Skip to content Skip to sidebar Skip to footer

Carin se droom – ’n Retraite vir vroueleraars

“’n Mens se wêreld raak vinnig klein en jy verloor perspektief totdat jy hoor daar is ander vroueleraars wat ook daarmee worstel.” 

Ds Anneri Viljoen-Potgieter

Organiseerder van die onlangse retraite vir vroueleraars in Bloemfontein

Vanaf Maandag 26 Junie tot Woensdag 28 Junie was ’n groep vroueleraars bevoorreg om ’n besondere (en broodnodige!) retraite wat spesiaal op húl behoeftes gerig was, te kon bywoon. Dit het plaasgevind in Bloemfontein by die pragtige Toscana Estate-gastehuis wat omring word deur die rus en vrede van hul ruim en skilderagtige tuin – die ideale plek dus vir so ’n retraite.

Die aanbieders van hierdie verrykende geleentheid was prof Yolanda Dreyer, dosent en voorsitter van die Departement Praktiese Teologie aan die Fakulteit Teologie van die Universiteit van Pretoria met pastoraat as subdissipline, en Magdaleen du Toit, sameroeper van die Spiritualiteit Netwerk en ’n geakkrediteerde spirituele begeleier.

Ons het by die organiseerder van die retraite, ds Anneri Viljoen-Potgieter, meer gaan uitvind oor hoe dié briljante idee vir ’n retraite, spesiaal vir vroueleraars, ontstaan het.

“Die idee hiervoor het by wyle dr Carin van Schalkwyk, bekende en geliefde leraar van die NG Gemeente Philippolis (wat op 7 Maart 2022 oorlede is), ontstaan.

“Dit was haar droom om ons vroueleraars bymekaar te kry en te gesels oor die seer wat ons in die bediening ervaar, die uitdagings daarvan en hoe ons konstruktief daarmee te werk kan gaan.

“Dit was die tweede keer dat so ’n retraite aangebied is; die eerste keer was in 2018. Carin se siekte en die pandemie het egter die beplande jaarlikse aanbieding daarvan effe in die wiele gery, maar hierdie retraite was op ’n manier ’n verlengstuk van haar droom wat sodoende kon bly voortleef en dankbaar onthou en gevier is.” 

Wat was die doel van hierdie spesifieke retraite?

“Die doel van hierdie retraite was dat vroueleraars bedien moes word. Hulle is altyd daarop ingestel om ander te bedien, maar tydens hierdie retraite is daar ’n ruimte geskep waar húlle vir ’n slag bedien kon word – hulle was dus aan die ontvangkant in plaas van die bedieningskant daarvan.

“Dit het aan hulle die geleentheid gebied om pastoraal versorg te kon word; dit het ’n geleentheid gegee waarin daar vrylik in ’n veilige ruimte gepraat kon word oor sake soos die vele uitdagings van die bediening.

“Vroueleraars baat daarby as hulle hoor: ‘Ek is nie die enigste een met wie hierdie goed gebeur nie.’ Daar is ongelooflik baie lyne wat getrek kan word deur ons almal se stories. ’n Mens se wêreld raak vinnig klein en jy verloor perspektief totdat jy hoor daar is ander vroueleraars wat ook worstel met die uitdagings waarmee ek te kampe het.

“Ons ruil ook ‘best practices’ uit, né. Om te kan sê: ‘Weet jy wat, ek het ook daardie probleem gehad, maar hier is dit soos ’n mens dit kan benader en hier is dit soos ’n mens dit kan hanteer.’”

Die aanbieders van die retraite was ook besondere vroue, naamlik prof Yolanda Dreyer en Magdaleen du Toit. Albei van hulle het al diep en betekenisvolle spore in die vroueleraarswêreld getrap. Vertel vir ons meer van hulle.

“Prof Yolanda Dreyer was die eerste vrouedosent van die Fakulteit Teologie en Godsdiens aan die Universiteit van Pretoria (UP) en die eerste vrou wat as predikant van die Afrikaanssprekende kerke in Suid-Afrika georden is. Dit was in 1989. Sy is ook ’n hoogs gekwalifiseerde pastorale terapeut en het ’n graad daarin verwerf aan die Universiteit van Princeton in die VSA. (Lees meer van haar hier.)

“As baanbreker het sy dus ook al ’n pad op praktiese vlak gestap. Sy het ons gehelp om die retraite-sessies sinvol te kon inkleur. Sy het ons in vele opsigte begelei en gesorg dat die vroue pastoraal versorg is.

“Magdaleen du Toit is geskool in retraites en doen mandala- en kunswerk. Sy het ’n ongelooflike skeppende gees wat ons gehelp het om deur kunswerke en interessante maniere, soos onder andere deur middel van neurografika, jou te help lei na vrede binne jouself; om ’n oop gemoed te ontwikkel ten opsigte van probleemoplossings.

“Sy maak dus van kuns gebruik om ’n versorgingselement by spesifieke teikengroepe, soos in hierdie geval vroueleraars, te help tuisbring.”

Wat was die onderwerpe wat bespreek is en wat was die hooffokusse daarvan? Hoe het die vroueleraars dit ervaar?

“Die hooffokus was die versorging van vroueleraars. Yolanda het ’n video oor ’n pottebakker gebruik om die dagwydings vir die week mee te open. Haar gesprekke het dan ook baie daarby aangesluit.

“Die vroueleraars het die retraite baie positief ervaar en was baie dankbaar oor die waarde wat dit vir hulle persoonlik kon toevoeg.

“Een vroueleraar het aan my gesê: ‘Die sisterhood wat tydens die retraite ontstaan het, het ons almal laat besef dat ons nie alleen staan nie. Dit was goed om te hoor dat daar ook ander is wat sukkel waarmee ek sukkel.’

“’n Ander een het weer gesê: ‘Ons het ’n groot behoefte daarna om gereeld bymekaar te kom en mekaar deurentyd te ondersteun en nie eers te wag tot ’n volgende retraite nie.’”

“Die aanbieders was skitterend met die inkleding van hierdie retraite, veral ten opsigte van die begeleiding van die prosesse; ons was in baie goeie hande gewees.”

Lees ook die artikel wat daaroor in Kerkbode verskyn het.

Foto’s verskaf:  Die retraite vir Vroueleraars te Toscana Estate-gastehuis