Skip to content Skip to sidebar Skip to footer

“Nader tot God en Hy sal tot julle nader”

“Nader tot God en Hy sal tot julle nader. Was julle hande, sondaars, en reinig julle harte, huigelaars.”

– Jakobus 4:8

Die lewe vandag is so besig. Vroeg die oggend opstaan en regmaak vir werk. Die kinders gereed kry vir skool en die diere moet ook kos kry voor ons kan ry. Vanmiddag laat kom ons moeg by die huis na werk, sport en moet die aandroetine begin, kosmaak en dan moet sussie by die dans kom en boetie by die karate en daarna nog huiswerk ook.

Ek wonder soms of ons nog by die Here uitkom in hierdie besige tye? Waar kry gesinne nog die tyd om saam huisgodsdiens te hou? Waar kry ouers nog die geleentheid om geestelik met hulle kinders te werk? Beleef mense vandag nog die Here, of is God net ‘n gedagte aan die einde van die dag waar ons aan die slaap raak terwyl ons bid?

Soms voel ons ver van Jesus af omdat ons dalk lank terug “tyd” gehad het om stil te word by Sy voete. Of dalk beleef ons ‘n skuldgevoel oor dinge in ons lewens wat ‘n wig bring tussen ons en die Here, want ons vergeet so maklik dat Jesus reeds vir ons sondes betaal het net soos wat Israel ook gereeld vergeet het wat God reeds vir hulle ook gedoen het.

Ons is tans aan die begin van lydingstyd.

Lydingstyd is die tyd waar ons saam met Jesus die laaste gedeelte van Sy lewe op aarde deel. Baie mense vas ook gedurende hierdie tyd om hulle verhouding met die Here te versterk, deur iets wat hulle daagliks doen of eet te verruil vir tyd saam met die Here.

Hoe dit ookal sy en waar jy jouself ookal bevind in jou verhouding met die Here, kom gee Jakobus vandag vir ons ‘n belofte – dat wanneer ons tot God nader, SAL Hy tot ons nader, sal ons Hom ervaar.

Foto (Sinodesitting 2022):  Ds Tano Bongers, leraar van NG Gemeente Bloemfontein-Noord.