Skip to content Skip to sidebar Skip to footer

Vryheidsdag: Meer as net ’n dag op die kalender

Deur Mariëtte Odendaal

Ware vryheid is nie net tot ons eie voordeel nie. Ons is vrygemaak sodat ons in diens van God en ander kan staan. Dit beteken dat ons as kerk geroep is om onreg te beveg, die waarheid te verkondig en om in liefde vir ander om te gee.

Op 27 April vier Suid-Afrika Vryheidsdag – ’n dag wat ons herinner aan die oomblik in 1994 toe alle Suid-Afrikaners vir die eerste keer as gelykes by die stembus kon gaan stem. Dit was die begin van ’n nuwe era waar onderdrukking en onreg vervang is deur die hoop op ’n toekoms van vryheid en geregtigheid vir almal.

Vir gelowiges is hierdie historiese vryheid kosbaar, maar ons weet dat daar ’n groter vryheid is – een wat nie deur mense of regerings gegee of weggeneem kan word nie. Hierdie vryheid is die verlossing wat ons in Christus het. Jesus sê in Johannes 8:36: “Eers as die Seun julle vry maak, sal julle werklik vry wees.”

Dit bring ons by die vraag: Wat beteken ware vryheid regtig? En hoe leef ons as gelowiges in hierdie vryheid?

Vry daarvan om net op jouself gerig te wees

Ware vryheid begin by die evangelie. Alle mense word gebore met ’n inherente selfgerigtheid en fokus op hul eie behoeftes – en dit is ook reg so – jy sien dit veral by klein kindertjies as beskermingsmeganisme.

Soos jy egter ontwikkel en volwassenheid bereik, behoort hierdie selfgerigtheid ook te ontwikkel na omgee en geestelike volwassenheid. Dit is waarop Christus se lering veral fokus – om te sterf aan jouself en te groei in jou omgee vir jou medemens.

As jy dit egter nooit ontwikkel nie, verblind dit jou en weerhou hierdie onvermoë jou van die ware Lewe. Geen politieke of sosiale bevryding kan dit oplos nie; in Christus is hierdie verlossing wel moontlik.

Paulus skryf in Romeine 6:22: “Maar nou – julle is vrygemaak van die sonde (of selfgerigtheid) en in diens van God gestel en die vrug daarvan is dat julle geheilig word, en die uiteinde is die ewige lewe (om vry te leef van jouself).”

Dit is ’n voortdurende proses, maar dis nie meer ons meester nie – in Christus kan ons nou die ware geestelike vryheid ervaar en as nuwe mense lewe.

Vry om God te dien en ander lief te hê

Vryheid in Christus beteken nie wetteloosheid nie. Dit beteken dat ons vry is om God en ons medemens met ’n suiwer hart te dien. Paulus herinner ons in Galasiërs 5:13: “Julle, broers (en susters), julle is tot vryheid geroep. Moet net nie julle vryheid misbruik as ’n verskoning om sonde te doen nie, maar dien mekaar in liefde.”

Ware vryheid is dus nie net tot ons eie voordeel nie. Ons is vrygemaak sodat ons in diens van God en ander kan staan. Dit beteken dat ons as kerk geroep is om onreg te beveg, die waarheid te verkondig en om in liefde vir ander om te gee.

Vry van vrees vir die toekoms

Baie mense leef in vrees – vrees vir ekonomiese onsekerheid, vrees vir misdaad, vrees vir die toekoms en alles wat vreemd of onbekend is. Vir ons as gelowiges behoort vryheid egter vreedsame sekerheid te bring. 2 Korintiërs 3:17 sê: “… waar die Gees van die Here is, is daar vryheid.”

Hierdie vryheid gee ons die wete dat niks ons kan skei van die liefde van God nie (Romeine 8:38-39). Dit herinner ons daaraan dat ons toekoms nie in mensehande lê nie, maar in die volmaakte plan van God.

Hoe leef ons hierdie vryheid uit?

Ware vryheid in Christus is nie net iets wat ons ontvang en vir onsself hou nie – dit moet sigbaar wees in ons daaglikse lewens.

Leef met dankbaarheid. Moenie hierdie vryheid as vanselfsprekend aanvaar nie. Dank God daagliks vir die nuwe lewensmoontlikhede wat Hy vir jou in Christus gegee het.

Moenie weer die slaaf van jou eie selfgerigtheid word nie. Baie mense wat in Christus vrygemaak is, val terug daarin of in wêreldse vrees. Galasiërs 5:1 waarsku: “Christus het ons vrygemaak om werklik vry te wees. Staan dan vas in hierdie vryheid en moet julle nie weer onder ’n slawejuk laat indwing nie.”

Deel hierdie vryheid deur jou manier van léwe – nie jou woorde nie. Ons roeping is om hierdie vryheid sigbaar teenoor ander mense te leef. Op hierdie manier sal almal om jou die vreugde van ’n lewe in Christus kan ervaar.

’n Hoër Vryheid

Terwyl ons op Vryheidsdag nadink oor die betekenis van vryheid, laat ons onthou dat geen nasionale of politieke vryheid ooit vergelyk kan word met die vryheid wat ons in Christus het nie.

Ons kan dankbaar wees vir die vordering wat ons land al gemaak het, maar ons weet dat ware vrede en geregtigheid slegs sigbaar sal wees as ons Christus heelhartig volg; iets wat jou altyd sal uitdaag en die moeiliker pad sal wees om te volg.

Mag ons as kerk hierdie vryheid uitleef en ’n lig vir ’n wêreld wees wat altyd op soek is na ware hoop en verlossing.

* Bron van verse: DIE BYBEL, Nuwe vertaling: 1983