“Hy het met sy Bybel onder ’n boom gaan sit, dit van blydskap gesoen en dadelik daarin begin blaai. Met ons vertrek was hy steeds besig om daaruit te lees – in sy eie taal!”
| Ds Dylan Allen
Die NG Kerk Vrystaat het in die 2022/23-boekjaar ‘n bedrag van R30 000 aan elkeen van die 15 Vrystaatse ringe beskikbaar gestel om daarmee gesamentlike ring-projekte te ondersteun. Die versoek was dat diens in samewerking met ‘n sinodale bediening gelewer moes word.
“Wat die Ring van Valsrivier betref, is daar by die sinodale bediening Vennote in Getuienis ingeskakel,” vertel ds Dylan Allen, skriba van die Ring van Valsrivier en predikant van die NG Gemeente Bothaville.
Vir die Ring van Valsrivier is Christus se opdrag om na die nasies te gaan en hulle God se dissipels te maak, van groot belang. Daarom is die fonds ten bate van hul Caprivi-projek aangewend. Ons het meer gaan uitvind oor hul uitreik soontoe verlede jaar.
“Om te probeer vertel wat die bediening in die Caprivi behels en wat dit vir elkeen wat betrokke is beteken, is ’n saak van onmoontlikheid,” vertel Dylan, “maar ek gaan probeer …
“Ons het vuur en vlam daar gearriveer – opgewonde om as gestuurdes vir die Here te werk. Ons het weggespring met ’n besoek aan ’n jeugsorgsentrum, die Zion Kinderhuis, waar ons met talle jongmense van verskillende herkomste in gesprek was. Ons het saam met hulle gesing, speletjies gespeel en ook aan hulle elkeen hul eie kombers as geskenk gegee. Hul dankbare glimlagte oor dié welkome meevallertjie sal ons altyd bybly.
“Vir die volgende vier dae het ons van dorpie tot dorpie gemeentes besoek; twee per dag. Die hartlikheid waarmee ons ontvang is, was werklik aangrypend. Ons is oorval deur verwelkomingsliedere, handeklap en drukkies. Dit alles het ons diep onder die indruk van hul opregte en passievolle liefde vir Christus gebring. (Dit het my nogal laat wonder of ons dieselfde beeld van vreugde en blydskap oordra as ons besoekers in ons midde ontvang …)
“Die doel van ons gemeentebesoeke in die Caprivi was nie soseer om praktiese werk te gaan doen nie, maar om tyd saam met hulle deur te bring. Danksy die goeie verhoudinge wat oor die jare tussen ons opgebou is, was dit moontlik om as gemeenskap van gelowiges met vrymoedig ons bymekaarkoms te vier.
“Tydens hierdie besoeke is daar vir ons in die tradisie van die Losi-kultuur gesing en gedans; dit slaan jou asem weg! Ons het saam uit die Woord gelees, ’n kort boodskap gedeel en sodoende ons eensgesindheid as kinders van die lewende Here bevestig.
“Soos altyd, is ons ook versoek om ’n Afrikaanse lied vir die Capriviane te sing. Al was dit nie vir almal verstaanbaar nie, het elkeen van ons in die aanbidding daarvan gedeel. Ons het dikwels dieselfde lied gesing en alhoewel dit in elkeen se eie taal was, het dit ons as een Liggaam van Christus saamgesnoer op ’n aangrypende manier.”
Dit was egter nie al wat in hierdie tyd gebeur het nie, nè? Vertel asseblief meer.
“Ja-nee, ons het ook die voorreg gehad om aan elke lidmaat in elke gemeente Bybels te skenk. Die mense was ekstaties-opgewonde daaroor. Dit het vir hulle ontsettend baie beteken. Een van die mans het ná die tyd na my toe gekom en vertel dat, alhoewel hy nie ’n lidmaat van die gemeente is nie, hy net gevoel het dat hy dié dag moes kom. Hy het gevra of ek vir hom ook ’n Bybel het. Gelukkig was daar ekstras en kon ek vir hom ook een gee. Hy het met sy Bybel onder ’n boom gaan sit, dit van blydskap gesoen en dadelik daarin begin blaai. Met ons vertrek was hy steeds besig om daaruit te lees – in sy eie taal! Dit was aangrypend om dit te sien.
“Ons kon ook met behulp van opgeleide mense skitterende mediese sorg aan van die mense daar verskaf. Alhoewel dit net tydelike verligting bied, het dit steeds ’n enorme uitwerking op die gemeenskap gehad, veral in terme van die gesindheid onder mekaar.
“Ons jeugspan het ook spesiale aandag gegee aan die jeug van die verskillende gemeentes. Hulle het veral die verskillende speletjies baie geniet.
“Terselfdertyd was daar ook geleentheid vir die geestelike span om in gebed saam met elkeen te gaan wat ’n behoefte aan voorbidding gehad het. Die behoefte aan gebed was baie groot. Covid-19 het veroorsaak dat ons as medegelowiges mekaar vir ’n paar jaar nie kon sien nie. Gebed het nie net ’n prominente rol gespeel in die voorbereiding tot die uitreik nie, maar ook ten opsigte van die uitvoering daarvan.”
Hoe is die uitreikspan geseën met hierdie ervaring?
“Die uitreik was nie net tot seën van die mense na wie ons uitgereik het nie, maar ook vir elkeen wat deel van die uitreikspan was.
“Vanaf die oggendwyding vir die dag wat voorlê, tot die aandgodsdiens waarmee ons die dag onder die maan en sterre afgesluit het, was dit duidelik dat ons daagliks al hoe meer besef het waarvoor ons werklik gekom het.
“In alles wat ons gedoen het – vanaf kosvoorbereiding tot ’n bootrit op die Kwandorivier – het ons net al hoe meer besef dat ons daar was as gestuurdes; om die evangelie van Jesus Christus oor te dra, uit te leef en in gemeenskap met ons medegelowiges te vier.
“Terugskouend kan ’n mens nie anders as om te glimlag nie; God hou Self sy kerk in stand. Dit is nie verbonde aan landsgrense nie, maar strek oor die hele aarde. Wat ’n vreugde om ook deel van Sy kerk in die Caprivi te kan wees!”
Wat is die grootste uitdaging waarmee julle in die ring te kampe het?
“Dit bly maar logistieke probleme. Omdat die gemeentes in ons ring relatief ver uit mekaar geleë is, is dit soms moeilik om doeltreffend te beplan. Dit beteken dat daar minder geleenthede is om by mekaar uit te kom, maar wanneer ons wel bymekaarkom, is daar kosbare samewerking. En dit is hiérdie positiewe gesindheid wat tel.”
Kontak ons:
| Ds Dylan Allen
| 082 872 4921
| dylanallen265@gmail.com
| verskaf: Die Caprivi-uitreik.