Skip to content Skip to sidebar Skip to footer

Die Ring van Welkom

Deur ds Philip en Heidi McLaren van NG Gemeente Bedelia, Welkom

Koud maar tog te lekker

Jongmense verstaan nie die woord koud as dit kom by kuier en kampeer by ATKV Buffelspoort nie. Die gemeente van NG Bedelia kampeer al vir meer as 10 jaar elke wintervakansie by Buffelspoort. Die skole met al die aktiwiteite maak dit moeilik om, soos in die verlede, die jaar met ‘n jeugkamp te begin. Hier waar ons in die koue Vrystaat bly, het ons besluit om soos swaeltjies op trek te gaan en by die warm waters van die noorde te gaan kuier. Hierdie jeugkampe het dit met die hulp van die Vrystaat Sinode dit moontlik gemaak om wyer as net die gemeente te betrek. 

Jongmense in die omgewing en in die Ring van Welkom het 2023 die kuier by Buffelspoort meegemaak. Hierdie kuier is seker een van die hoogtepunte in die jongmense se lewe. Ons is gelukkig om met Heidi McLaren, jeugwerker van die Vrystaat en Coba Swart, maatskaplike werker van Welkom, die kampe aan te bied. Ds Philip McLaren hanteer ook die belydenisgroep met persoonlike aandag en geloofsdeling wat hulle voorberei vir hul belydenisaflegging in hul gemeentes.

Die kamp word gewoonlik met ‘n aktuele kamptema aangebied wat relevant is in die tyd waarin jongmense hulle bevind. In 2023 was ons tema “Om te lewe is vir my Christus” wat verhoudinge in gesinne en die jongmenslewe insluit. Hierdie jaar, 2024, se tema leer ons om emosies te hanteer. Die oord bied vir ons die nodige geriewe om in ‘n saal te kuier waar ons kan sing en lesings aanbied.

Verder het ons die geriewe van ‘n kombuis om lekker winterkos in spanverband te maak. Die jongmense kuier ook lekker saam in die warmbad, swembaddens asook in die verhitte borrelbaddens. Daar is ook glybane wat die geharde Vrystaters aandurf.  Wat méér wil ‘n kind in die winter beleef? Ja, en dan is daar nie ‘n pa of ‘n ma of ‘n boetie wat pla nie. Toesig is daar genoeg, maar met die nodige begrip en baie vrye tyd vir lekker kuier saam met ander jongmense wat die Here met hulle lewe wil verheerlik.

Hierdie jaar, 2024, kuier ‘n kinderhuis van Kroonstad ook saam met die Ring van Welkom. Ons is dankbaar vir finansiële ondersteuning van die Vrystaat Sinode wat dit vir ons moontlik maak om nog sulke kampe vir kinders aan te bied. Voorbidding is ons wagwoord en geloof is ons vertrekpunt, sodat die Here al die eer sal ontvang.

Kontak

Vir meer inligting kan ds Philip McLaren, Ringsvoorsitter, by mclarenphillip9@gmail.com gekontak word.

 | verskaf deur: Ds Philip en Heidi McLaren