Skip to content Skip to sidebar Skip to footer

Kroniese Kronieke – narratiewe van ’n nuwe normaal

Deur dr Suzanne van der Merwe,

besigheidshoof en woordvoerder van Kroniese Kronieke

Crohn-siekte (Inflammatoriese dermsiekte – IBD)

Wanneer die liggaam ’n onvoorspelbare ritme skep

Hierdie artikel bied informasie vanuit Kroniese Kronieke se voortgaande navorsing oor die persoonlike ervaring van kroniese siekte met die fokus op selfbestuur, versorger-ondersteuning, professionele begeleiding en die werks- en gemeenskapsruimtes waarin mense met kroniese siektes leef. Vanuit ’n waardegedrewe raamwerk wat ook binne geloofskringe resoneer, word wetenskap en persoonlike verhale in gesprek gebring.

Dr Suzanne van der Merwe, besigheidshoof en woordvoerder van Kroniese Kronieke in samewerking met Dalene Hartzer (moeder en versorger van haar dogter met Crohn-siekte). Navorsingsdeelgenoot van Kroniese Kronieke

 

Ons Bekkie wat sommer voor ’n spieël in klerewinkels dans –

jy lê nou net kragteloos, soggens tot saans.”

(Blog, 16 November 2025, Hoe leef ’n mens met Crohn se siekte – ’n moeder se oogpunt) – so dig ’n moeder oor haar agtjarige dogtertjie wat met Crohn-siekte gediagnoseer is.

 

Elke persoon se ervaring van inflammatoriese dermsiekte is uniek. Soos met ander kroniese toestande is dit ’n reis wat nie met ander vorme van lyding vergelyk kan word nie. Die verlies is dikwels nie net fisies nie, maar ook sosiaal en emosioneel: die verlies van voorspelbaarheid, die verlies van beheer oor die eie liggaam, en die verlies van vryheid om planne sonder beperkings te maak.

 

Crohn-siekte word gekenmerk deur kroniese inflammasie van die voering van die spysverteringskanaal wat lewenslank in enige deel daarvan kan voorkom – van die mond (waar voedsel ingeneem word) tot by die punt van uitskeiding. Inflammatoriese dermsiekte is ’n outo-immuunsiekte en veroorsaak ’n toestand waar die liggaam se immuunstelsel homself aanval en verkeerdelik gesonde selle van die ingewande teiken. Die inflammasie versprei dikwels in die lae van aangetaste dermweefsel en lei tot swelling en veroorsaak sere en absesse wat uiters pynlik is en lewensgevaarlik kan word indien dit nie betyds en korrek behandel word nie.

 

Die simptome is veelvoudig en sluit onder meer die volgende in: kroniese diarree, abdominale pyn en krampe, onverklaarbare gewigsverlies en verminderde eetlus, bloed in die stoelgang, moegheid en uitputting asook koors, mondsere, peri-anale siekte en dreinering, ontsteking buite die ingewande (van die lewer of galbuise, vel, oë en gewrigte) en kan ook vertraagde groei en ontwikkeling by kinders veroorsaak.

 

Dikwels word die ileum (einddeel van die dunderm) en die begin van die dikderm geraak, maar ontsteking kan regdeur die spysverteringskanaal in segmente gevind word. Die inflammasie strek ook dikwels tot diep in die weefsellae van die dermwand. Hierdie siekte verloop in siklusse wat vinnig of stadiger herhaal. Tydperke van min of selfs geen simptome (remissies) wissel aktiewe siklusse (opvlammings) af en lei dikwels tot mediese ingrypings deur hospitalisasie. Sommige mense kan relatief normaal funksioneer terwyl ander gereelde opvlammings ervaar wat werk, verhoudings en sosiale betrokkenheid beperk. Die spektrum is wyd en die toestand is dikwels onvoorspelbaar.

 

Mediese behandelings wissel van kortikosteroïede (anti-inflammatoriese middels), immuun-onderdrukkers en biologiese terapieë tot chirurgiese ingrypings (om onder andere beskadigde dele van die spysverteringstelsel te verwyder), aminosalisilate (5-ASAs), aanvullings, pynstillers, vitamines, en so meer. Inflammatoriese dermsiekte vereis leefstylaanpassings, want soos met ander outo-immuunsiektes is daar geen kuur nie, hoewel remissie met Crohn-siekte bereik kan word deur effektiewe behandeling en bestuur.

 

Alhoewel inflammatoriese dermsiekte ’n kroniese, ontsteekte toestand van die spysverteringskanaal is, raak dit nie slegs liggaamsfunksies nie, maar beïnvloed ook energie, werkvermoë, sosiale lewe en emosionele welstand. Dit is nie ’n korttermyn “ongemak” nie, maar ’n voortdurende aanpassing van ’n liggaam wat onvoorspelbaar kan reageer. Die siekte kan mense in alle fases van die lewe tref – moontlik voor 30-jarige ouderdom – en die impak is dikwels diep en deurlopend.

 

Selfbestuur speel ’n kernrol om simptome te monitor, mediese advies op te volg, voeding en stres te bestuur, en pro-aktief ondersteuning te soek. Hierdie aktiewe bestuur help om opvlammings te beperk en lewenskwaliteit te behou. Ondersteuning deur die persoon se gesin, kollegas, vriende en professionele hulpgewers is van kritieke belang en ’n begripvolle teenwoordigheid kan dikwels ’n groter verskil maak as advies of goedbedoelde instruksies.

 

Die kroniese aard van Crohn-siekte beteken dat mense wat daarmee moet saamleef, leer om met onvoorspelbaarheid te werk en ’n nuwe normaal te vind. Dit is om veerkragtig te wees wanneer beplanning deur ’n opvlamming ontwrig word en nie moed te verloor nie, maar om elke klein sukses van selfbestuur en -versorging te vier. Om jou liggaam te vertrou wanneer dit wys wanneer dit tyd is om te rus. Binne hierdie begrensings kan mense steeds betekenis, produktiwiteit en sosiale betrokkenheid vind. So dig ’n mamma oor haar dogter se moedige hantering van haar Crohn-siekte:

 

By jou het ek geleer wat dapper is.

’n Moed wat sterker brand as pyn.

Jy dra jou kruis met stil geloof

al voel die pad soms koud en jou krag klein.

 

(2025, Ongepubliseerde gedig)

 

Crohn-siekte beïnvloed liggaamlike funksie asook die ervaring van die daaglikse bestaan. Dit kan ongemak en beperking bring, maar binne hierdie uitdagings ontwikkel selfversorging en nuwe maniere van ondersteuning en gemeenskap. Stabiliteit kan geleidelik herwin word, stap vir stap, soos die liggaam by die nuwe normaal aanpas en die onvoorspelbare ritme wat die siekte bring, aanvaar word.

Oorweeg jy dit om jou verhaal met Kroniese Kronieke te deel?

Kontak dr Suzanne van der Merwe by suzanne@kroniesekroniekeonline.com

Vir meer inligting kan jy hul webwerf besoek.  

Volg hulle op Facebook en YouTube.

Kry die Kroniese Kronieke-boek, Lamentoso, te koop op die aanlyn-winkel.

Volg dié skakels vir meer inligting oor rumatoïede en ander outo-immuunsiektes deur Kroniese Kronieke se webblad te besoek.  

Volg hulle op Facebook (@kroniesekronieke) en YouTube (@KronieseKronieke).

Kry die Kroniese Kronieke-boek, Lamentoso, te koop op die aanlyn-winkel.