Karl Barth begin sy bespreking van “die valsheid van die mens” (CD IV/3, §70.2) met die oortuiging dat ons nie hier soseer met ’n morele verskynsel te make het nie, maar “a supremely unspiritual and anti-spiritual phenomenon and problem” (IV/3, 434). Vir hom is valsheid nie iets wat regtig bestaan nie, menende op eie bene, selfstandig en in die algemeen. Ons leer dit ken slegs in verhouding tot die Lig. In die Lig se lig sien ons ook die duisternis raak.
Vervolgens is valsheid ook ʼn “specifically Christian form of sin” (IV/3, 434‑435). Hierdie vorm van die sonde is sigbaar teen die aangesig van Jesus Christus, “Die Ware Getuie”. Dit vergestalt in hierdie tussenin-tyd waarin die mens sigself met die Profeet bevind wat die waarheid verkondig. Dit is in hierdie bestemde, bedoelde en bewegende tyd dat “man desires and attempts to avoid Jesus Christ as the true Witness encountering him” (IV/3, 435). Só gestel kom die omvattende en bedoelende aard van die profetiese amp en die ware Getuie na vore. Beide die “dat” en “wat” van die ware Getuienis word weerstaan en onderdruk in die aanhoor daarvan, en die enigste “bestaan” van “valsheid” is in ontkenning van hierdie werklikheid (vgl. IV/3, 435).
Die ironie verbonde aan die valsheid is opmerklik: Ons sinspeel op die “bestaan” daarvan, maar dit is eers in die konfrontasie en bekendmaking van die waarheid dat ons kennis neem van die “bestaan” daarvan. Dit is niks minder of meer nie as ʼn oënskynlike “bestaan”, want dit kan kennelik nie op sy eie bestaan nie. Dit “is” slegs in die lig van die sprekende waarheid en selfs dan “is” dit nie in die ware sin van die woord nie. Dit vergestalt in hierdie tussenin-tyd, maar is doodgebore. Dit is ontneem van die toekoms. Dit wat oënskynlik “bestaan”, is nie staande en bestand teen Hom nie. Meer nog, dit wat slegs in die verkondiging van die waarheid uitgewys word, kan nog minder “na vore tree” in die sin van dat dit skaars kan “bestaan”. Asof dit nie genoeg is nie, wil dit wat skaars kan staan, nou bestaan in die vorm van “ontvlugting”. Juis dit wat bekend word in sy statiese en onbeweeglike aard, wil ontvlug en ontken in die teenstaan van Sy bedoeling met die geskiedenis. Dit is niks minder nie as die ontkenning en ontvlugting van die waarheid se bestemming.
Kritiese vrae op die punt is egter die volgende: Is die “Ware Getuie” dan net te ruim in Sy verkondiging van die geskiedenis? Hoe gemaak met die valsheid van die mens wat hiervan wil ontruim, dit ontken, en ontvlug? Waarvan praat ons? Die hardnekkigheid waarmee dit teenstaan is, met respek gesê, taamlik gesofistikeerd. Die volle waarheid dui op die skyn van ’n volle leuen. Barth se vertrekpunt is tegelykertyd dat mens hier te make het met “the real masterpiece and artistic triumph of falsehood” (IV/3, 436). Die bestaan daarvan kom werklik eers na vore in die ontmoeting met die ware Getuie. Valsheid van die mens vergestalt nie in ooglopende ontkenning van die waarheid nie, inteendeel. Barth bied ’n insiggewende beskrywing hiervan:
He does not question the truth. He does not oppose it to any antithesis. He does not persecute it. Nor does He ignore it. … In his real enterprise he kisses his Master as Judas did in Gethsemane. He is not against the truth, but with it, and for it … He sets up a theoretical and practical system of truth. He forms parties in favour of truth. He establishes fronts on behalf of the truth. He found schools and academies of truth. He celebrates days and even whole weeks of truth. He organises formal campaigns for truth. (IV/3, 436)
Die punt is duidelik. Ontvlug die waarheid deur weg te kruip agter die waarheid. Ontruim die lewe deur te gaan skuil in die waarheid. Ontken die waarheid deur die waarheid oor te neem; beheer van te neem; aan te pas; selfs te verbeter. “[It] has become the truth which is mastered by him instead of the truth which masters him” (IV/3, 436). Kortom, dit dink dit het die waarheid beet, en dit is presies waar die probleem lê.
Barth vang die ironie goed vas wanneer hy hierdie “meesterlike” poging waarmee die valsheid manifesteer soos volg evalueer: “The fact that this is so is another indication of how feeble and inferior and unoriginal he is in relation to the prophecy of Jesus Christ, and how far ahead of him this is” (IV/3, 437). Dit bied met ander woorde geen werklike eie en oorspronklike, nuwe en kreatiewe alternatief nie. Dit kan net naboots en voorgee, en dan natuurlik valslik. Dit het geen eie sin, syn, waarheid en heil om te bied nie. Dit kan “dit” slegs voordoen in die gestalte van die Antichris en ’n valse profeet.
Of, nog beter gestel, die “valse profeet” skuil al te graag in die waarheid. Die “Ware Profeet” onderskei Homself deur nie weg te kruip in die waarheid nie, maar juis daarheen te wys. Kortom, onderskeiding van die Waarheid is allermins simplisties, maak nie saak na watter kant toe ons ook al gaan nie. Die eenvoud val op, maar is allermins eenvoudig. Die differensiasie hier tussen die “Ware Getuie” en ons getuienis van Hom, is bevrydend.* Bogenoemde is ʼn kort geredigeerde uittreksel uit sy boek, Publieke Teologie as Profetiese Teologie?, wat eersdaags by Sun Media verskyn.