Sedert 2015 het die Lesotho Evangelical Church jaarliks ‘n pelgrimstog georganiseer in reaksie op die Wêreldraad van Kerke se oproep aan Christen gemeenskappe en organisasies om hulle uit te spreek teen geweld en onderdrukking. Die pelgrimstog word elke jaar in die laaste week van Oktober gereël om ook saam met Hervormingsdag op die laaste Sondag van Oktober gevier te word.
Die pelgrimstog begin in Modderpoort, by Ladybrand en eindig in Morija, Lesotho. Die roete stem ooreen met die roete wat die eerste drie sendelinge van die Parys Evangeliese Sendinggenootskap (PEMS) geneem het, toe hulle in 1833 deur koning Moshoeshoe in Lesotho verwelkom is. Koning Moshoeshoe het hulle land in Morija gegee vir sendingwerk en dit het later gegroei tot die wording van die Lesotho Evangelical Church.
Die perlgrimstog word Leeto la Toka le Khotso (reis van geregtigheid en vrede) genoem. Tydens die week lange reis na Morija, wat ‘n rivierkruising tussen Suid-Afrika en die Lesotho-grens insluit, stap kerkleiers en gemeentelede ongeveer 100 kilometer en word padlangs gehuisves deur plaaslike gemeentes vir etes en oornagrus. Hulle bid saam as kerk en probeer gelowiges aan te moedig om ‘n getuienis te lewer deur deel te neem aan eredienste en verskeie aktiwiteite ten gunste van vrede en geregtigheid vir Lesotho en die wêreld as geheel. Die hervomingsfees word dan entoesiasties in Morija gevier deur duisende lidmate regoor Lesotho en Suid-Afrika. Die naweek getuig van koormusiek, dans, gebed en prediking, fondsinsameling en vergaderings. Die geleentheid word Leeto la Thapelo (Gebedsreis) genoem.
As deel van Getuienis en Vennote van die NGKV het ons die geleentheid gehad om ‘n kort gedeelte van hierdie reis in Modderpoort saam te stap. Dit was persoonlik betekenisvol om in die voetspore van die eerste sendelinge te loop, as ‘n simboliese herbevestiging van die jarelange vennootskap tussen Basotho en internasionale sendingwerkers. Ons is met groot gasvryheid ontvang en is vriendelik ingenooi deur die sterk gevoel van gemeenskap wat onder my medereisigers gegroei het asook die opregtheid van die gebede wat in die verloop van die reis op verskeie ruspunte gebid is – vir reën en vir die aarde, vir ‘n einde aan geweld, korrupsie en onderdukking, vir armoede, vir geregtigheid en vrede, vir diegene wat ly en vir die voorspoed van Lesotho en sy bure, en van dankbaarheid.
In ons stap kon ons saam gesels oor ons gemeenskaplike struikelblokke en vreugdes wat ons ervaar in die kerk maar ook op grondvlak in ons gemeentes. Ons stap is afgewissel met vreugdevolle sang en danspassies wat as bemoediging vir ‘n uitdagende reis gedien het. Ek het die Here se teenwoordigheid beleef met elke tree deur die geselskap van my medereisigers, die ongelooflike skoonheid van die natuur en deur hul wandel wat ‘n visie van hoop vir Lesotho, die kerk en die wêreld verteenwoordig het. Ons sien met groot verwagting uit om weer volgende jaar saam met ons mede-broers en -susters in Christus te stap, te bid en hande te vat.