Die eerste brand in die Boshof/Hertzogville area het op 16 Oktober 2020 uitgebreek. Ons plaas is in die Boshof-Wes area.
Donderdag 22 Oktober 2020, 20h15
Pieter bel: “Tish, die vuur het oor die pad gespring in ons wildkamp in. Maak vinnig planne, want die wind jaag die vuur, direk in die rigting van die plaashuise.” Ek het die grasperk se sproeiers aangesit, Petrus en Sarah gaan roep, my skoonouers van 86 ingelig en die voertuie op die grasperk getrek. Toe stuur ek ‘n dringende stemboodskap aan familie en vriende: “Bid asb vir ons, vir die vuurvegters en vir oupa Gerrie en ouma Bets. Die vure is reeds aan drie kante om die plaaswerf en die wind waai sterk.” Ons het op die plaas gebly, oupa en ouma wou nie ry nie.
Teen Saterdagmiddag, 24 Oktober, is die laaste vuur geblus. Ek kan God se hand in elke kamp, rondom elke huis, binne die heinings van elke begraafplaas en in die deursettingsvermoë en onblusbare stamina van elke man wat deel vorm van Graspan se werksmag, sien. In elke iedere kamp wat gebrand het, was daar ten minste een kol genadegras waarheen diere kon vlug wat nie gebrand het nie. Geen huis het gebrand nie, al het die vlamme tot binne ‘n meter van sommige huise af gekom. Die begraafplase het geen brandmerke aan nie, so ook nie ons manne nie. Hulle oë was rooi en seer, hul velle teer, hul lywe stram en moeg, maar hulle het nog geglimlag.
Selfs Otto se gunsteling vlakvarkgat is gespaar. My gebede is almal verhoor. Dankie Here vir U wonderlike genade. Dat ek vir U werklik enige iets kan vra, selfs om my mak vlakvark en haar kroos te bewaar, en dat U uitkoms gee, al twyfel ek.
Ons het tot op hede 19 stuks wild verloor, waarvan drie skilpaaie was. Geen bees- of skaapverliese nie. Dit is wonderlik om weer hase, skilpaaie, tarentale, blouapies en kleinwild te sien, om nie te praat van die ander wild en die nuwelinge wat na die brand gebore is nie.
Die eerste gieter reën het reeds daardie Donderdagnag van die brand geval, toe die Sondag en daarna elke paar dae. Tot op hede het ons meer as 50 mm reën gehad. Water wat die as en roet weggewas het, maar ook gemoedere skoongewas het en hoop gegee het vir die dag van môre.
‘n Week na die brand, was die eerste groen grassies sigbaar. Nou na twee weke, vreet die wild, beeste en skape reeds aan die vars grastapyt.
Ons dank aan so baie mense vir die goed wat die vuurvegters ontvang het: koue water, ys, koeldrank, peuselhappies en kos, medisinale voorraad. Dankie aan almal wat van heinde en ver gekom het om te help veg teen die vuur. Dankie mede-boere en vervoermanne vir kos vir ons diere. Dankie vir geld, oproepe, hulp, gebede, en nog vele meer. Suid-Afrika, jou mensengele hou jou reënboog hoog. Hulle kyk nie net in die pot goud vas nie.
My grootste dank gaan aan ons Hemelse Vader. Sonder Hom wíl en kán ek nie vorentoe nie.