Deur Mariëtte Odendaal
’n Hart vir ons gebroke kinders
Ds Johan David
Leraar: NG Kerk Bloemfontein-Wes
Die NG Kerk Vrystaat het in die 2023/24-boekjaar ‘n bedrag van R30 000 aan elkeen van die 15 Vrystaatse ringe beskikbaar gestel om gesamentlike ringsprojekte te ondersteun. Die versoek was dat diens in samewerking met ‘n sinodale bediening gelewer moes word.
“Wat die Ring van Waterbron betref, is daar by die sinodale bedieninge Bedieningsbegeleiding, Diens van Barmhartigheid en Vennote in Getuienis ingeskakel,” vertel Marie Zietsman, ringskriba van die Ring van Waterbron. Hulle ring ondersteun onder andere die bediening van Christelle Trollope, jeugwerker by Ons Kinder- en Jeugsorgsentrum, verbonde aan die NG Kerk Bloemfontein-Wes. Ons het meer gaan uitvind by hul leraar, ds Johan David.
Johan, Christelle doen besondere werk in Bloemfontein. Vertel ons meer daarvan.
“Ja, Christelle se toegewyde werk is tot groot seën vir baie stukkende mense. Sy bedien tussen 100 en 150 kinders op ‘n weeklikse basis. Dit vind gewoonlik in klein groepies van tien tot veertien op ‘n slag plaas, maar dan is daar ook individuele kontak met elke kind.
“Ten spyte van die intense seer wat dié kinders al deurgemaak het as gevolg van talle teenslae in hul lewens, was dit in sommige gevalle al Christelle se voorreg om te sien hoe die Heilige Gees in so ’n kinderhart werk.
“Wanneer ’n kind deur ’n proses van innerlike genesing gaan en geestelik begin groei, ervaar Christelle die opregte en seënende hand van ons Hemelse Vader in haar werk.
“Dit is ook haar hartsbegeerte dat sy uiteindelik sal kan sien dat elkeen van hierdie kinders opreg lief is vir die Here en Hom volkome met hul lewens vertrou.”
Wat behels Christelle se werksaamhede alles by Ons Kinder- en Jeugsorgsentrum?
“Christelle se betrokkenheid by die Kinder- en Jeugsorgsentrum is veral gefokus op die geestelike versorging van die kinders en die jeug. Soos wat verhoudings gebou word met kinderversorgers, bied dit ook geleenthede om na hulle uit te reik. Die Woord word onder andere aan hulle verkondig.“Hulle het ook ’n groot behoefte daaraan om bemoedig en ondersteun te word, veral waar hulle ’n verantwoordelike en soms moeilike taak het wat op hulle skouers rus.
“Gedurende Covid het sy ook by die sorgverlaterskamp van Engo betrokke geraak. Hierdie kamp word aangebied vir die kinders wat die sorg van kinder- en jeugsorgsentrums verlaat en die volwasse wêreld betree. Christelle woon hierdie kamp vanjaar vir die derde keer by.
“Tydens hierdie kamp word die kinders voorberei en ingelig omtrent die lewe buite die kinder- en jeugsorgsentrums. Christelle is dan verantwoordelik vir die geestelike versorging van die kinders, asook die aanbieding van die geestelike programme. By hierdie geleentheid word daar ook groot klem gelê op die belangrikheid van ’n verhouding met die drie-enige God.
“In hierdie tyd word daar dan uitgereik na behoeftige mense waar die sorgverlaters bewus gemaak word van God se omgee vir elke mens, asook van hulle verantwoordelikheid om vir ander om te gee.
“Christelle bied in die saal van Ons Kinder- en Jeugsorgsentrum geestelike programme volgens oudersdomsgroepe aan. Vir die kinders tussen die ouderdom van vier en twaalf jaar word ’n program aangebied waar sy meer fokus op Bybelkennis, die sing van liedjies, rollespel, speletjies en ander aktiwiteite.
“By die jeuggroepe word relevante temas bespreek, video’s gekyk en lekker gesing.
“Met al hierdie aanbiedings is die bou van verhoudings met die kinders baie belangrik. Hierdie kinders sukkel om verstaanbare redes met verhoudings en sonder ’n behoorlike verhouding is dit moeilik om die evangelie met hulle te deel.
“Dit is ook baie belangrik dat jy as aanbieder dít moet uitleef wat jy hulle leer, aangesien hulle meer waarneem as luister. Met hierdie soort bediening is dit dikwels twee treë vorentoe en drie, of selfs vier, treë terug. Dit is ’n baie lang proses, maar tog vind daar stadig maar seker geestelike groei plaas.
