Deur Mariëtte Odendaal
“Wat hierdie geleentheid so besonders gemaak het, was dat almal die erns van die teologiese opleiding kon beleef en daarna ook die kuratoriumlede wat teenwoordig was, kon ontmoet.”
Dr Andries Hoffmann
Op Dinsdag 4 Junie was daar groot vreugde in die NG Kerk in Afrika (NGKA) toe drie van hul finalejaar-teologiestudente, mev Athibeng, mnr Hlahane en mnr Mojaki, se akademiese uitkomste en praktiese werk deur die eksamenkommissie van die NGKA-kuratorium goedgekeur is.
Ons het meer gaan uitvind by dr Andries Hoffmann, dosent en hulp-skriba van die NGKA se Algemene Sinode.
Andries, wat sou jy as die hoogtepunt van ’n teologiestudent se praktiese werk beskou?
“Baie beslis hul proefpreke. Deel van ’n teologiestudent se prakties is ’n proefpreek wat gelewer moet word en wat ’n beslissende rol ten opsigte van hul bevoegdheidsassessering speel.“Dit is ook ’n spesiale feestelike geleentheid vir die gemeente waar die student sy of haar prakties gedoen het. Lidmate van die ring se omliggende gemeentes, asook lidmate van die student se tuisgemeente, studentevriende en familielede woon dan ook gewoonlik hierdie besondere geleentheid by.”
Vertel vir ons meer van die legitimasiegeleentheid in Junie vanjaar.
“Op Woensdag 5 Junie is die drie bogenoemde studente in ’n yskoue Bloemfontein by die NGKA Bloemfontein-Suid gelegitimeer.
“Prof Johannes Makutoane (administrateur van die NGKA teologiese opleiding) was die programleier, ds Sidumo (skriba van die kuratorium en leraar van die NGKA Daniëlskuil) het die preek waargeneem, dr Josef Pali (voorsitter van die kuratorium) het die legitimasie hanteer en ds SC Kgobokoe (moderator van die NGKA se Algemene Sinode) het namens die kuratorium die proponente gelukgewens en op die pad vorentoe bemoedig. Hierdie drie besondere studente is dus nou as leraars beroepbaar.
“Wat hierdie geleentheid so besonders gemaak het, was dat almal die erns van die teologiese opleiding kon beleef en daarna ook die kuratoriumlede wat teenwoordig was, kon ontmoet.”
In watter opsig help die Helpmekaar Beursfonds jou met jou studiekoste?
“Hierdie fonds is van groot hulp, veral wat my vervoerkoste betref.“Vanaf 2023 is die eerste groep grondslagfase-onderwysstudente vanaf die Bloemfonteinkampus na die Suidkampus verskuif. Dit is ’n hele ent verder van my verblyf as wat die Bloemfonteinkampus is en het dus verhoogde vervoerkoste beteken.
“Ek is baie dankbaar dat ek toe die Helpmekaar Beursfonds kon kry, want dit help my ongelooflik baie met my brandstofkoste; iets wat groot verligting vir my en my ouers gebring het.”
Vertel ons ’n bietjie van die besondere pad wat die NGKA in hierdie uitdagende tye met die teologiese opleiding geloop het.
“In 2011 het die NGKA se Algemene Sinode kennis geneem dat daar vir vier jaar geen nuwe teologiestudente uit die NGKA vir opleiding aangemeld het nie. Heelwat van ons lidmate wat deur die Here geroep en deur kerkrade en ringe goedgekeur is, kon nie toegang tot die Universiteit van die Vrystaat (UV) kry of die studies bekostig nie.
“Die NGKA se Algemene Sinode het toe besluit om meer betrokke te raak by die opleiding en in samewerking met geakkrediteerde instellings vir hierdie voornemende studente ’n deur oop te maak om deeltyds te kan studeer.
“Reeds met die eerste inname in 2013 was daar twaalf studente, waarvan party reeds vir tien of meer jaar vir hierdie geleentheid gewag het. In 2015 is daar vyf en in 2017 nog sewentien studente ingeneem.
“Die 2013- en 2015-innames het as eerste tree ’n kursus in teologie aan die Hugenote Kollege gedoen wat ons saam met die Hugenote Kollege kon ontwerp. Daarna het hulle die Diploma in Teologie aan die Mukhanyo Teologiese Kollege gedoen. Van hulle het daarna ook die Gevorderde Diploma aan die UV gedoen.
“Heelwat van hierdie afgestudeerde studente dien reeds as leraars in NGKA-gemeentes tot so ver as Rustenburg en Cornelia. Die bogenoemde drie studente wat sopas gelegitimeer is, was deel van die 2017-inname.
“Weens veranderde omstandighede, onder andere die uitfasering van die Gevorderde Diploma in Teologie aan die UV en die beskikbaarheid van die National Student Financial Aid Scheme (NSFAS)-beurse het die Algemene Sinode van die NGKA in 2023 besluit dat studente voortaan minstens ’n BTh moet doen. Ons het reeds twee voltydse BTh-studente aan die UV.
“Ek, dr Pali en prof Makutoane het die voorreg gehad (en is steeds bevoorreg) om as dosente van die NGKA hierdie studente te begelei, ook in hul geestelike vorming en die aanbied van kerk-eie stof. Vir hierdie doel word ook gebruik gemaak van kundiges in die NGKA, asook dosente of afgetrede dosente van die UV.
“Die NGKA is baie dankbaar vir die goeie verhouding met die UV se Fakulteit Teologie asook met die kuratorium en seminarium van die NG Kerk Vrystaat. Onder andere kon ons saam ’n baie geseënde kamp vir studente van die NG Kerk-familie in 2020 aanbied.”
As ek reg verstaan, het die NG Kerk Vrystaat se Beursfonds ’n belangrike ondersteunende rol in die studies van hierdie studente gespeel?
“Ja, daarsonder sou die studente nie hul teologiekursus kon voltooi nie. Dis danksy hierdie beurs dat hulle die Gevorderde Diploma in Teologie aan die UV kon behaal. Mev Athibeng is aangewys as die beste student vir die Gevorderde Diploma in Teologie in 2023. Dit dien as afronding van hul studies wat reeds in 2017 aan die Mukhanyo Teologiese Kollege begin is.
“Verskeie van ons studente is al op hierdie manier in die verlede gehelp. Twee van ons studente wat in 2013 met hul studies begin het – eers aan die Hugenote Kollege op Wellington en daarna aan die Mukhanyo Teologiese Kollege – kon daarna ook hul Gevorderde Diploma in Teologie voltooi danksy hierdie beursfonds. Hulle is ds Chaka (leraar van die NGKA Dewetsdorp) en ds Phathe (leraar van die NGKA Bloemfontein-Suid). Beide van hulle, asook nog ’n NGKA-leraar, ds Puroe, is tans besig met hul honneursgrade in teologie aan die Universiteit van die Vrystaat.
“Die NGKA waardeer hierdie onontbeerlike ondersteuning van die NG Kerk Vrystaat en dat hulle hierdie beurs vir al die lede van die NG Kerk-familie oopgestel het; daarsonder sou ons studente nie hul studies kon voltooi nie.”
Kontak
Vir meer inligting:Dr Josef Pali | tPaliKJ@ufs.ac.za
Dr Andries Hoffmann | andrieshoffman@gmail.com
Kontak
Tertius Botha bytbotha@ngkvs.co.za vir meer inligting.
Administrateur van die Helpmekaar Beursfonds (NG Kerk Vrystaat)
V.l.n.r.: Proponente Hlahane, Athibeng en Mojaki