Skip to content Skip to sidebar Skip to footer

Raad vir Bedieningsbegeleiding: Netwerke Wegbreek

Die volgende Netwerk Sameroepers (sien foto) het op 8 en 9 Maart 2021 ‘n sinvolle beplanningssessie te Menuha gehad.

Netwerke Sameroepers

(Henco van der Westhuizen, Suzanne van der Merwe, Magdaleen du Toit, André Barlow)

(Christo Nel, Barnard Steyn, Waldemar Stumpfe)

(Afwesig: Carin van Schalkwyk & Francois Lamprecht) 

Hierdie wegbreek het ten doel gehad om mekaar beter te leer ken, en ook om beter sinergie tussen die netwerke te bewerkstellig. Vanaf die begin van ons informele ken-mekaar gesprekke was daar duidelik een onderliggende behoefte, een onderliggende tema waar rondom elke gesprek bly wentel het. Elke sameroeper het hierdie behoefte natuurlik anders verwoord, maar die kern van hierdie behoefte was duidelik: OOP RUIMTES! Die behoefte aan oop en veilige ruimtes, die spreekwoordelike middelgrond, binne die kerk en ook gemeenskap waar ons mekaar kan ontmoet was opvallend. Die verhale wat vertel is, wat die gebrek aan oop en veilige ruimtes beklemtoon het, was ontstellend, alhoewel dit niks nuut is nie.

Magdaleen du Toit (Spiritualiteit sameroeper) se oggendwyding was so gepas, met ‘n vertaling van Martha Postlewaite se gedig met die titel Clearing. Hiermee dan die Afrikaanse vertaling van die gedig:

OOPTE – Martha Postlewaite

Vertaal deur Magdaleen du Toit

Moenie probeer om die hele wêreld te red

of iets groots te doen nie.

Skep eerder ‘n oopte

in die digte woud

van jou lewe

en wag daar

– geduldig –

totdat die lied

wat jou lewe is

in jou eie gekelkte hande val

en jy dit herken en groet.

Eers dan sal jy weet hoe om jouself te gee

aan hierdie wêreld

wat so dringend gered moet word.

Die Netwerke sameroepers het teen die einde van die wegbreek verklaar dat hierdie behoefte aan OOP RUIMTES ons roeping verwoord. Voortaan gaan die Raad vir Bedieningsbegeleiding nou poog om in elke aspek van hierdie raad se werksaamhede oop en veilige ruimtes te wees, en ook te skep, binne die kerk en ook die gemeenskap waar ons mekaar werklik en met egtheid kan ontmoet. Die eerste geleentheid vind plaas as ‘n Retreat met die tema OOP RUIMTES te Clarens vanaf Sondag 2 Mei tot Dinsdag 4 Mei. As ‘n eerste geleentheid word die Netwerke sameroepers genooi, sowel as die Ringsvoorsitters, en ook die voorsitters van die Vrouelidmate, Vennote in Getuienis en die Seminarium.

Ons is opgewonde oor ons roeping en ons sien uit daarna om die die kerk en die gemeenskap in die Vrystaat op hierdie manier tot diens te wees.

Dr. Suzanne van der Merwe

(Raad vir Bedieningsbegeleiding – Ondervoorsitter & Erediens Netwerk – Voorsitter)