“Gedurende die week is daar ook geleentheid vir pastorale gesprekke met die kinders, die jeug en die kinderversorgers. Christelle getuig dikwels van die vreugde as ’n kind sekere situasies met haar deel; dat hulle dan saam daaroor kan bid. As daar dan ’n antwoord of ’n oplossing vir daardie probleem kom, beleef die kind groot verligting en omgee.”
Johan, die onvermoë om te vergewe en diep emosionele pyn is algemene emosies wat dikwels deur die jeug beleef word. Dit laat hulle onttrek van mense, en hulle neem dan ook nie aan aktiwiteite deel nie. Hoe hanteer Christelle dit?
“Gedurende hierdie jaar het Christelle die voorreg gehad om vir ’n klein groepie ’n kursus aan te bied oor onvergewensgesindheid. Dit was baie bevredigend om te sien hoe hierdie jongmense aan die gesprek deelgeneem het en kon vry kom van jare se skuldgevoelens.
“Van hierdie kinders het daarna saam met Christelle uitgereik na die kinders by Sunflower Children’s Hospice waar hulle haar ondersteun het om vir kinders daar ’n program aan te bied. Die kindertjies het gesing, daar is vir hulle ’n storie gelees en met hulle gespeel.”
Dis altyd ’n riem onder die hart as gemeentes by so iets begin betrokke raak. Hoe het julle by Christelle se bediening betrokke geraak?
“Christelle het een van die omgeegroepe van die NG Kerk Bloemfontein-Wes besoek, waarna hulle besluit het om by Ons Kinder- en Jeugsorgsentrum betrokke te raak. Die omgeegroep het ’n tee vir die personeel daar gereël; ’n gebaar van omgee en liefde wat baie deur die personeel waardeer en geniet is.
“Vanjaar was daar ook ’n groot behoefte aan ondersteuning van jongmense wat Ons Kinder- en Jeugsorgsentrum verlede jaar verlaat het. Die gemeente het kospakkies voorsien en Christelle het hulle emosioneel en geestelik ondersteun. Dis met groot dankbaarheid dat ons kan getuig dat hulle elkeen ’n werk gekry het en dat dit met hulle goed gaan.
“Christelle verteenwoordig ook die NG Kerk Bloemfontein-Wes op die vakkundige en bestuursvergaderings van Ons Kinder- en Jeugsorgsentrum.
“Dit is vir haar ’n groot voorreg om haar roeping by Ons Kinder- en Jeugsorgsentrum uit te leef. Soms is daar uitdagings, maar met elke uitdaging kom daar ook weer ’n groot seën.”
Watter voordele lewer dié ringsprojek?
“Hierdie bediening vorm ’n integrerende deel van Ons Kinder- en Jeugsorgsentrum se poging om ’n veilige ruimte vir die kinders te skep. Die kinders wat bedien word, is afkomstig uit verskillende dele van die Vrystaat en waarskynlik ook van buite die provinsie. Baie van die kinders kom uit die haglikste omstandighede denkbaar.
“Dié ringsprojek dra daartoe by dat hierdie kinders nie net fisies ’n veilige tuiste kry nie, maar ook holisties bedien word. Daar word baie op hul geestelike versorging, pastorale begeleiding en emosionele ondersteuning gefokus. Dit alles is ’n poging om die kinders te begelei na genesing met ’n nuwe uitsig op die toekoms.
“Die ringsprojek is dus daarop gerig om Jesus se direkte opdrag uit te voer, naamlik om na kinders (in hierdie geval kinders wat deur die samelewing verwerp is) om te sien en hulle te versorg.”
Watter uitdagings beleef die ringsprojek?
“Die geestelike en emosionele bediening aan die kinders van Ons Kinderhuis Jeugsorgsentrum word deur Christelle in samewerking met die jeugbediening van die NG Kerk Bloemfontein-Wes behartig.
“Die finansiële impak van die vergoeding aan Christelle is ’n geweldige uitdaging vir die gemeente. Aangesien hierdie bediening geen potensiaal het om fondse te genereer nie, kom Christelle se vergoeding grootliks uit die gemeente se fondse. Tans is die gemeente self in ’n finansiële oorlewingstryd gewikkel wat die finansiering van hierdie onontbeerlike bediening ’n groot uitdaging maak.”
Hoe is die fondse van die R30 000 aangewend?
“Die totale bedrag is ten opsigte van Christelle se vergoeding aangewend. Sonder die GOUF-fonds sal bogenoemde bediening nie meer moontlik wees nie.
“Die projek dra ’n baie sterk getuienis-, barmhartigheids- en uitbreidingskarakter. Daarom is ons van mening dat projekte soos hierdie die ware hart van GOUF openbaar.”
Kontak
Kontak Johan David by lewemetrede@gmail.com vir meer inligting.
| verskaf