Skip to content Skip to sidebar Skip to footer

Die verwerking van verlies en traumas; letsels van die verlede

“Genesing kom wanneer ek kan gaan van verwonding na verwoording – wanneer ek ’n naam kan gee aan die seer.  Dit help om die seerkry-gedagtes neer te skryf, met iemand daaroor te praat of selfs professionele hulp te kry.”

 | Prof Jan-Albert van den Berg   

Wie van ons sit nie met letsels uit die verlede nie en wie van ons sukkel nie soms om die verliese en traumas in ons lewe te verwerk nie? Daarom is dit ’n riem onder die hart dat ons kerk hieraan aandag gee as deel van hul Gerontologie Netwerk-program.Op Woensdagoggend 13 September het die NG Kerk Aandbloem-gemeente onder leiding van ds Fanus Henning, voorsitter van hul Kommissie vir Betekenisvolle Veroudering, ’n baie betekenisvolle onderwerp van bespreking aangebied. Die tema daarvan was Die verwerking van verlies en trauma; letsels van die verlede.

Dit is in samewerking met die NG Kerk Sinode Vrystaat se Gerontologie Netwerk aangebied. Die aanbieding is fisies bygewoon deur ongeveer 170 persone by die NG Kerk Aandbloem en 264 persone wat deur middel van YouTube hierby ingeskakel het.

Die spreker vir hierdie geleentheid was prof Jan-Albert van den Berg, verbonde aan die Departement Praktiese en Missionale Teologie van die Fakulteit Teologie en Religie, UV (Universiteit van die Vrystaat).

Ons wou meer weet oor wat die motivering vir so ’n geleentheid was en het gaan uitvind by Hanneke Meyer, mede-organiseerder van die geleentheid.

“Die missie van die Kommissie vir Betekenisvolle Veroudering is om sake wat knelpunte in die lewens van senior lidmate veroorsaak, op die tafel te sit. Ouer-wordende persone leef saam met baie vorms van verlies – soms trauma van die verlede wat nooit verwerk is nie of verlies wat op verskeie vlakke ervaar word, soos byvoorbeeld kinders wat emigreer, die heengaan van geliefdes, die verlies aan gesondheid – om maar net enkeles te noem. Ons glo dat geleenthede soos hierdie ’n ruimte kan skep waarin lidmate gehelp kan word om hul verlies en trauma in opvolggesprekke ná die geleentheid of by die geleentheid self te verwoord.”

Wat was die hooftrekke van die aanbieding deur prof Jan-Albert van den Berg?

“Die onderwerp is in twee halfuur-sessies behandel. In die eerste halfuur het die gesprek gegaan oor wat trauma en verlies hoofsaaklik behels.

“Prof Van den Berg onderskei tussen verskeie soorte trauma of verwonding, naamlik fisiese trauma wat liggaamlike oorsake het, trauma met psigiese oorsake of ook kollektiewe trauma wat ’n groter impak as op net een persoon het en ’n hele familie of gemeenskap direk kan raak. Hy het ook oor sekondêre trauma gepraat wat dikwels by mense gevind word wat daagliks met ander se pyn te kampe kry (soos beraders en leraars) en wat selfs tot uitbranding by hierdie persone kan lei.

“Veral by ouer-wordende persone kan pyn of verlies wat selfs in hul jeug ervaar is, hulle inhaal en ’n sneller vir trauma word wanneer herinneringe aan pynlike gebeure, soos molestering of aanranding, skielik weer na vore kom. Hy verduidelik dit so: ’n Traumatiese gebeurtenis plaas ’n blok in die pad van jou narratief en kan jou lewe in ’n totaal ander rigting laat swaai.

“Jy skep nuwe betekenisse deur middel van die mense in jou binnekring, jou beroep, belangstellings en plek in die samelewing. In dié proses word die verwonding diep gebêre. Wanneer die ouderdom kom en hierdie merkers een vir een wegval, word jy van voor af met hierdie ou wonde gekonfronteer.  Prof Van den Berg gebruik deurentyd die metafoor van ’n boom (olien) wat seergekry het en letsels oorhou wat aantoon dat verwonding plaasgevind het en die rigting van groei kan beïnvloed.

