
Elke jaar hierdie tyd vier ons in die land Menseregtedag. Die datum wat vir hierdie dag gekies is, word direk in verband gebring met die Sharpville-slagting wat op 21 Maart 1960 plaasgevind het. Tydens hierdie slagting het betogers en Polisie slaags geraak en is 69 betogers dood geskied, die meeste van agter. Na afloop van die slagting is die land in ‘n noodtoestand geplaas en is die ANC en die PAC verban. Hierdie slagting het daartoe gelei dat Nelson Mandela weggestap het van vreedsame verset en dit het gelei tot die stigting van Umkhonto we Sizwe, die ANC se militêre vleuel. Die geskiedenis van Menseregtedag staan dus in die fondamente van ‘n bloedbad wat plaasgevind het.
Nou, gedurende Lydenstyd, laat dit ‘n mens vra waar laat Menseregtedag wat in bloed geklee is die kerk? Wat moet ons as gelowiges met so ‘n dag maak? ‘n Mens se eerste aanvoeling is dat dit inderdaad ‘n hartseer oomblik is as ‘n mens Menseregtedag moet vier. Die voel uit pas met wat daar gebeur het. ‘n Tweede aanvoeling is dat dit ‘n ongelooflike klad op die kerk se naam is, dat daar enigsins sprake van ‘n Menseregtedag is in ‘n samelewing wat hulle met die Christelike geloof identifiseer. Het die kerk en gemeenskap van gelowiges nie iewers gruwelooslik gefaal nie?
Die kerk is gebou op die basiese beginsel dat ‘n mens God bo alles lief moet hê en jou naaste soos jouself. As gelowiges maar net erns wil maak hiermee, is ek oortuig dat ons land in ‘n baie beter situasie sal wees. Die oomblik as almal wat bely dat Jesus die Here is, net weer opnuut begin dink oor die waarde van lewe, die nood van hulle wat arm is en swaarkry en wat dit beteken om medemenslik te wees, is ek oortuig daarvan dat ons ‘n radikale skuif sal sien.
Dalk moet ons weg beweeg van die woord menseregte en net begin werk aan medemenslikheid. Doen aan ander wat jy graag aan jouself gedoen wil hê. Ons almal het ‘n paar basiese behoeftes, ons wil veilig in ons huise en omgewings wees, ons wil graag iets hê om vandag te eet, ons wil graag vanaand gaan slaap met ‘n dak oor ons koppe, ons wil graag ‘n werk hê om ons families te kan versorg, ons wil graag respekteer word as ‘n beelddraer van God… so kan ek aangaan met voorbeelde. Die punt is dat elkeen van ons hier in Lydenstyd dalk ‘n oomblik moet neem en dink wat is my basiese behoeftes, wat moet gebeur sodat iemand my menswaardig behandel en dan net daardie dinge teenoor ons naaste begin doen.
Mag Menseregtedag hierdie jaar ons daaraan herinner dat die lewe kosbaar is en dat dit gekoester moet word. Mag die dag ons oproep om medemenslik te leef, nie net op 21 Maart nie, maar elke dag van ons lewe en só elke mens te respekteer wat na die beeld van God gemaak is.
Hierdie is ‘n opiniestuk.
Die skrywer se standpunte weerspieël nie noodwendig dié van die NG Kerk Vrystaat nie.