Skip to content Skip to sidebar Skip to footer

OUMA en OUPA om die aardbol

OUPA en OUMA om die aardbol.

Efesiërs 3:18 Mag julle in staat wees om saam met al die gelowiges te begryp hoe wyd en ver en hoog en diep die liefde van Christus strek.

Word ek toe mos ook nou ‘n Oupa.

Groot mans wat huil as hulle klein handjies vashou en tien vingertjies tel. Rowwe baarde wat versigtig teen sagte wangetjies druk. Songebarste lippe wat soentjies uitdeel, waarvan oumas maar net kan droom. Hoe moet ék dit nou doen, met ‘n kleine lyfie aan die ander kant van die wêreld, in Kiwi-land. Dis nie ‘n Mediclinic met suster Fourie en dokter Nel nie – dis volksvreemd, wat ons net op foto’s sien. Boetie word vroeg gebore in die “Neonatal Intensive Care Unit” in die vreemde. Vir ‘n maand worstel ons saam, halfpad om die aardbol, deur ‘n vreemde wêreld.

Uiteindelik gaan Boetie saam met Pappa en Mamma huistoe, daai huis is steeds aan die ander kant van die wêreld, ver van ons trane, baard of soene.

Sy doop, inseëning, toewyding kom nader – steeds kan ons nie daar wees. Ek wil deel wees, maar ek kan nie.  Ek lees Efesiërs 3 vers 18 en besef … ek is deel … “mag julle in staat wees om saam met gelowiges te begryp hoe wyd, ver, hoog en diep die liefde van Christus strek.”

Ek kry rustigheid, dit geld ook vir my kinders en kleinkind, ver en wyd.

Ek en Ouma koop ‘n Doopkers, maak ‘n houtkruisie met ‘n gekerfde houtGEESduifie. Ons sit dit langs ‘n foto van Boetie neer, daar waar ons elke oggend (aan dié kant van die aardbol) stil raak. Ons kom ons Doopbelofte teenoor ons kinders en kleinkind na – ons BID vir hulle – elke dag – deur ‘n foto, en simbole van ‘n kruis en duifie, wat ons herinner – al is ons aan dié kant van die wêreld.

Ons harte sing!! – ons gaan hom DV Kersfees ontmoet, met die boodskap van die Christuskind, vir ons en ons kinders – saam met ‘n tas geskenke, vir kleinseuntjie-onthou.

116 | Maatskaplike NOODLYN