‘n Diamant is die kosbaarste, skitterendste en hardste edelgesteente wat bekend is en bestaan uit kristallyne koolstof, gewoonlik kleurloos of getint en deursigtig of deurskynend. ‘n Diamant is ʼn vorm van gewone koolstof wat onder geweldige hitte en druk gekristalliseer het. Dit word verder geslyp in verskillende vlakke en fasette. Wanneer jy dit bekyk, en draai, en vanuit ‘n nuwe hoek kyk, slaan dit opnuut jou asem weg. Soos Karisma… haar gunsteling sê-ding is nie verniet “Veni, vidi, vici (‘I came, I saw, I conquered’)” nie.
Karisma Coetzer (of du Pisanie soos die Vrystaat-kerk haar ken) was vir die afgelope ses jaar in diens van die Sinodale kantoor. Sy is vir baie mense verskillende dinge, elkeen wat haar pad kruis, beleef ‘n ander faset van hierdie diamant. Maak nie saak uit watter hoek jy kyk nie, sy straal blink lig uit!
Waar kom sy vandaan?
Karisma is in Bethal, Mpumalanga gebore as een van drie kinders. Kort na haar geboorte het die gesin na Ermelo verhuis en kort daarna na Rustenburg waar hulle vir die volgende 21 jaar sou bly. Hierna verlaat sy die nes en verhuis na Bloemfontein waar sy vir die volgende ses jaar sou woon. Ná haar huwelik met Hermanus, verhuis sy na Randfontein waar hulle tans woon. Ons was bevoorregd dat Karisma in diens van die Kerk was tot onlangs, en hoewel sy in Gauteng gaan woon het, het ons haar gereeld hier by die kantoor gesien.
Karisma was woelig. Op skool in Laerskool Vastrap en Bergsig Akademie was sy sportmal en verwerf benewens die eerste span op skool, ook provinsiale kleure in netbal. (As jy my vra, het sy doel gespeel; dit pas by haar persoonlikheid.) Sy het ook aan atletiek deelgeneem en kon ‘n werpskyf vér deur die lug laat trek.
Toe die dinge van ‘n kind verby was, het Karisma haar op studies toegelê, met baie goeie gevolg. Sy behaal die BCom-graad in finansiële bestuur aan UNISA (geen geringe prestasie, soos enige oud-UNISA student sal beaam), asook ‘n sertifikaat in kantoorbestuur. Wat my van Karisma opgeval het (nog ‘n faset van daardie diamant), is haar gesonde nuuskierigheid. As jy gedink het met dié kwalifikasies sou jy ‘n vaal kantoordame met ‘n stel syfers voor haar aantref, moet jy weer dink. Sy het ‘n natuurlike aanvoeling vir die gedragswetenskappe en het ‘n groot belangstelling in mense, veral oor hoekom hulle doen wat hulle doen. Vandaar ‘n kursus in Bybelse Berading, ‘n sertifikaat in lewensafrigting op gevorderde vlak. Nog is dit nie die einde nie – sy beplan om in 2023 in te skryf by die International Society of Neuro-Semantics om haarself te bekwaam as ‘n gesertifiseerde Meta-afrigter.
Karisma het, wat beroepe betref, reeds uitgebreide blootstelling. Sy het as student as verkoopsdame in winkels gewerk, in kantore van finansiële instellings, is later as ontvangsdame by ‘n prokureursfirma aangestel en uiteindelik by die Sinodale kantore van die NG Kerk in die Vrystaat. Aanvanklik was sy bestuurder van die kantoor van Vennote in Getuienis en later skakelbeampte in die departement kommunikasie en bemarking. Tans wag sy dat die volgende hoofstuk in haar loopbaan oopvou.
Sy is uitermate geseënd, nie net met intelligensie nie, maar ook mensekennis, buitengewone wysheid en onderskeidingsvermoë. Wanneer jy haar soek, sal jy haar nooit verveeld of vervelig vind nie. Sy hou haar besig met TV-reekse, fliek, lees, legkaartbou (ek vermoed daardie met 5000 en meer stukke). Gelukkig is dit ook vir haar lekker om speletjies saam met haar man te speel. Ek glo dis vir hom ook lekker. Sy beskryf haarself as kompeterend (maar gesond – ja Karisma). Hulle hou van kamp, visvang en bordspeletjies.
Mense kom en gaan, die lewe is maar een lang afskeid. Karisma se weggaan van die Sinodale kantoor is egter meer as dit. Sy vertel met daai stout glinster in die oog, wat eie aan Karisma is, hoe sy tydens die onderhoud vir haar aanstelling by die Sinodale kantoor reeds gevoel het dat hierdie die plek en werksomgewing vir haar is. Daarom dat sy vooraf uitgevind het dat haar nuwe kantoorhoof, dr Gideon van der Watt, van koekies en lekkers hou en ‘n punt daarvan gemaak het om dit in die onderhoud te noem. So ken ons Karisma. Sy werk altyd met ‘n plan.
Sy beskryf haar kollegas by die Sinodale kantore so: “So word ek toe aangestel en dit vat my skaars twee weke om te ontdooi – ek is so bly ek het so vinnig ontdooi, ek sou te veel gemis het saam met hierdie fantastiese groep mense as ek nié ontdooi het nie! Ons is ‘n span mense wat saam werk, vyf dae van die week, agt ure per dag. Hoe kan dit anders as om mekaar eerder as familie as kollegas te begin sien?”
“By elkeen het ek ‘n lewensles geleer. En ek dink ek sal nooit genoeg kan dankie sê nie.” (En ons by jou Karisma, dink ek by myself.)
Wat staan vir Karisma uit? Die vriendskappe wat sy gebou het, wat sy alles ontvang het in haar tyd hier. Die reël van funksies en die Sinodale konferensie by Summerwood saam met Lisma en die res van die span. Die 2022 Sinode met al die praktiese en tegniese reëlings wat daarmee saamloop. Ook die twee besoeke aan Stilbaai vir die Missie Japan-vergaderings.
Karisma se boodskap aan almal wat hier agterbly: Hou jouself en jou kollegas verantwoordbaar, maar moet nooit vergeet om “grace” vir mekaar te hê nie. Werk saam, maar lag ook saam. Los die werk by die werk! Ag, en nog ‘n hele klomp ander dinge…
Karisma, ons boodskap aan jou: soveel mense, soveel mense. Maar aangesien dit my voorreg is om hierdie afskeidswoord te skryf, gee ek vir jou die Ierse seënbede:
Slaan jou oë op na Hom toe
Laat Sy wind jou seile bol met krag
Laat Sy son se strale jou begroet
Sy reën jou lande daagliks voed
Mag sy vrede oor jou wees
Sy genade oorgenoeg
Vir elke dag
Ons groet jou Karisma, elkeen met ons eie herinnering aan hoe jy ons lewens aangeraak het. Maar ook saam met jou en Hermanus opgewonde oor dit wat wag.
Karisma. Wat ‘n mens. Wat ‘n diamant. Wat ‘n voorreg.