Skip to content Skip to sidebar Skip to footer

Retreat vir alle jaargroepe: 19 tot 22 Augustus 2022

Menuha, (plek van rus)… vir ons studente sinoniem met tuiskom, afsaal en tot verhaal kom. So was dit ook weer die naweek van 19 tot 22 Augustus 2022.

Covid-19 het ons van baie dinge beroof. Maar dit het ook aan ons nuwe moontlikhede gebied. Omdat ons kreatief moes dink aan oplossings om byvoorbeeld agterstallige Seminariumprogramme in te haal wat noodgedwonge tydens die pandemie agterweë gebly het, was ‘n retreat by Menuha in 2020 juis die oplossing.

Nooit sal ek die vreugde van blye weersiens in daardie jaar van isolasie en eensaamheid vergeet nie! Hoe ons studente deur die gestoei in afsondering probeer het om op datum te bly met studies. En die retreat van September daardie jaar, vir meeste die eerste keer sedert die aanvang van die pandemie dat hulle mekaar weer kon sien.

Daar is (natuurlik met die nodige maatreëls teen Covid-19 in aanmerking), gekuier én gewerk. Benewens die kerklike vorming wat daar plaasgevind het, is die versugting ook deur menige student uitgespreek dat daar in die toekoms meer gesamentlike (alle jaargroepe saam) retreats sal wees. Sedertdien maak ons so.

Danksy die opheffing van die Covid-maatreëls aan die begin van 2022, kon die studente terugkeer kampus toe. Gevolglik kon die weeklikse kerklike vorming van Woensdagoggende in die Seminarium en die Emmaus Bybelleesprogram voortgaan. Die retreat vir alle jaargroepe was dus in geheel beskikbaar vir ander aktiwiteite en vormingsgeleenthede.

Met die “tuiskoms” van Vrydagmiddag, is die studente reeds geanker en gegrond in wat die res van die naweek sou gebeur. Die hele naweek is in Spiritualiteitsvorming beliggaam deur onder andere die wydingsgeleenthede in die kapel en ook ander gesprekke. Die film (The Croods) van Vrydagaand het ‘n vars perspektief op kontekstuele sake laat val, en het ook as basis gedien vir die gesprekke van die studente met hulle mentors wat Saterdagmiddag plaasgevind het. Saterdagoggend is gebruik om die verskillende jaargroepe bloot te stel aan onderskeidelik Ervaringsleer, Spiritualiteit en Roeping.

Die musiekterapie-sessie van die middag het die studente na ‘n meta-onderbewussynsvlak laat integreer, waar ‘n magdom gevoelens ontvries is en aan die studente die geleentheid gebied het om in ‘n gekontroleerde omgewing bewustelik met diep verborge emosies om te gaan. Wat daar gebeur het sal, waar nodig, in terapie ondervang word. Die tromme-sessie wat daarop gevolg het, het mentors en studente in samehorigheid saamgesnoer en die tafel gedek vir vrugbare gesprekke wat daarop gevolg het.

Die retreat is afgesluit deur ‘n gesamentlike erediens by die VGKSA in Heidedal, wat deur die studente positief beleef is, en die impak daarvan word as ‘n groot bousteen vir die toekoms beskou.

Menuha, die plek waar ons studente tot rus gekom het, terwyl hulle aktief besig was en gevorm is met die oog op toekomstige bediening in die NG Kerk.

[Foto verskaf]