Skip to content Skip to sidebar Skip to footer

“Ons sien weer kans vir die lewe en al sy uitdagings …”

Deur Mariëtte Odendaal

“Dankie dat jy my saamgenooi het om die vrouekamp by te woon … Dankie vir alles wat ek daar geleer het. Ek sien weer kans vir die lewe en al sy uitdagings.”

“As ek terugdink aan die naweek, het ek geen twyfel dat Hý my tot nou toe gedra het nie; daarom weet ek dat Hy steeds met my is. Die naweek se boodskap bly hier binne-in my; dat terwyl ek leef, ek as instrument in die Here se hand en deel van God se storie is.”

Getuienisse van twee vroue wat die Vrouekonferensie bygewoon het.

Ons jaarlikse Vrouebedieningskonferensie het vanjaar van Vrydag 16 tot Sondag 18 Februarie by die pragtige en redelik sentraal geleë Amanzi Privaat Wildreservaat plaasgevind waar dit al die afgelope tien jaar aangebied word. Dit is deur 106 vroue bygewoon, verteenwoordigend van gemeentes oor die hele Vrystaat. “Ons was baie bevoorreg om ‘n klompie jong vrouepredikante by die geleentheid te hê en daar was ook jong vroue wat die kamp bygewoon het,” vertel Béneli Pretorius, voorsitter van die Vrouebediening.

Béneli, julle droom was dat die konferensie in ’n rustige atmosfeer die vroue se emosionele ‘tenks’ kon help vul. Wat het julle alles in gedagte gehou om dié droom te probeer bereik?

“’n Verandering van omgewing is altyd verfrissend vir jou gemoed; dis asof al jou sintuie baie skerper waarneem, veral in die mooi omgewing van Amanzi waar die veld en omgewing op die oomblik pragtig is. Dit het ons diep onder die indruk gebring dat ons deel van God se wonderbare skepping is.

“’n Klein geskenkie is nie net ’n lekker verrassing nie, maar ook ’n blyk van waardering. Elke vrou wat die konferensie bygewoon het, is met die intrapslag tydens registrasie met ’n geskenkie verwelkom; iets wat baie waardeer is.

“Enige vrou wat verantwoordelik is vir haar gesin se daaglikse maaltye – die beplanning en die voorbereiding daarvan – sal getuig watter lekker bederf dit is om net by ‘n tafel te kan gaan aansit. Daar is dus baie moeite met smaaklike etes gedoen en daar was heerlike versnaperinge tydens pouses.

 

“Een van die aangrypendste ervarings tydens die konferensie was om te ervaar dat ek as vrou op ’n besondere manier ’n baie spesiale plek in God se storie vir die wêreld het. Om hierdie waarheid te kon deel en saam daaroor te kon besin, het tot gevolg gehad dat baie nuwe vriendinne ontdek en nuwe vriendskappe gesmee is.”

Soos een van die konferensiegangers getuig: “Ek weet nie eers waar om te begin nie … Dit was die lekkerste kerkkonferensie wat ek nog ooit bygewoon het en waar ek die wonderlikste nuwe vriendinne gemaak het …”

Béneli vertel verder: “Charles Smit, nuushoof van Netwerk24 in die Vrystaat en Noord-Kaap, skrywer van die boek Nuusmakers en deeltydse boer op die plaas Zeekoegat naby Rouxville, was ons gasspreker op die Saterdagaand rondom die kampvuur. Hy het die vroue meegevoer met sy stories oor sy reise oor die wêreld heen. Hy het ons vertel van sy besoek aan die Slangkerk, die Amish-gemeenskap in Amerika en van sy talle ondervindinge as joernalis hier in Suid-Afrika. Die goue draad deur sy stories was deurentyd dat, ten spyte van ons verskille, God mense gebruik om sy doel te bereik.”

Een van die konferensiegangers beaam alles hierbo. Sy skryf: “Baie dankie vir al julle opofferinge en moeite met die konferensie. Dit was ’n heerlike verblyfplek met ’n pragtige mooi uitsig. Dankie dat julle my bewus gemaak het van God se storie in my lewe. Dit was kosbaar.”

Die tema was ‘Deel van God se storie’. Vertel ons meer daarvan.

“Die aanbieding het weggeval met ‘Ons is storie-mense’ waartydens die twee gassprekers, prof Kobus Schoeman en dr Nina Müller van Velden, hul eie stories saam met foto’s gebruik het om te illustreer hoe stories ons lewens beïnvloed en vorm.

“Daarna is gefokus op ‘Die groot storie van die kerk’ waarmee die sprekers aan ons verduidelik het wat die vooruitskouing van die kerk in die wêreld teen 2060 sal wees. Die grootste konsentrasie Christene ter wêreld sal dan in Sub-Sahara-Afrika woon.

