Gedurende die Julie-vakansie het ‘n groep van ons studente saam met Kopanong Studente-bediening uitgereik na ‘n dorpie in Lesotho met die naam Qomo-Qomong en die Lesotho Evangelical Church in die dorp. Qomo-Qomong is ‘n klein dorpie met vriendelike mense en omstandighede wat vir ons klomp stadsjapies maar ’n uitdaging was. In die stad is ons so gewoond aan ‘n konstante gejaag en gedruis, elke minuut van ons lewe beplan en voertuie wat aanhoudend beweeg. In Qomo-Qomong is die teenoorgestelde absoluut waar en kon ons ‘n rus daar ontdek wat nie sommer in die stad te vinde is nie. Die dorpie se naam vertaal rofweg na ‘die bodem van ’n pot’ omdat die dorp omring word deur ’n bergreeks wat die beeld van ’n pot skep. Met steenhuise wat oor die hele berg gebou is en natuurskoon tussen die huise, word ’n beeld geskep wat enige skilder, fotograaf en kunstige sal inspireer. Nog meer vir ons wat gesoek het na die wonder van die Here as ons elke stukkie kunswerk inneem en die Here se hand in elke grashalm en wandelende persoon raaksien.
Met ons tweede dag het ons besoek aan die gemeentelede afgelê en is ons klomp studente nog ‘n les of twee wyser gemaak. Alhoewel die armoede en swaarkry onder die mense duidelik is, is die eerste gebedsversoeke altyd vir gelukkigheid, familie en vriende en die welstand van hul naastes. Nie kos, geld of aardse besittings in oorvloed nie. Alhoewel hulle soms ’n dag se stap van mekaar af woon, kan ons die gemeenskaplike liefde deur elke interaksie ervaar. Geen kommer oor die klein goedjies in die lewe wat dikwels so swaar op ons skouers kan lê nie. Die nodige sal die Here wel voorsien.
Die een dame wat ons ontmoet het, was besig om met haar kleinkinders ‘n dag deur te bring en haar enigste versoek was bloot dat haar kinders en kleinkinders ‘n gelukkige lewe sal hê. ’n Volgende dame het ons gevind waar sy besig is om boontjies voor te berei vir die volgende dag se ete. Haar dogter aan haar sy, besig met die wasgoed. Ons kon nou wel nie Sotho praat nie, maar die interaksie was gemaklik en gesellig bloot oor die vriendelikheid waarmee ons ontvang word. Daar is nooit ’n oomblik verby waar ons nie met vriendelikheid behandel was nie, elke oomblik was ons mede-broers en -susters in die Here.
Alhoewel die mense nie veel het nie, is hulle ryk in die gemeenskap wat hulle omring. Selfs na ‘n dag met die kinders waar ons ‘n paar speletjies gespeel het en ‘n sokkerwedstryd met die tieners deurgewerk het, besef mens net hoe ons die lewe vol pak met onbenullighede wat die lewe swaar maak en te veel verby die mense rondom ons, ons gemeenskap, kyk. Ek het vir die eerste keer ten volle ervaar wat Jaco Strydom met sy boek Leef Lig bedoel het. Ons moet die klein goed en onbenullighede van die lewe eerder neersit, want dít is die swaar goed wat ons verder van die Here en mekaar af dryf.
Deur die rustigheid van die wind wat deur die gras waai, die mooi van die sonsopkoms oor die berge en die vriendelikheid van die mense, ervaar ons ’n werklike samekoms en hoor ons die woorde uit Genesis 1:31: “Toe het God gekyk na alles wat Hy gemaak het, en dit was baie goed.” Die goedheid van die Here, vir ons uitreik na Lesotho, was te vinde in die samesyn met sy mense, die mooi van sy natuurbeeld en die rus wat ons gevind het deur die vriendelikheid van die mense.