Van 7 tot 10 Junie 2026 kom die NG Kerk Vrystaat byeen vir die 55ste Sinode te Nampopark, Bothaville met die tema: “’n Stroom Lewende Water – van die Bron af vloei dit verder.”
Die tema, gegrond op Esegiël 47:1-12 (AFR20), herinner ons aan die profeet se visioen van water wat vanuit die tempel vloei — water wat al dieper en sterker word totdat dit lewe bring oral waar dit kom. Selfs droë en dor plekke word aangeraak en herstel deur hierdie stroom van God se teenwoordigheid.
Terwyl die Sinode nader kom, word gemeentes, lidmate en afgevaardigdes regoor die Vrystaat uitgenooi om hierdie belangrike byeenkoms in gebed op te dra. Ons bid dat die Sinode méér sal wees as vergaderings, besprekings en besluite — dat dit ’n ruimte sal wees waar God se Gees sigbaar en kragtig sal werk.
Bid asseblief dat die Here wysheid, onderskeiding en vrede sal gee aan elke afgevaardigde, predikant, dienswerker en medewerker wat deel vorm van die Sinode. Bid dat gesprekke met liefde gevoer sal word, dat daar met oop harte na mekaar geluister sal word en dat Christus altyd die middelpunt sal bly.
Die beeld van lewende water herinner ons ook daaraan dat God se kerk voortdurend geroep word om lewe, hoop en genesing na ’n gebroke wêreld te dra. Mag hierdie Sinode ’n nuwe verdieping bring in ons verstaan van God se roeping vir die NG Kerk Vrystaat in hierdie tyd.
Ons bid verder dat die Here nuwe moed sal gee waar daar moegheid is, nuwe visie waar daar onsekerheid is, en vars geloof waar mense moedeloos geword het. Mag God se lewende water opnuut deur gemeentes, bedieninge en gelowiges vloei – van die Bron af verder na elke dorp, stad, plaas en gemeenskap.
Daar word ook gebid vir veiligheid op die paaie, goeie gesondheid en krag vir almal wat die Sinode sal bywoon en dien. Mag elke ontmoeting, erediens, gesprek en besluit getuig van God se teenwoordigheid en leiding.
Soos Jesus in Johannes 4 herinner:
“Maar elkeen wat drink van die water wat Ek hom sal gee,
sal in ewigheid nooit dors kry nie.”
Mag die 55ste Sinode van die NG Kerk Vrystaat waarlik ’n plek wees waar die stroom van lewende water weer vars en kragtig vloei — tot eer van God en tot seën van Sy kerk en wêreld.
’n Gebed vir die Bothaville Sinode 2026
Here ons God,
Bron van alle lewe,
ons kom in nederigheid voor U staan
op pad na die 55ste Sinode van die NG Kerk Vrystaat.
Dankie vir U trou deur al die jare —
vir gemeentes, gelowiges, leraars, dienswerkers en lidmate
wat steeds gehoorsaam wil leef
as deel van U liggaam hier in die Vrystaat.
Soos die water in Esegiël se visioen
uit die tempel gevloei het,
bid ons dat U Gees ook deur hierdie Sinode sal vloei.
Laat dit nie bloot ’n vergadering wees nie,
maar ’n ontmoeting met die Lewende God.
Here,
waar ons moeg geword het, bring nuwe krag.
Waar daar onsekerheid is, bring wysheid.
Waar daar verdeeldheid is, bring vrede.
Waar harte koud geword het,
laat U lewende water weer vars hoop bring.
Lei elke gesprek, besluit en ontmoeting.
Gee dat ons nie net oor strukture en uitdagings sal praat nie,
maar dat ons weer opnuut U stem sal hoor.
Laat ons dieper instap in die stroom van U genade –
nie net enkeldiep nie,
maar só dat ons deur U Gees meegevoer word
na plekke waar U wil werk.
Ons bid vir almal wat die Sinode bywoon:
vir die voorsitters, afgevaardigdes, personeel, sprekers, musikante, tegniese spanne en aanbieders.
Gee veiligheid op die paaie,
krag vir elke dag,
en harte wat oop is vir U leiding.
Mag daar vanuit Bothaville
’n stroom Lewende Water uitvloei
na gemeentes, dorpe, plase, stede en mense
wat dors is na hoop, waarheid en liefde.
Here Jesus,
U is die Bron van Lewende Water.
Laat ons uit U leef –
en laat dit verder vloei
tot eer van U Naam.
Amen.

