Tydens die Clarens-retreat vir ringsverteenwoordigers is daar op die program tyd ingeruim vir plaaslike stemme uit Clarens om vir die dominees te vertel van hulle persoonlike belewenis van die NG Kerk. Een van hulle was Jabulani Mokoena, ’n jong man wat in Clarens grootgeword het. Hy is ’n opgeleide toergids en regstudent aan die Vrystaatse Universiteit, en is betrokke by verskeie gemeenskapsinisiatiewe, onder meer ’n nuwe projek vir plaaslike rugbyspelers en ’n maandelikse potjiekos-geleentheid om mense uit die verskillende groepe van die Clarens-gemeenskap bymekaar te bring. Ds Jan de Man van Viljoensdrif het die volgende haiku-gedig oor Jabulani se bydrae geskryf. Jan verwys na Jabulani se mededeling dat sy oupa deur boere vermoor is en hoe hy sy bitterheid moes oorkom, en dink dan terug aan sy eie vriend Koos Tamatie, eens ’n groenteboer naby Brits, wat enkele jare gelede in ’n plaasmoord omgekom het.
Here maak ons haatstories hoopstories
Here, baie nagedink
moeilik moeilik om te skryf
naby aan die lyf
Jabu se oupa
en Koos Tamatie se storie
ons land se stories
Jabulani vertel
oupa deur boere vermoor
die hel oor en oor
hy onthou so goed
haat deur jare oorgedra
bitter en gepla
Koos se storie is
maar net nog ‘n plaasmoord is
vandag nog seer gewis
stories dieselfde
verkeerd en so bitter sleg
vorm ons, vat vrede weg
onbekendheid, vrees
moedeloosheid wat sal wees
in ons land se gees
dit sien ons elke dag
sonder praat, in stilte haat
wag vir nog ‘n slag
maar ek sien ook iets
nuuts by Jabulani raak
wat hoop kan oopmaak
dat hy teen die haat stry
vertel hoe God hom nuut lei
troos en ook bevry
hy brugbouer nou
met Afrikaner-vriende
saam soek, dien, bou
Here net U alleen
kan ons land en seer genees
ons met mekaar seën
Here begin dan
vandag nou en hier by my
wil ook my bevry
en binne genees
Vorm, lei en stuur my deur U Gees
om salf en gom te wees