalk iets wat ek gedoen het? Dink maar aan Job se volhou dat hy niks “verkeerd” gedoen het nie. In Johannes 9 is die vraag deur wie se sonde is die seun blind? Sy eie? Sy ouers s’n? Die antwoord is verrassend. Nie een van hulle nie! (Johannes 9:2-3). Maar laat dit die lydendes beter voel?
Dikwels wonder ek as ons dan nou al die antwoorde het oor hoekom dit swaar gaan, óf dit ‘n mens werklik sal help en troos. Ek twyfel. Dikwels. Bewysbare redes oor lyding is nie sonder slaggate nie: Dit kan troos bied óf as ‘n (nuwe) dispuut gebruik word. Veral laasgenoemde is een van die redes waarom iemand wat ly maklik die rug op geloof kan keer. Ek is dan onskuldig. Ek word onregverdig gestraf.
Dit is juis hierdie dispuut wat my aandag trek. Breedweg gesien, is daar twee benaderings. Óf ons probeer God se aandeel in ons lyding te regverdig, óf dit word gebruik om God verantwoordelik te hou vir wat gebeur het. God se bestier, beheer en almag kom maklik onder skoot. Mense begin twyfel aan die almag van God. Bely ons nie dat Hy die Skepper én Onderhouer van alles is nie? As Hy almagtig is, wáárom help Hy nie? Die oorlog tussen Israel en Hamas het opnuut hierdie vraag ontketen. Soos met elke ander oorlog.
Wáár is God in die lyding van mense? Hoe kan die antwoord in Johannes 9:3 enige troos bied?
Daar is dalk tog ‘n manier, ‘n ander invalshoek.
Wanneer ons die Matteus-evangelie lees, laat die skrywer ons die krag van God op ‘n ander wyse sien: Sy broosheid. Die verwagting was dat die Messias ‘n “sterk” God moes wees om hulle van die Romeinse Ryk te bevry. Maar hierdie Jesus? Hy is nederig en sagmoedig. Daar is uitsprake oor die juk wat Hy oplê, dat sy juk sag en sy las lig is (Matteus 11:28-30), die geknakte riet wat Hy nie afbreek nie en lamppitte wat nie uitgedoof sal word nie (Matteus 12:18-21). Daar is nog meer uitsprake soos dat Hy gekom het om te dien, eerder as om gedien te word (Matteus 20:28). Watter paradoks! Totaal die teenoorgestelde as wat ons verwag (het). In plaas van teksboekantwoorde, is dit die voorbeeld wat die hardste spreek. Matteus 27:39-44 vertel van spot en vernedering. “Ander het Hy gered …” In sy menslike broosheid roep Hy soos die Psalmdigter na God. Hierdie roep word ‘n oorgawe aan God; ‘n belydenis dat die broosheid van die liggaamlike lewe nie in ons hand is nie. Die lewe word teruggegee aan die Gewer daarvan.
Hiermee word die kruisgebeure die grootste paradoks van alle tye: Te midde van absolute hulpeloosheid en lyding onsluit Jesus die grootste krag denkbaar; gee Hy ‘n woordlose maar impakvolle hoop. ‘n Hoop wat verby vandag en môre leef. Hoe? Dit kan ons nie altyd sê nie. Dìt is die misterie van God. Daar waar die reserwes leeg loop, is Hy aan die werk. Hy word die reserwe.
Paulus skryf aan die tekensoekende Jode en wysheidsoekende Grieke dat die kruis God se krag en wysheid is; Sy antwoord aan almal wat tekens en wonders soek (1 Korintiërs 1:24). Dié antwoord is juis wat ons nie (altyd) wil hoor nie.
Hoe ons ookal daarna kyk, is lyding gelykstaande aan broosheid. Dit lê ons hulpeloosheid bloot. Ook ons swakheid. En ons redeloosheid. Dit is mensvernederend. Maar die oorgee aan God is wat ware geloof is. Oorgee van my broosheid aan ‘n God wat self broosheid “begryp” en “deurleef” het. Verstommend.
Twee verskillende brooshede en nie een is sonder hoop of verwagting nie.
In lydenstyd word die kerk weer bewus van Jesus se broosheid en lyding, maar vir ‘n doel. Ons ontdek opnuut: Daar waar ek broos is, en wanneer ek broos is, leef ek met hoop en nie antwoorde en bewyse nie. Die hoop is ook nie dat môre alles weer “reg” sal wees nie, maar eerder die besef dat waar die antwoorde en bewyse ontbreek, het ek nog ‘n laaste noodlyn oor: “Die brose God”.

| verskaf: Prof Laetus OK Lategan