Skip to content Skip to sidebar Skip to footer

My lewe in ’n reistas: ’n Pastorale reis van genesing en hoop

Deur prof Juanita Meyer, Departement Praktiese en Missionale Teologie, UV

Vir die afgelope ses jaar het ek die voorreg gehad om nie net noue bande te vorm met die personeel van Marthie du Plessis Skool en Engo Jeug nie, maar ook om my voorgraadse pastorale studente op ’n besondere reis te neem, na die verhale van kinders wat verwerping en trauma op verskeie vlakke ervaar. Jaarliks besoek ons leerders by Marthie du Plessis Skool en kinders wat gehuisves word deur ENGO Jeug, om ’n werkswinkel genaamd ‘My Lewe in ’n Reistas’ aan te bied. Hierdie werkswinkel gebruik die metafoor van ’n (reis)tas om kinders te help om oor hulle lewensreis na te dink – waar hulle was, waar hulle nou is, en waarheen hulle op pad is.

Die graad 5-leerders van Marthie du Plessis Skool wat met leer- of fisiese gestremdhede leef, beleef dikwels verwerping of oordeel en uiteindelik ly hul selfbeeld en sin van selfwaarde daaronder. Soortgelyk, kom die kinders van ENGO Jeug, tussen 10 en 18 jaar oud, uit gebroke agtergronde en sukkel dikwels met ’n gevoel van verwerping en aanpassing in die kinderhuise en ’n vreemde omgewing. Hulle ervaar groepsdruk, akademiese uitdagings en worstel met geloofsvrae oor God se teenwoordigheid tydens hulle swaarkry.

Die werkswinkel fokus spesifiek daarop om ’n veilige ruimte te skep waarbinne leerders oor hul selfwaarde en identiteit kan besin. Die studente begelei die kinders om hulle eie verhale te verken – om elemente te identifiseer waaraan hulle swaar dra en wat hulle groei belemmer, maar ook om die positiewe in hulle lewens te erken en te vier. Aktiwiteit is dus gefokus om oomblikke te skep van refleksie en heling deur die ‘saam reis’ deur elke kind se verhaal. Klem op ‘saam reis’ benadruk ons roeping tot gemeenskap en leer beide die kinders en studente dat die letsels van die verlede, soos die skrape op ’n reistas, deel is van hulle unieke karakter en lewensverhaal. Hulle besef dat God steeds in hulle lewens werksaam is – deur mense, ervarings en die hoop waarop hulle ’n toekoms kan bou.

Vir die studente is hierdie ervaring ewe lewensveranderend. Daar word van die studente verwag om eers self deur die aktiwiteit te gaan, sodat hulle met empatie en begrip die kinders kan begelei. Dit help hulle om hulle eie lewensverhale te verwerk, maar ook om verby hul eie seer te kyk en die nood rondom hulle raak te sien. Uiteindelik versterk dit ’n gevoel van solidariteit in Christus – ’n besef dat God ons roep om mekaar se laste (of tasse) te help dra.

Die impak van hierdie werkswinkel is diep en blywend. Die kinders kom tot ‘verhaal’ met hul verlede, en ontdek die moontlikhede wat die lewe kan bied en die mag wat hulle het om self hul toekomsverhaal te kan skryf. Vir die studente word die krag van pastorale betrokkenheid ’n werklikheid, en besef hulle dat hulle hul roeping om hoop te bring aan die gebrokenes en die weerloses kan beliggaam deur die genade en liefde van God in hul teenwoordigheid te verwerklik.

Graag bedank ek beide die personeel van Marthie du Plessis Skool en ENGO Jeug vir die gasvryheid waarmee hulle ons studente elke jaar ontvang. En die voorreg om saam met die kinders te mag reis.

 | verskaf deur: Prof Juanita Meyer, Departement Praktiese en Missionale Teologie, UV.