Skip to content Skip to sidebar Skip to footer

Die Ring van Fauresmith

“…  ons eerste prioriteit (is) nou eers om te fokus op die prediking van die Woord en om hulp te verleen aan ons vakante gemeentes …”

| Ds Natasha du Plessis

Die NG Kerk Vrystaat het in die 2022/23-boekjaar ‘n bedrag van R30 000 aan elkeen van die 15 Vrystaatse ringe beskikbaar gestel om gesamentlike ringsprojekte te ondersteun. Die versoek was dat diens in samewerking met ‘n sinodale bediening gelewer moes word. 

“Wat die Ring van Fauresmith betref, is daar by die sinodale bedienings, Bedieningsbegeleiding en Diens van Barmhartigheid, ingeskakel,” vertel ds Natasha du Plessis, voorsitter van die Ring van Fauresmith en predikant van die NG Kerk Luckhoff.

Die Ring van Fauresmith het unieke omstandighede en uitdagings. Ons het meer daaroor by Natasha gaan uitvind.

“Ek is in 2022 as proponent bevestig waar vyf predikante, di Carin van Schalkwyk, Jaco Thom, Elize Stander en Christo Herbst teenwoordig was. Skaars enkele maande daarna was ek ál predikant in die ring oor; ek was voorwaar aan die diep kant ingegooi! Ons ring het dus in 2022 net een predikant (die uwe) gehad wat die hele ring moes bedien; iets wat natuurlik ’n groot uitdaging was.

“Sedert November 2022 het ons ring bestaan uit een predikant asook bekwame ouderlinge en diakens vanuit elke gemeente; daar kon onder leiding van die Heilige Gees baie veranderinge plaasvind.

“In 2023 het daar twee predikante tot die ring toegetree, naamlik ds Gerdrie van der Merwe (NG Kerk Trompsburg) en ds Mias Nortier (NG Kerk Jacobsdal).

“Ons ring bestaan uit die volgende gemeentes: Fauresmith, Luckhoff, Trompsburg, Jagersfontein, Philippolis, Jacobsdal, Petrusburg, Koffiefontein, Springfontein en ons werk ook saam met Gariep en ’n ander gemeente naby hulle.”

In sulke uitdagende omstandighede is goeie samewerking natuurlik van kardinale belang, nie waar nie?

“Ja, beslis! Ons maak seker dat ons in die ring ons gemeentes se datums van basaars, uitreike en so meer met mekaar deel sodat ons mekaar kan uithelp waar nodig. Ons is nie net beskikbaar om mekaar so te ondersteun nie, maar om ook mekaar se gemeenskappe by te staan.

“Ons ring is egter bekommerd omdat daar net drie predikante in diens is, en veral hoe die Woord by elke gemeente op ’n verantwoordelike manier bedien moet word. Daarom is ons eerste prioriteit nou eers om te fokus op die prediking van die Woord en om hulp te verleen aan ons vakante gemeentes. Die sinodale fonds van R30 000 word hoofsaaklik vir hulp aan hierdie gemeentes aangewend.”

“Sodra ons ring meer op ons voete kom wat dit betref, sal ons ook graag begin fokus op hulp aan ons onderskeie gemeenskappe.

“Ons wil God se lig in die duisternis rondom ons bring soos Matteus 5:16 dit stel. Ons wil dit doen na die beste van ons vermoë. Om ‘n verskil te kan maak, moet ons ons liefde vir Jesus en ons liefde vir ander in ons alledaagse lewe uitleef, daarom moet ons besorg wees oor ons mense in Christus.”

Kontak ons:

 | Ds Natasha du Plessis

 | 083 585 2929

 | natashaxx.duplessis@gmail.com

 | verskaf: Die vrolike gemeenteverteenwoordigers van die Ring van Fauresmith.