Deur ds Anneri Viljoen, leraar by NG Gemeente Hugenoot
Ek is ‘n sondaar, ‘n Bloemfonteiner, een van twee dogters – die jongste – ‘n ma van twee seuntjies onder vier jaar oud, agt jaar in die bediening, ‘n Vrystaat rugby ondersteuner (dit is belangrike inligting), ‘n liefhebber van lente, die trotse eienaar van Sam ‘n rescue hond en ‘n kat wat ‘n dekade oud is. Laasgenoemde is noemenswaardig as ‘n mens twee seuntjies én diere in jou huis het. Die diere kry baie (te stywe) drukkies en (versmorende) liefde van die seuntjies.
Ek drink ‘n halwe teelepel suiker by my koffie en kan man se hare sny. Ek glo dat Rooibostee nie net vir siek mense is nie, dat die geselskap waarin jy jouself bevind jou vorm, dat die maanlanding werklik was, dat die Covid-virus biologies ontwerp is en dat ‘n beter land nie by ‘n ander regering gaan begin nie, maar in ons huise. Ek glo ook dat elke dag ‘n viering is en dat niks gehou moet word vir ‘eendag’ of ‘n ‘spesiale’ dag nie. Ons moet juis vandag uit ons beste borde eet en ons beste bottel wyn oopmaak. As jy so bevoorreg is in grendeltyd om enigsins nog ‘n bottel wyn in jou huis te hê.
Onverdraagsaamheid en ongeregtigheid maak my woedend en ongemaklik. Én slegte Teologie.
Kersfees is nie regtig Jesus se geboortedag nie, daar was nie drie wyse manne nie en Maria het nie op ‘n donkie Jerusalem ingekom nie. Nêrens in die Bybel word dit genoem nie en is dit bloot wat die kinderbybel-illustrasies ons maak glo het. Moses het nie Genesis of die eerste vyf boeke van die Bybel geskryf nie en Hebreërs is moontlik deur ‘n vrou geskryf. Maar ek dink almal glo dit. Of dalk alles tot en met die laaste stelling.
Ek is op my gelukkigste saam met my seuntjies, agter ‘n stel dromme of ‘n teleskoop, op die preekstoel, om ‘n tafel saam met my vriende, of op die stoep van my ouers se huis. Beide my ouers leef nog en die kykergetalle van my aanlynpreke is 90% dié van my ma. Sy is ook die enigste een wat twee agtereenvolgende dienste met dieselfde preek sal bywoon.
Ek is ‘n klomp goed, en ‘n klomp goed nie. Maar bowenal is ek ‘n vrou van God. ‘n Vrygekoopte. Iemand wat deur God gedra en beskerm word. Iemand wie se hartstukke opgetel en aanmekaar gewerk was deur God. Iemand wie se gebede deur God verhoor was en word. En, van alles wat ek is, is hierdie karaktereienskap
van myself, my gunsteling: Iemand wat aan Christus behoort.