Deur Mariëtte Odendaal
In Psalm 24:1 word ons duidelik as die opsigters of rentmeesters van die Aarde beskryf. Ons het dus as Christene ’n ernstige verantwoordelikheid om in alle opsigte die skepping te bewaar en te respekteer.
Die Vrystaat is een van die mooiste provinsies in ons land en staan bekend vir sy dramaties gekleurde sandsteenkranse van die Golden Gate Hoogland Nasionale Park, die majestueuse Oos-Vrystaatse Witteberge en Rooiberge, die skilderagtige Maluti-roete en die uitgestrekte Vrystaatse grasvlaktes.
Ons ken egter ook die belangrikheid van water en die impak wat droogtes en natuurrampe soos veldbrande op landbougebied en gevolglik baie van ons gemeenskappe het.
So, wat staan ons te doen?
- Ons kan begin deur aan water eerder as ’n geskenk as ’n reg te dink en altyd spaarsamig daarmee omgaan.
- Ons kan probeer om ons verbruikersmentaliteit aan te pas en aan te sluit by die denkrigting van “Koop-niks-nuuts-nie”. Op hierdie manier skep ons minder afval.
- Die kerkraad of skole kan met opruim-aksies begin. Dis ’n prettige manier om veral kinders te leer hoe belangrik dit is om rommel op te tel. Lees ook gerus meer oor Plastiekvrye Julie.
As rentmeesters van die skepping, demonstreer ons ons erns as versorgers van ons mooi aarde en verbind ons ons geloof direk met ons lewenstyl.

