Deur dr Nina Müller van Velden, Departement Ou en Nuwe Testament, UV
Elke Donderdag, regoor die wêreld, is daar Christene wat doelbewus kies om swart uitrustings te dra. Dikwels ook met ‘n aansteek-knopie waarop die woorde “Thursdays in Black – Towards a world without rape and violence” verskyn. Ook in Suid-Afrika neem Christene uit verskeie kerkverbande hieraan deel, en onlangs het hierdie weeklikse ritme aan die Fakulteit van Teologie en Religie, Universiteit van die Vrystaat, posgevat.
Vanwaar hierdie gebruik? Vanaf 1988 tot 1998 het die Wêreldraad van Kerke (WRK) ‘n dekade-lange fokus gehad met die tema “Decade of Churches in Solidarity with Women”. Gedurende hierdie tien jaar het die verhale van verkragting as oorlogswapen, gender-ongeregtigheid, mishandeling, geweld en die tragiese nadraai van hierdie tipe geweld, toenemend sigbaar geword. In dieselfde asem was dit ook die veerkragtigheid van vroue, hul agentskap en pogings om hierdie vorme van geweldpleging te weerstaan, wat te voorskyn gekom het.
Vandaar het die beweging “Thursdays in Black” ontstaan, met die uitnodiging aan kerkverbande en lidmate van kerke wat deel is van die WRK om elke Donderdag swart te dra; enersyds as simbool van rou oor die voortgesette geweld teen meisies en vroue, andersyds as simbool van weerstand en die hoop op ‘n wêreld waar verkragting en geweld nie die oorhand het nie. Op ‘n eenvoudige manier word die stilte oor verkragting en geweld verbreek, en word getuienis gelewer deur gelowiges wat in solidariteit met slagoffers en oorlewendes van geslagsgebaseerde geweld staan.
Op Woensdag 13 Maart is die “Thursdays in Black” beweging tydens Coram Deo, die weeklikse spiritualiteit-sessie van die Fakulteit Teologie en Religie, Universiteit van die Vrystaat, geloods. Dit het plaasgevind aan die hand van ‘n liturgie van klag, verootmoediging, voorbidding en Woordverkondiging oor die verkragting van Tamar (2 Samuel 13:1-22) – ‘n verhaal wat alte bekend klink, ook vir lesers vandag.
Augustusmaand is Vrouemaand, en juis weer ‘n geleentheid vir gelowiges en gemeentes om hul stem as getuienis teen die wreedheid en onmenslikheid van geslagsgebaseerde geweld te laat hoor. Statistieke dui daarop dat 1 uit elke 3 meisies en vroue tydens hul leeftyd ‘n vorm van geweld ervaar. Suid-Afrika is een van die onveiligste lande in die wêreld vir meisies en vroue. Die kerk is nie gevrywaar van hierdie tipe geweldpleging nie. Ons roeping is juis om ‘n ruimte te wees waar slagoffers hul verhale mag vertel en waar onreg aangespreek mag word.
Heer, wees ons genadig. In hierdie maand, en elke ander dag van die jaar.
Vir meer inligting oor hoe om by hierdie beweging betrokke te raak, hetsy as individu of as gemeente, kontak dr Nina Müller van Velden by mullervanveldenne@ufs.ac.za.


| Verskaf: Dr Nina Müller van Velden, Departement Ou en Nuwe Testament, UV