Dit kan ’n boeregemeenskap breek as die landbou skade ly, omdat daar soveel mense en sekondêre ondernemings van ons voedselbronne afhanklik is. As hierdie bronne dan bedreig word deur verwoestende brande, raak dit nie net boerderyondernemings nie, maar ook die ganse gemeenskap.
Sedert verlede jaar het ook Boshof met hierdie afgryslike ramp te kampe gehad. Die NG Kerk predikant daar, ds Andreas van Rooyen, deel met ons hul ervaring: “Almal het verlede jaar in die nuus gesien dat daar tydens Oktober groot brande in die Boshof distrik was. Die brande het aanvanklik die gemeente en gemeenskap geskok, want dit het nog nooit vantevore só groot gebrand nie.
Hulp het genadiglik van oral af ingestroom en ongekende bydraes is ontvang met die gevolg dat groot dele daarvan na die droogte-geteisterde Karoo gestuur kon word.
Die distrik het intussen baie goeie reën gehad en dit het gelyk asof alles weer terugkeer na normaal; dat daar weer hoop en nuwe kanse is. Ons het uit dankbaarheid ’n gemeenskaplike dankdag vir reën gehou en God vir Sy genade bedank vir alles wat so goed uitgewerk het”.
Rikus vertel verder: “Toe gebeur die ergste – iets wat niemand verwag het nie – op ‘n winderige 30 Mei vanjaar steek ’n Eskom-paal die veld aan die brand en 18, 000 hektaar en 14 plase later word die brand eers onder bedwang gebring. Dit was baie kommerwekkend, want hierdie brand het voor die winter plaasgevind en dit was nog ses maande voordat ons reën kon verwag.
Hulp kom op ’n klein skaal in en boere help mekaar met weiding, maar nog is dit nie die einde nie. Elke maand (insluitend hierdie maand) is daar iewers in die distrik ’n brand, word nóg ’n plaas vernietig, meestal as gevolg van iemand se agterlosigheid.
Die mees onlangse geval was die oggend en laatmiddag van Vrydag 13 September, toe daar brande reg langs die teerpad begin opvlam het terwyl die wind lelik waai – amper asof iemand dit daar gestig het.
Almal is nou al paraat en weet hoe gevaarlik vuur is, gevolglik word die brandverspreiding vinniger gekeer voordat te veel skade berokken is. Tog verloor etlike boere tussen 10 en 40% van hul weiding. Van verlede jaar Oktober af het honderde beeste en skape asook miljoene rande se wild gevrek as gevolg van die brande.
Die gemeenskap is diep bekommerd en wonder of die volgende ramp ons dalk gaan breek. Kan mens weer opstaan en herbou na soveel skade? Vir die gemeenskap beteken dit ook dat diegene wat altyd ’n groot bydrae gelewer het, wat altyd kon help fondse genereer, ook nou in die knyp is.
Ons hoop en bid vir ’n goeie reënseisoen; dat die veld vinnig sal herstel en daar nie gou weer brande sal uitbreek nie. Deur die genade van die Here is ons nog hier en met Sy genade sal ons hier bly en vasbyt”..
