Ons vernaamste vennoot in Lesotho is die Lesotho Evangelical Church (LEC). Hierdie susterskerk het in 1832 ontstaan vanuit die werk van die Franse Gereformeerdes in Frankryk. Oor die jare heen het die kerk gegroei tot die 2de grootste kerk in Lesotho naas die Katolieke Kerk.
Ons werk in Lesotho geskied in samewerking met die LEC en fokus op veral 3 terreine, naamlik ekumeniese skakeling, teologiese opleiding en gesamentlike Gemeente-uitreike. Ons ekumeniese skakeling vind plaas via wedersydse besoeke en gesprekke van die moderature asook ons jaarlikse Reformed Famliy Forum-byeenkoms. Hierdie geleentheid vind vanjaar plaas vanaf 14-16 Oktober in Kempton Park.
Die LEC se teologiese opleiding vind plaas by die Morija Theological Seminary (MTS) in die dorpie Morija, ongeveer 80km vanaf die grenspos by Wepener. Hierdie gebied is aan die Franse sendelinge gegee deur koning Moshoeshoe en huisves dan ook die oudste kerkgebou van die LEC, die oudste drukpers in Lesotho, die enigste argief van Lesotho se skryf- of literêre geskiedenis, die oudste sendinghospitaal en verpleegster-opleidingskollege en die oudste teologiese opleidingsinstelling in die LEC.
Weens die Covid-pandemie was die skool vir meer as jaar gesluit en kon gewone opleiding nie plaasvind nie. Tans is die skool weer oop en die opleiding in volle swang. Die pandemie het ‘n groot uitwerking op kerklike finansies gehad en dus het die teologiese skool die afgelope 2 jaar finansieel baie swaar getrek. Rekenaar-infrastruktuur is baie verouderd – soveel so dat studente slegs 1 baie ou rekenaar het in die biblioteek wat hulle toegang gee tot die internet.
Die doel van ons besoek was om namens NetACT (Network for African Congregational Theology) ‘n opname te gaan doen oor IT-nood en behoeftes asook kurrikulum-behoeftes wat hulle mag hê. NetACT is tans besig met ‘n opname onder al 52 van die teologiese skole wat deel is van die netwerk rakende IT en kurrikulum-behoeftes. Dit sal instellings in staat stel om beter te beplan in hulle leermodules asook help met beter aansoeke vir hulp by donateurs.
Die besoekende span was Dr Nico Mostert (Direkteur Vennote in Getuienis en ook Uitvoerende Direkteur van NetACT), Ds Thijs en Mev Marike Blok (Sendeling dosente van Kerk in Actie Nederland aan Justo Mwale University in Zambie). Die besoek het MTS gehelp om, aan die hand van die NetACT vraelys, hulleself beter voor berei vir hulle akkreditasie-proses met die Lesotho Hoër Onderwys owerhede. Die nood rondom rekenaars het meegebring dat Kerk in Actie in Nederland onderneem het om 5 skootrekenaars vir die dosente te skenk en Vennote in Getuienis het onderneem om 5 “desktop” rekenaars te skenk vir die biblioteek. Die waarnemende rektor Ds Moshoeshoe (afstammeling van koning Moshoeshoe) was oorstelp van vreugde om hierdie nuus te verneem. Die een aspek wat hulle laat vasval met hulle akkreditasie by die Lesotho owerhede is juis hulle gebrek aan rekenaars met internettoegang vir studente.
‘n Besoek is ook gebring aan die Algemene sekretaris, Ds Psoholi by sy Kantoor in Maseru. Hy is tans die voorsitter van die RFF. Die samewerking tussen die LEC en die NG Kerk Vrystaat is bespreek en daar is ook besluit om so spoedig moontlik ‘n vergadering te reël waar die onderskeie moderature mekaar sal ontmoet. Verskeie gemeentes in die Vrystaat is betrokke met uitreike in Lesotho saam met die LEC. ‘n Groep studente was juis in Julie in die suide van Lesotho by Qomo-Qomong se LEC Gemeente op besoek.
Dankie vir u ondersteuning en voorbidding vir die werk van die LEC in Lesotho. U kan gerus die Kantoor skakel sou u Gemeente betrokke wil raak by ‘n LEC Gemeente in Lesotho.