“Tydens hierdie sessie het ons diep onder die indruk gekom dat, al dink jy jy het geen invloed op wêreldgebeure nie of dat dit jou nie raak nie, dit wel ‘n invloed het op wat jy ervaar.

“Daarna het ons in die volgende sessie gehoor hoe dit met die gemeentes in die Vrystaat gesteld is; hoe die gebeure rondom ons ‘n invloed op die bestaan van ons gemeentes het. Hannetjie Nel, predikantsvrou van die NG Gemeente Riebeeckstad het hul storie kom deel oor die straatkafee wat hulle in Desember gehad het.  Tydens dié geleentheid het hulle vrywilligers gehad wat hul dienste gratis aangebied en mense bederf het.

“Tydens die vierde sessie het Hannetjie, wat ook ‘n onderwyser by Hoërskool Riebeeckstad is en intens betrokke was by die onlangse busongeluk, haar storie met ons gedeel; hoe die trauma hanteer en beleef is. Ons het ook diep onder die indruk gekom oor hoe ons stories so verweef word met stories wat ‘n impak op baie ander mense het. Lees meer daaroor in die Kerkbode.

“Dr Nina Müller van Velden het tydens die vyfde sessie, ‘My storie saam geskryf met God se storie’ die gebed van Eva gebruik om vroue te begelei om opnuut hul waarde te besef en te beleef hoe ons storie deel van God se plan is.

“Ons het afgesluit met die sessie in die vorm van ’n erediens met die tema, ‘Ons storie as ‘n speldeprik in God se storie’ waartydens dr Nina ons op reis geneem het deur die album van gelowiges wat opgeteken is in Hebreërs 11. Dit het daar baie duidelik na vore gekom dat God gewone mense gebruik om deel te wees van sy storie met die wêreld.”

Is daar nog soortgelyke aanbiedinge wat vir ons vrouelidmate beplan word later vanjaar?

“Ja, beslis! Die goeie nuus is dat ons alreeds aan die beplan is vir ’n retraite wat deur Magdaleen du Toit aangebied sal word by Moolmanshoek vanaf 9 tot 11 Augustus.

“Magdaleen du Toit, ’n Vrystater in murg en been, het ná haar graad in tale aan die Universiteit van die Vrystaat haar loopbaan as onderwyseres aan die Afrikaanse Hoër Meisieskool in Pretoria begin. Daarna het sy ’n loopbaan as joernalis by die Volksblad en later by die koerant Hoofstad in Pretoria gevolg, en tussen-in ’n jaar lank kuns aan Tukkies studeer.

“Ná haar huwelik met Cornel du Toit was sy predikantsvrou in Middelburg, Mpumalanga en in Lyttelton, Centurion waar sy vrouegroepe gelei het totdat haar man ’n teologiepos by Unisa aanvaar het. Hy is in 2018 aan pankreaskanker oorlede.

“Magdaleen het baie jare lank as taalpraktisyn by Unisa se taaldirektoraat gewerk en is ná haar aftrede steeds in vryskuthoedanigheid by akademiese en landboupublikasies vir verskeie uitgewers betrokke.

“Intussen het sy ’n sterk behoefte aan geestelike verdieping ervaar, veral aan skoling in gebed. ’n Jaarlange kursus in gebedsbegeleiding by die Jesuïte-instituut in Johannesburg het haar bewus gemaak van die rykdom en diepte wat vriendskap met God inhou.

“Daarna het sy ’n kursus in geestelike begeleiding by die Sentrum vir Spiritualiteit van die NG Kerk in Pretoria gevolg asook ’n drie maande lange aanlynkursus oor die integrasie van geestelike praktyk met die kreatiwiteit én sleur van die gewone lewe.

“Dit het gelei tot die besef dat ons daagliks skouer aan skouer kreatief saam met God aan die uitbou van God se storie werk; iets wat nooit voltooi raak nie.

“Aanbiedings van retraites en werkswinkels in spiritualiteit, kreatiwiteit en gebed is vir haar ’n groot voorliefde. In 2019 en 2023 het sy saam met prof Yolanda Dreyer geslaagde retraites aangebied vir vrouepredikante in die Vrystaat, Noord- en Oos-Kaap, en in 2023 drie dagretraites vir vroue met gebed as tema aangebied.

“Magdaleen is die sameroeper van die Spiritualiteit Netwerk van Bedieningsbegeleiding, Sinode Vrystaat. Haar tuisgemeente is Philippolis. Sy reis baie en verdeel haar tyd en aandag tussen baie plekke, mense en behoeftes.”

Indien jy meer inligting nodig het, kan jy gerus kontak maak met Béneli Pretorius by benelipretorius@gmail.com of Marietjie van der Merwe by 076 113 9601

 | verskaf deur dr Nina Müller van Velden een van die aanbieders by vanjaar se Vrouekonferensie.

116 | Maatskaplike NOODLYN