“In die tweede halfuur is die vraag gevra: Wat nou? Wat maak ek as die teks van Romeine 8:28 wat sê dat alles ten goede meewerk vir hulle wat God liefhet, nie meer vir my werk nie? Prof Van den Berg noem hierdie donker plek ’n ‘Godsverduistering’ waarin ek nie weet waar God is nie; waar ek in die donker rondtas en na Hom soek.

“Hy spel dan uit dat die Bybel ’n trauma-boek is, van Genesis tot Openbaring, gevul met verhale van pyn en swaarkry; dat dit veral gaan om God se trauma, die trauma van die kruis-boom. Juis daarom verstaan Hy ons wonde, omdat Hy ter wille van ons verwond is.  Hy ken ons pyn omdat Hy elkeen van ons ken: ‘… elkeen by sy naam, in die fynheid en die grofheid van sy grein en in die jaarringe van sy pyn …’ (Wilhelm Jordaan).

“Juis daarom is daar vir ons wonde genesing, al bly die letsels.  Die sakramente van die doop en die Nagmaal herinner ons telkens aan die wonde wat vir ons genesing gebring het. Genesing kom wanneer ek kan beweeg van verwonding na verwoording – wanneer ek ’n naam kan gee aan die seer. Dit help om die seerkry-gedagtes neer te skryf, met iemand daaroor te praat of selfs professionele hulp te kry.

“Genesing kom ook van alleenwees in my ellende, na saamwees met ander gelowiges en mense wat omgee; veral die saamwees om die Nagmaaltafel.

“Paulus skryf in 2 Kor. 4:8 tot 12 dat hy soms raad nodig het, maar nie radeloos is nie, omdat hy die sterwe van Jesus in sy liggaam omdra, sodat die lewe van Christus in hom sigbaar kan word. Soos met Jesus se wonde, het sy verwonding positiewe betekenis gekry.

“So word die donker in die lewe van ’n slagoffer van trauma lig omdat sy oog nou reg ingestel is op God se nuwe dag wat in aantog is. 

“Die gesprek is toe ook afgesluit met die beeld van die Janfrederik wat met sy skerp sig die eerste is om die dagbreek aan te kondig. 

“Waarlik, die kleur van donkerte is lig!”

Hierdie aanbieding moes groot betekenis gehad het vir diegene wat dit bygewoon het. Wat was die reaksie daarop?

“Die reaksie was oorweldigend positief. Mense het onder andere as volg gereageer deur te sê: ‘Ek besef nou die belangrikheid daarvan om oor my seer te praat – seer as gevolg van die verlies van my bene en die onvermoë om te loop, die verlies van my gehoor, onmin tussen my kinders, die verlies van my eggenoot en angs in my lewe.’ Een persoon het laat weet: ‘Ek wil asseblief met ’n dominee praat.’ ’n Ander een sê: ‘Ek besef dat ek daagliks blootgestel is aan sekondêre trauma vanweë my betrokkenheid by mense met hul seer.’”

Dit is natuurlik belangrik dat daar ná so ’n geleentheid opvolgwerk gedoen word, né?

“Ja-nee, beslis! Daar is byvoorbeeld gevra: “Mense se seer word oopgemaak – wat word ná vandag daarmee gemaak?”

“Graag wil ons as komitee op dié belangrike vraag antwoord deur daarop te wys dat opvolggesprekke onmiddellik ná afloop van die byeenkoms begin het. Afsprake is ook gemaak met persone wat tydens die byeenkoms vrae aan die spreker gestel het. ’n Afkondiging is ook op die plaaslike gemeente van die NG Kerk Aandbloem se erediens-afkondigings geplaas om persone wat die behoefte het, opnuut aan te moedig om met die leraars afsprake te maak ten einde gesprekke te voer oor onverwerkte seer en trauma.”

Soek jy dalk meer inligting?

Kontak dan gerus vir ds Fanus Henning by 067 316 8768 of stuur vir hom ’n e-pos na fanushenning@gmail.com. 

 | verskaf deur me Hanneke Meyer: Gerontologie-geleentheid te NG Kerk Aandbloem-gemeente.

116 | Maatskaplike NOODLYN