Op Donderdag 4 Mei het die Bedieningsbegeleiding-raad die eerste van hul twee jaarlikse vergaderings gehou in die pragtige lokaal van Toscana Estate gastehuis in Langenhovenpark, Bloemfontein. Voor die besigheidsvergadering is ons, die netwerklede en ander lede van die raad, getrakteer op ’n lewendige aanbieding deur Maritsa Barlow, ’n musiekterapeut.
Maritsa verduidelik dat hierdie vorm van terapie nog nie oral baie bekend is nie, maar dat dit ’n baie doeltreffende behandelingsmetode is, byvoorbeeld om vir outistiese kinders ’n medium vir self-ekspressie te bied, of vir dementia-pasiënte as ’n hulpmiddel om te onthou. Sy vertel van ’n dementia-pasiënt wat nie die name van haar kinders kon onthou nie, en dat sy en die pasiënt saam ’n liedjie gemaak het van die kinders se name – so kon sy dit onthou, want musiek betrek ’n alternatiewe deel van die brein.
Musiek het ook ’n helende uitwerking op die liggaam. Maritsa het ons laat neurie en ons kon die effek van die vibrasie op ons liggame aanvoel. Ons moes ook aan verskeie emosies deur middel van ons stemme uiting gee. Almal was aanvanklik effens beskroomd, maar het gou lekker saamgegil en gejil.
Die hoogtepunt van die aanbieding was ongetwyfeld die tromsessie. Vir baie van die teenwoordiges was dit ’n nuutjie, maar dit het niemand verhoed om met groot geesdrif te laat waai nie. (Ek self het vroeër in die week twee vingers in ’n swaar hek vasgeknyp, maar het so meegevoer geraak dat ek eers agterna besef het die twee vingers is nou ekstra blou en pynlik.)
Ons het eers almal saam Maritsa se tromritmes gevolg om die gevoel te kry van die diep basnote wat opklink met ’n flink plathand-raps in die middel van die trom, en die ligter, hoër note wat met die vingers aan die kant getik word. Vervolgens is ons in vier groepe verdeel, elkeen met ’n eie ritmiese patroon, en toe moes die vier groepe saam speel: Dit het baie konsentrasie geverg om jou groep se patroon te onthou teen die agtergrond van al die ander, maar wat ’n wonderlike komplekse resultaat! Daarna moes elkeen ’n ritme voorspeel, wat dan deur die ander gevolg is. Ons moes ook verskillende emosies op die tromme uittokkel.
Sonder dat ons dit eintlik besef het, het die ervaring ’n sterk samebindende effek op die groep gehad.
Ten slotte het Maritsa evokatiewe musiek gespeel waarna ons aandagtig met toe oë moes luister. Papier en oliepastelle is uitgedeel waarop ons die beelde, herinneringe of emosies wat deur die musiek opgeroep is, kon uitbeeld in ’n mandala- of sirkelvorm. Dis gevolg deur ’n geleentheid waar dié wat wou, met die groep kon deel wat die musiek by hulle opgeroep het. Diep dinge is deur die musiek en die daaropvolgende tekenwerk losgemaak en kon gedeel word in die veilige ruimte wat geskep is.
Die besigheidsvergadering is gevolg deur ’n lekker gesellige middagete. Baie dankie aan ds Barnard Steyn en sy span vir die puik reëlings van ’n uitsonderlike oggend.
Foto’s: Verskaf