Skip to content Skip to sidebar Skip to footer

Kroniese Kronieke – narratiewe van ’n nuwe normaal

Deur dr Suzanne van der Merwe,

besigheidshoof en woordvoerder van Kroniese Kronieke

Rumatoïede outo-immuunsiekte (ROS) 

Hierdie artikel bied informasie vanuit Kroniese Kronieke se voortgaande navorsing oor die persoonlike ervaring van kroniese siekte met die fokus op selfbestuur, versorger-ondersteuning, professionele begeleiding en die werks- en gemeenskapsruimtes waarin mense met kroniese siektes leef. Vanuit ’n waardegedrewe raamwerk wat ook binne geloofskringe resoneer, word wetenskap en persoonlike verhale in gesprek gebring. 

Kroniese Kronieke

Dr Suzanne van der Merwe, besigheidshoof en woordvoerder, in samewerking met me Matilda Swanepoel, navorsingsdeelgenoot en informasiebestuurder.

Wanneer die immuunstelsel meer as beweging steel 

“Daar is bekommernis in my hart,” skryf ’n navorsingsgenoot wat tien jaar gelede met rumatoïede outo-immuunsiekte gediagnoseer is. “Ek ervaar hoedat die progressie van die siekte my lewenskwaliteit bedreig.” (Lamentoso, 2025:8).  

Rumatoïede outo-immuunsiekte (ROS) is ’n komplekse sistemiese outo-immuunreaksie wat die liggaam se immuunstelsel mobiliseer om sy eie gewrigsweefsel aan te val. Dit is nie bloot ’n vorm van gewrigsimmobilisasie of ’n kenmerk van veroudering nie, maar tref mense in enige lewensfase en sonder aankondiging – terwyl vroue meer geraak word. Die ervaring van ROS is veel meer as ontsteekte gewrigte, en beïnvloed onder andere beweging, energie, konsentrasie, die organe, werksvermoë en algehele lewenskwaliteit. 

ROS word gekenmerk deur kroniese inflammasie in die sinoviale gewrigsvliese wat  simptome soos swelling, oggendstyfheid, pyn, uitputting en algemene malaise meebring. Omdat dit ’n sistemiese toestand is, kan sekere organe betrek word, en deur die herhaalde gebruik van kroniese medikasie kan die toestand vererger word. Vroeë diagnose en volgehoue behandeling – insluitend siekte-modifiserende medikasie, biologiese terapieë, fisioterapie en leefstylaanpassings – speel ’n belangrike rol in die beperking van gewrigskade, inflammasie, progressie, lewenskwaliteit en beperkende toekomsprojeksie. 

Die ervaring en verloop van rumatoïede outo-immuunsiekte wissel egter merkbaar van persoon tot persoon. Vir sommige bly die toestand met behandeling relatief beheerbaar. Vir ander ontwikkel dit tot ’n uiters ontwrigtende proses met progressiewe gewrigskade, funksionele beperking en sistemiese komplikasies. Die ervaringspektrum is dus wyd en dikwels onvoorspelbaar. Aangesien elke kroniese siekte sy eie kompleksiteit en traumatiese impak dra, sal hierdie reeks poog om nie te vergelyk nie, maar om elke unieke reis met erns en deernis te belig. Kroniese Kronieke belig die onderwerp telkens vanuit die selfervarings van ons navorsingsdeelgenote.  

Wanneer ’n persoon se immuunstelsel met ROS ’n “burgeroorlog” voer, is dit die fisieke vermoë wat geïmpakteer word en is gereelde besoeke aan die dokter en rumatoloog – met reekse bloedtoetse en aktiwiteitsmerkers wat die siekteverloop moniteer en aandui – noodsaaklik. Sommige hanteer gereeld die oorskakeling na ander medikasie wat algemeen as switch bekend staan (Switch, Bloginskrywing, 13 September 2025). 

Die onsigbare dimensies van hierdie siekte oorskadu dikwels uiterlike simptome. Baie worstel met die onvoorspelbaarheid van die siekte. ’n Oggend wat vroeër vanselfsprekend was, word ’n berekening: Hoe styf is die gewrigte? Hoe lank voor die liggaam loskom? Sal vandag ’n opvlamming (flair) meebring? Het ek genoeg fisieke en emosionele energie om die dag suksesvol deur te sien? Ander ervaar die onhoudbare spanning van skuldgevoelens en die emosioneel-psigiese druk wat ’n werksgemeenskap en selfs ʼn geloofsgemeenskap kan plaas. Sommige worstel met toekoms-onsekerheid. Dikwels is verlies ’n dominante tema. Moontlike hospitalisasie en siekteprogressie skep spanning. Pyn is ’n metgesel wat nie maklik bes gee nie. Onkunde oor outo-immuunsiektes in die algemeen en van ROS in die besonder – etiologie, diagnose, simptome en effek asook behandeling – laat die siek persoon met vele mites waarmee hulle gekonfronteer word en wat hulle moet hanteer.  

’n Lewe met ROS bring sonder aanvraag ’n nuwe normaal wat deur persoonlike selfbestuur hanteer word. Met woorde soos: “Ek moes aanvaar dat my liggaam nou ander reëls het,” word selfbestuur gefokus om rus te beplan, grense te stel, simptome te monitor, medikasie te neem en verantwoordelike besluite saam met die mediese en terapeutiese span te neem. Aanpassing tot ’n nuwe normaal beteken nie oorgawe nie – dit beteken heronderhandeling van moontlikhede. 

Selfbestuur van kroniese ROS vind nie in isolasie plaas nie. Ondersteuning van gesinne, kollegas, werkgewers, versorgers en professionele hulpgewers maak ’n beduidende verskil. In die werksplek kan redelike begrip en tegemoetkoming die uitvoering van werk bevorder. In verhoudings verg dit geduldige verduideliking en aanvaarding dat uitputting nie luiheid is nie en dat ’n goeie dag nie beteken die siekte het verdwyn nie. 

Vir sommige word betekenisvorming en geloof deel van hierdie aanpassingsproses. Nie as eenvoudige oplossing nie, maar as ruimte van teenwoordigheid en volgehoue hoop. “Hier met pyn in ’n hospitaalbed leer ek om te bid,” bely ’n deelgenoot. “Ek bring my vrese en swakhede na Hom wat my rus gee” (Lamentoso, 2025:22). 

Rumatoïede outo-immuunsiekte verander die ritme van leef. Dit kan beperk en wegneem en terselfdertyd ook byvoeg (frustrasie, moedeloosheid en selfs depressie), tog bly die siek persoon meer as die diagnose. Binne dié uitdagings ontwikkel nuwe vorme van veerkragtigheid, nuwe maniere van werk, nuwe definisies van krag. Wanneer inflammasie gesondheid, normaliteit, beweging en selfervaring raak, word waardigheid nie weggeneem nie. Dit word anders geleef. Wanneer gelowige persone deur pyn en lyding hulself op ’n mespunt van stryd bevind, is hul geloofskrag met hierdie woorde deurslaggewend: “Kraak maar. Jy sal my nooit breek (nie).” (Lamentoso, 2025:42).

Oorweeg jy dit om jou verhaal met Kroniese Kronieke te deel?

Kontak dr Suzanne van der Merwe by suzanne@kroniesekroniekeonline.com

Vir meer inligting kan jy hul webwerf besoek.  

Volg hulle op Facebook en YouTube.

Kry die Kroniese Kronieke-boek, Lamentoso, te koop op die aanlyn-winkel.