Deur dr Pieter van Jaarsveld, Emeritus
Die Netwerk vir Gerontologie, ’n onderafdeling van Bedieningsbegeleiding van die NG Kerk Vrystaat wat fokus op betekenisvolle veroudering van mense, het op 11 September 2024 ’n aanbieding gereël in die Engosaal by Westerbloem waar daar aandag gegee is aan ’n baie aktuele onderwerp wat alle seniors raak. By hierdie geleentheid het Lize Vermeulen, ’n regsgeleerde wat ’n spesialis in die hantering van boedels en aanverwante sake is, as spreker opgetree. Die tema van die geleentheid was: Kry nou al jou boedeldokumente in plek – alles wat jy moet weet.
Lize het haar aanbieding begin deur op die belangrikheid te wys dat elke senior nou reeds alles op skrif moet stel van wat hulle wil hê direk ná hulle afsterwe tot en met die afhandeling van hulle boedel moet gebeur.
Lize het die belangrikheid beklemtoon dat seniors met hulle kinders of naaste familie moet praat oor sake soos hulle begrafnis en al die nodige inligting ook op skrif moet stel. Dit behels antwoorde op sake soos of die persoon begrawe of veras wil word; waar die begrafnis- of herdenkingsgeleentheid moet plaasvind; wat die liedere moet wees wat gesing moet word; wie as draers moet optree in die geval van ’n begrafnis; watter begrafnisondernemer gebruik moet word; waar die begrafnispolis gebêre is (indien enige) en wat op die grafsteen gegraveer moet word in die geval waar ’n grafsteen of gedenksteen opgerig moet word. Sake soos die verdeling van los bates moet voor die tyd klaar bespreek of op skrif gestel word om enige moontlike konflik ná afsterwe sover moontlik te vermy.
Lize het dit verder sterk beklemtoon dat elke senior ’n geldige testament moet hê en dat ’n eksekuteur reeds in die testament aangewys moet wees. Dit is belangrik dat, ter wille van die geldigheid van die testament, dit wettig opgestel en deeglik onderteken moet wees. Die aanwysing van ’n eksekuteur skakel latere moontlike konflik tussen begunstigdes van die testament uit. Saam met die testament is dit belangrik dat die volgende dokumente op ’n maklik bereikbare plek gebêre word: Afskrifte van identiteitsdokumente, huweliksertifikate, die huwelikskontrak waar persone op huweliksvoorwaardes getroud is, die egskeidingsbevel (as die senior geskei is), die sterftesertifikaat van die oorledene, die naam, adres en kontaknommer van die mediese dokter, inkomstebelastingbesonderhede, registrasiedokumente van voertuie, die TV-lisensie, vuurwapens, telefoon-, water en ligte-, heffings-, selfone- en enige ander rekeninge wat deur die boedel betaalbaar sal wees.
Wat nog belangrik is, is om enige huur- en verhuringsdokumente, transportaktes, aandelesertifikate, bewyse van bankrekeninge, beleggings, polisdokumente, mediesefonds-besonderhede en pensioenfondse ook by al die ander dokumente te plaas. Indien die senior ’n finansiële raadgewer het, moet die volledige besonderhede van daardie persoon ook op skrif beskikbaar wees.
Wat egter van kardinale belang is, is dat al die nodige besonderhede en kontakbesonderhede van die begunstigdes van die testament op skrif sal wees en in die testament vermeld sal word.
Tensy die eksekuteur ’n bekwame en opgeleide persoon op die terrein van boedelbereddering is, is dit belangrik dat die eksekuteur so ’n persoon amptelik sal aanstel om die boedel te beredder ter wille van ’n spoedige en vlot afhandeling daarvan. Lize het ook genoem dat die persoon wat ’n boedel beredder, kragtens die wet geregtig is op 3,5% van die boedelwaarde. Dit is belangrike inligting om van kennis te neem.
Die sake wat die afhandeling van boedels die meeste vertraag, is ’n moontlike kontanttekort, belastingeise van SARS teen die boedel, die oordrag van vuurwapens en die verkoop van vaste eiendom.
Lize het die volgende slotopmerking gemaak: Dood is onafwendbaar, maar dit bly vir ons as mense ’n abnormale gebeurtenis. Moenie normale gedrag verwag in abnormale omstandighede nie.
Foto bo (verskaf): Lize Vermeulen (spreker), ’n regsgeleerde wat spesialiseer in die hantering van boedels en aanverwante sake.